My seuntjie berei hom tans voor vir sy heel eerste konsert. Elke middag vul sy klavierspel ons huis met klanke, sommige hard, ander sag.
Maar hy oefen nie net om die wit en swart klawers af te druk nie; hy leer ook wat die belang van die tussenin-pouses is. Hoe om tussen die note te “vertoef”. Ook hoe om daardie stil oomblikke te eerbiedig wat in die bladmusiek opgeneem is en deur rustekens aangedui word.
Maar luister mooi: Al dié pouses verteenwoordig nie bloot die afwesigheid van klank nie, dit dra ook ’n diep betekenis. Stilte in klavierspel is nie ’n leë ruimte nie, maar ’n sensitiewe draer van ritme, van gevoel, van teenwoordigheid.
My seuntjie leer dit is nie net die note wat hy speel wat saak maak nie, maar ook daardie stiltes. Die oomblikke van wag, van asemhaal, van spanning wat opbou, van rus.
Hy leer dat die stiltes die musiek “dra”. Dis soos ’n doelbewuste pouse tussen twee sinne wat jy hardop sê, of soos die wit ruimte tussen twee woorde as jy dit neerskryf.
LEES OOK: Van vrae na vertroue
Sonder die pouses sou die melodie plat en gejaagd voorkom, ’n stroom klanke sonder diepte of vorm. Stilte gee struktuur. Dit gee betekenis aan dit wat die kunstenaar of luisteraar reeds gehoor het, en dit skep afwagting vir dit wat nog gaan kom.
Die stilte is nie ’n fout nie, inteendeel …
Ek sien met verwondering hoe my seuntjie leer om nie bang te wees vir daardie stiltes nie. Aanvanklik wou hy dit vul: nóg ’n klawer wat hy afdruk, nóg ’n klank wat hy voortbring. Hoe flinker sy vingers kon beweeg, hoe beter vir hom.
Maar algaande het hy verstaan dat die rusteken op die bladmusiek nie ’n onderbreking is nie maar ’n uitnodiging. Dat ’n pouse nie ’n fout is nie. Dis nie iets wat per ongeluk uitgelaat is nie; dis ’n integrale deel van die komposisie.
En ek het besef dat dit ook in ons geloofslewe so werk.
Baie gelowiges reken dat God Hom slegs in donderslae en bliksemstrale openbaar. Dat sy toetrede altyd vol drama en passie moet wees. Wanneer Hy Hom dan, soos vir die Ou Testamentiese profeet Elia, in die fluistering van die wind laat hoor, voel sulke gelowiges ongemaklik. Hulle wonder of dit regtig Hy is wat praat.
Kan sy teenwoordigheid dan ook in ’n sagte suising waargeneem word? Waar is die vuurvlamme, die hewige gedruis, die aardbewings?
Stilte maak ons oop vir Hom
Stilte is nie net in musiek ingeskryf nie, maar ook in die Bybel. Ons lees in Habakuk 2:20: “Maar die Here is in sy heilige tempel – wees stil voor Hom, o ganse aarde!”
Nee, dis nie ’n stilte wat op afwesigheid of onverskilligheid dui nie, maar op eerbied. Dis ’n stilte wat ons leer hoe om te luister, en dan nie slegs met ons ore nie, maar met ons hele wese. In dié stilte word ons nie van God afgesny nie, maar juis vir Hom oopgemaak.
Die Evangelies leer ons dat Jesus dikwels stil geword het. Hy het die skares agtergelaat en na ’n berg of ’n ander stil plek toe gegaan om te bid. Daardie stiltes was nie leeg nie, maar is met die Vader se teenwoordigheid gevul. Dit was niks minder nie as ’n ontmoeting.
Gelowiges moet leer, net soos my seuntjie, om die stiltes te herken en te waardeer. Al maak stiltes sommiges ongemaklik. En al word pouses vir hulle ’n leë ruimte wat hulle met woorde wil vul, met harde en aanhoudende werk, dalk ook met geraas. Hulle is immers gewoond aan beweging, aan klank, aan die bewyse dat daar mense teenwoordig is.
Maar met verloop van tyd leer hulle tog dat stilte “dra”. Dat dit vorm gee. Dat dit God se teenwoordigheid huisves op ’n manier wat klank nie altyd kan nie.
Die melodie van ons lewe en van ons geloof
Ons moet dus leer om elke noot in ons lewe te waardeer: die harde note van vreugde en oorwinning, die sagte note van deernis en empatie.
Ons moet ook leer om die stiltes na waarde te skat, daardie pouses wat wag aandui, dit wat soms deur verlies meegebring word, dit wat altyd opdrag gee om te rus. Stiltes word só ’n heilige ruimte waarin ons kan ontvang, waartydens ons nie hoef te presteer nie.
En al dié elemente vorm die melodie van ons lewe.
Vanselfsprekend verklap dit ook alles oor ons geloof. Want soos met musiek, is dit nie die volume wat die waarde van ons geloof bepaal nie, dis die verhouding tussen klank en stilte.
Geloof is dus nie net in ons klanke geleë nie, maar juis ook in ons klankloosheid. Trouens, geloof is vol swye. En daardie stilte leer ons om te luister. Want só hoor ons God steuringsvry. En ons ontdek dat sy liefde ook op dié manier klokhelder opklink.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.




















