As ek maar ’n rand kon kry vir elke keer wat ek “maar hoekom?” moet aanhoor …
“Maar hoekom?” is die standaard-refleks op elke opdrag in my huis. Dis daardie dun stemmetjie vol weerstand en nuuskierigheid, en soms pure frustrasie.
Die opdragte en/of versoeke is eenvoudig:
* “Jy moet jou kos eet voordat jy nagereg mag kry!”
* “Trek asseblief jou nat klere uit!”
* “Onthou om jou hande te was voor jy kom eet!”
* “Dra jou valhelm as jy fietsry!”
* “Kom, dis slaaptyd.”
* “Kom ons gaan borsel tande.”
En die reaksie op elkeen is so voorspelbaar: “Maar hoekom?”
LEES OOK: Dalk is vandag die dag om die lang ry te verlaat
Hoewel al bogenoemde opdragte en versoeke ’n logiese (en liefdevolle) rede daaragter het, wil my kinders dit nie hoor nie. Dis asof hulle nie kan glo dat ek hul beste belange op die hart dra nie. Hulle sien net die beperking, nie die beskerming nie.
Ek het heel onlangs begin besef dat ons dieselfde met God doen. Hy gee opdragte, riglyne, trek grense. Hy nooi ons uit om sekere paaie te stap, om sekere dinge te los, om ten spyte van ons hardnekkige twyfel tóg te vertrou.
En ons? Ons vra telkens: “Maar hoekom?” Ons bevraagteken die pad, die pyn, die proses. Ons sien nie altyd die liefde agter sy duidelike leiding nie.
Wanneer dinge dan skeefloop, wanneer ons gebedsversoeke onbeantwoord bly, wanneer die lewe nie sin maak nie, is dit maklik om te dink dat Hy ons vergeet het. Ek het al self daar gestaan. Moedeloos, uitgeput, vol vrae. Dit het gevoel asof die wêreld teen my gedraai het en ek net sowel kon moed opgee.
Maar altyd het die Woord my aan die waarheid herinner.
In Psalm 84:12-13 lees ons: “Die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!”
Wat ’n belofte! God weerhou nie die goeie van dié wat reg lewe nie.
En hier is die sleutel: Hý bepaal wat “goed” is. Nie ons nie. Hy sien die volle prentjie: die begin, die einde, die deel tussenin. Hy weet dat sekere dinge wat vir ons lekker lyk nie noodwendig goed is nie. En Hy weet dat daardie dinge wat ons eerder wil vermy – pyn, geduld, om te wag – juis dié dinge is wat ons vorm en reinig.
God se doel vir ons is nie gemak nie, maar heiligheid. Hy wil hê ons moet ons sondige natuur oorwin, in gemeenskap met Hom leef en in sy waarheid wandel. En daardie proses is nie altyd maklik nie. Maar dit is goed.
Ons word versoek om kalm te bly wanneer dinge nie lekker is of na ons sin verloop nie. Om geduldig te wag, om volhardend lief te hê. Om vol te hou reg lewe, al sien ons nie dadelik die vrug nie. Want God se belofte staan vas: Hy sal nie die goeie van ons weerhou nie.
Jesus sê in Matteus 7:9-11: “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of ’n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
Ons hemelse Vader staan nie onverskillig teenoor ons nie en Hy is nooit wreed nie. Hy is ook nie afwesig nie. Hy is by ons en Hy is goed. Hy gee goeie gawes. Dis nie altyd die gawes wat ons vra nie, maar altyd dié wat ons nodig het.
Kan ons Hom dus vertrou? Kan ons die beterweterigheid los? Kan ons ophou vra “maar hoekom?” en begin sê: “Ek vertrou U”? Kan ons glo dat Hy weet wat Hy doen, selfs wanneer ons nie sy doen en late verstaan nie?
Kinders vra “maar hoekom?” omdat hulle nog leer om te vertrou. Miskien is dit tyd dat ons, God se kinders, leer om te rus in sy wysheid. Om te glo dat sy opdragte nie beperk nie maar beskerm. Dat sy “nee” nie straf is nie maar liefde. En dat sy “wag eers” nie verwerping is nie maar voorbereiding.
Laat ons tog leer om te leef met ’n hart wat sê: “Ek weet nie altyd hoekom nie, maar ek weet wié. En dit is genoeg.”
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.



















