DEUR SIMONE GAUCHE
Jy weet dalk dat Gustave Eiffel die Eiffeltoring ontwerp het, en dat Charles Pearson die vader van die Londense ondergrondse treinstelsel is. Dalk is jy daarvan bewus dat die firma Skidmore, Owings & Merrill verantwoordelik is vir die Burj Khalifa. Of jy ken dalk die storie van Shah Jahan wat die Taj Mahal laat bou het ter nagedagtenis aan sy vrou, Mumtaz Mahal.
Maar weet jy wie was Besaleël en Oholiab?
Ons lees in die Eksodusverhaal dat die Here destyds vir Moses tydens Israel se groot woestyntrek aangesê het om die tabernakel te bou. God se teenwoordigheid sou in die tabernakel sigbaar word sodat die volk die heerlikheid daarvan tussen hulle kon beleef.
Daar was etlike noukeurige voorskrifte vir die bou en inrig van dié spesiale plek, wat ook “die tent van ontmoeting” genoem is. Buiten presiese aanduidings oor die afmetings daarvan en die boumateriaal daarvoor, was daar ook duidelike aanwysings oor die meubels en toebehore, asook vir die kleredrag van die priesters wat daar sou werk.
Maar wie sou kon sorg vir die voorgeskrewe gordyne, rame, voetstukke, pilare, die altare, tafels, wasbakke, lampstaanders? En wie sou vir elke priester ’n skouerkleed van fyn linne maak, ’n borssak met edelstene, ’n tulband, en klokkies en ander versierings aan die spesiale klere?
Dis hier waar Besaleël en Oholiab in die prentjie kom. Die Here het hulle self aangewys. Hy sê dan ook vir Moses: “Ek het hom (Besaleël) toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. Ek het vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, aangestel om saam met hom te werk. Aan elke vakman het Ek vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het” (Eks 31:3-6).
Dit was ’n gewigtige opdrag. Die twee vakmanne het elk hul eie sterkpunte gehad: Besaleël sou die verbondsark maak, sowel as die offertafel met die toebehore, kandelaar, wierookaltaar en brandofferaltaar. Oholiab was ’n ontwerper en hy kon met wol en linne weef. Dit was alles vaardighede wat hulle by die Here gekry het.
Ons verneem voorts dat die Here dié twee begenadigdes geïnspireer het om ander te leer (vgl Eks 35:34). Hul Godgegewe vaardighede is dus “aangegee” en dit het hulle in staat gestel om van die take te delegeer ten einde die reuse-opdrag behoorlik na te kom.
LEES OOK: God se troue liefde agtervolg jou
Die verhaal van Oholiab en Besaleël herinner ons onder meer daaraan dat die Here die Gewer van goeie gawes is – ook die gawe om met ons hande te werk, die gawe om iets te skep. En om te skep, om met jou hande te kan werk, is niks minder nie as ’n kuns. Die twee vakmanne was dus ook kunstenaars, soos elkeen wat met sy of haar hande werk om iets tot stand te bring. Om te kan brei of hekel of naaldwerk doen, om te kan houtwerk of metaalwerk doen, om ’n motor of ’n waterpyp te kan herstel of ’n akker te skoffel of ’n muur te bou – dit alles is vaardighede wat net uit een Bron kom.
Ons leer ook dat ’n belangrike deel van ’n vakman/kunstenaar se vreugde in die opleiding van ander mense geleë is. Om die gawes wat jy ontvang het op dié manier met ander te deel, is ’n spesiale voorreg.
Só word die werk van ons hande ’n buiging voor die Gewer. ’n Dankie-sê. En uiteindelik ’n loflied aan God die Kunstenaar.
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.