DEUR SIMONE GAUCHE
My seuntjie het op ’n keer met sy fiets geval en sy enkel geskraap. Dadelik moes daar ’n pleister geplak word. Almal moes weet van sy seer, almal moes daarna kyk. Selfs vreemdelinge is nie dié gesig gespaar nie …
LEES OOK: Die ander kraal se skape
Hy het boonop begin mank loop, heeltemal oordrewe. Weke ná die opdoen van die wond mag ons nie náby die seerplek gevat het nie. Ons moes versigtig sy broekspype oor die wond trek en saggies om die wond was as ons bad. Selfs lank nadat dit genees is, mag ons steeds nie daaraan gevat het nie. “My eina, Mamma!” het hy dan uitgeroep.
So het die wond by voortleef, lank nadat dit genees is.
Kinders wys so maklik hul wonde. Almal moet weet as hulle seergekry het. Hulle weet instinktief dat om jou wonde aan iemand anders te wys, jou met die seer sal help.
Maar wanneer ons grootword, gebeur iets met ons: Nou wil ons ons seer vir die wêreld wegsteek. Ons doen ons bes om elke letsel wat ons opdoen te verbloem. Ons bou mure en skep verdedigingsmeganismes. Ons dink allerlei stories en verskonings uit – net sodat niemand van ons seerkry uitvind nie.
Hier is Jesus se storie
Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, verskyn Hy aan sy dissipels. En een van die eerste dinge wat Hy doen, is om sy wonde aan sy volgelinge te wys. Twee Evangelieskrywers het dit beskryf.
Johannes vertel: “Dit was al laat die aand op daardie eerste dag van die week. Die deure waar die dissipels vergader het, was gesluit uit vrees vir die Jode. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug toe hulle die Here sien” (Joh 20:19-20).
Lukas skryf: “Maar Hy sê vir hulle: ‘Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – ’n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.’ Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete” (Luk 24:38-40).
Dis amper asof Hy sê: “Dis Ek, Jesus. Kyk my wonde!” Jesus steek nie sy wonde weg nie. Inteendeel, sy dissipels ken hom aan sy wonde. Sy wonde maak Hom wérklik. Sy wonde maak dat hulle glo dat hul Here opgestaan het. Dit vertel die storie van wie Hy is en waar Hy vandaan kom. En dit skep ’n unieke geleentheid vir die verdieping van verhouding en verbintenis.
En hier is ons storie
Ek luister onlangs ’n potgooi waarin die Amerikaanse skrywer Brené Brown sê ons sukkel om God as ’n weerlose God te beskou. Hy is vir ons ’n almagtige, ’n alomteenwoordige, ’n grote God. Maar nie ’n brose God nie. Nie die God wat stukkend aan die kruis hang en daarna sy wonde vir ons wys nie.
Wat is weerloser as om jou Godheid prys te gee en ten volle mens te word? Om verneder te word en om dan jou wonde vir jou volgelinge te wys?
Dalk sukkel ons om ’n kwesbare God te ken omdat ons so sukkel om self weerloos te wees … Ons verdoesel eerder. Ons maak of ons oukei is. Daarom beleef ons nie die krag wat in weerloosheid geleë is nie.
Ons almal het wonde wat ons met ons saamdra; niemand is daarvan kwytgeskeld nie. Maar ons wonde maak ons wie ons is. Ons wonde gee aan ander die geleentheid om te sien dat ons wérklik is. Dit verklap waar ons vandaan kom. Ons wonde is ’n belangrike deel van ons storie.
Dalk het dit vir jou tyd geword om die onbekende waters van weerloosheid aan te durf. En dalk kan jy ook, een wond op ’n slag, die versteekte krag daarvan ontdek.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.