DEUR SIMONE GAUCHE
“Dink aan die dae lank verby, onthou die jare van die voorgeslagte. Vra jou pa dat hy jou vertel, jou oumense dat hulle jou dit sê” (Deut 32:7).
Ons is op pad skool toe; ek bestuur. En soos enige mamma daardie tyd van die oggend is my kop in ’n warboel. Ek dink aan aandete; aan die wasgoed wat wag; aan my eerste pasiënt vir die dag wat ook reeds wag; aan my bankkaart wat verval; aan die verjaardaggeskenk wat ek nog voor Saterdag moet koop.
LEES OOK: God se liefde pas nie in ’n boksie nie
Uit die bloute kyk my seuntjie ernstig na my en vra: “Mamma, as ek eendag negentig jaar oud is, sal ek ook so baie lyne op my gesig hê?”
Waar op aarde kom hy aan hierdie vreemde gedagte? wonder ek.
Toe onthou ek: Drie weke gelede het ons by my ouma gaan kuier. En ek onthou hoe my seuntjie op die bank langs sy oumagrootjie gesit en haar gevra het hoe oud sy is.
Sy het nader aan hom geskuif, haar neus tot by sy neusie gebring en gesê: “Ek is negentig jaar oud; kýk net al die lyne op my gesig!”
En hy onthou dit jou werklikwaar steeds …
My ouma is ’n wonderlike mens. Dis ’n onbeskryflike voorreg om haar steeds in ons lewe te hê. Dis ’n vreugde om te sien hoe my kinders haar geselskap geniet. Ek weet van baie jonges wat bang is of was vir hul ouma- of oupagrootjie; nie mý kinders nie!
Dis maklik om vir haar lief te wees. Sy bekoor mense van alle ouderdomme met haar grappies en sagte liefde. Ek onthou hoe lank my seuntjie daar op die bank oor alles en nog wat met haar gesit en gesels het.
LEES OOK: Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers
Al dié herinneringe het my laat nadink oor hoe sy met mense oor die weg kom. Ons wil tog almal ’n blywende indruk op ander maak …
’n Paar dinge val my op:
- My ouma is “in die oomblik” teenwoordig. Haar aandag is nie verdeel tussen haar gespreksgenoot en haar foon of ’n televisieprogram nie. As iemand met haar praat, laat los sy alles waarmee sy besig is en gee noukeurig aandag.
Hoor hoe skryf Paulus: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd” (Ef 5:15-16).
- Ouma sien op niemand neer nie. Letterlik so: Sy buk af na my seuntjies en kyk hulle reg in die oë as sy met hulle praat.
C S Lewis het gesê: “’n Trotse man kyk altyd neer op mense en dinge; en, natuurlik, vir so lank as wat jy afkyk, kan jy nie sien wat bo jou is nie.”
- Ouma neem haarself nie te ernstig op nie. Sy maak simpel grappies en spot graag met haarself. Sy speel speletjies en trek gesigte, en sy neem haar prettigheid oral met haar saam.
Só sê die Spreukedigter: “’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput” (Spr 17:22).
- Ouma leef nie in die verlede nie. In haar negentig jaar op hierdie aarde het sy baie gesien en baie beleef. Sy praat egter nooit van die “goeie ou dae” nie. Sy het geleer dat elke seisoen sy eie vreugdes en eie hartseer bring.
Sy weet wat die Prediker gesê het: “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ’n mens so sê nie” (Pred 7:10).
En só, met ons skynbaar onbenullige gesprekkie in die kar op pad skool toe, herinner my kinders my daaraan om ook “teenwoordig” te wees; om nederig van hart te wees; om myself tog nie te ernstig op te neem nie!
Hierdie skryfstukkie is opgedra aan my ouma Naomi wat onlangs haar 90ste verjaardag gevier het. Dankie, hemelse Vader, vir dié wonderlike geskenk!
Ek kan net die profeet se woorde beaam, en dit na Ouma aangee: “Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red” (Jes 46:4).
- Simone Gauche is ’n mamma, vrou en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.