Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Waarom goeie vriendskappe belangrik is vir kinders se welstand

Die waarde van goeie vriendskappe is voor die hand liggend, maar die vaardigheid om vriende te maak, kom nie sommer vanself nie. Ouers kan hul jong kinders leer en help.

Die waarde van goeie vriendskappe is voor die hand liggend, maar die vaardigheid om vriende te maak, kom nie sommer vanself nie. Ouers moet hul jong kinders leer hoe om vriende te maak; só leer die kind ook om ’n goeie vriend te wees.

Deur SUSAN GOOSEN

Die waarde van goeie vriendskappe

Ons almal het ’n diep behoefte aan ander mense se vriendskap, aanvaarding en ondersteuning. Daarsonder word ons maklik oorweldig, ons voel alleen en raak depressief.

Mariaan Brand, ’n maatskaplike werker met ’n selfverklaarde groot liefde vir kinders, verduidelik waarom goeie vriende vir kinders goud werd is: “’n Goeie vriendskap is ’n waardevolle verhouding wat geluk, pret en ’n gevoel van ‘behoort’ aan ’n kind gee. Gesonde vriendskapsverhoudings dra by tot kinders se algemene welstand en ’n goeie lewensgehalte. En hoe meer sinvolle verhoudings jy het, hoe meer fasette van jou menswees word ontwikkel.

“’n Goeie vriendskap verlaag kinders se spanningsvlakke, dit kalmeer die senuweestelsel en verminder die moontlikheid van angs en depressie. Hegte vriendskapsverhoudings lê ’n veilige grondslag vir emosionele en identiteitsontwikkeling, en dit bied ’n ondersteuningsnetwerk aan die betrokke kinders. Dit help hulle met die ontwikkeling van selfaanvaarding, die vestiging van selfwaarde en die ontwikkeling van belangrike vaardighede – onder meer geduld, mededeelsaamheid en luistervermoë.

“Voorts vestig vriendskappe morele waardes en leer dit kinders hoe om te sosialiseer en om by sosiale norme aan te pas.”

Goeie vriendskappe: Hoe begin jy?

Riza Uys, spelterapeut, onderwyseres en lewensafrigter, sê. “Verhoudings is in elke fase van ons lewe belangrik, en dit begin reeds by geboorte wanneer kinders ’n band met hul ouers en primêre versorgers vorm. Die manier waarop ouers hul kinders hanteer, versorg en opvoed, skep by daardie kinders die beeld van hoe ander mense is, hoe hulle teenoor ander optree en wat jy van hulle kan verwag.

“Dit het uiteindelik ook ’n groot invloed op selfbeeld, waagmoed, vertroue en ’n eie identiteit. Wanneer die kinders ouer word, speel maats en onderwysers ’n toenemend belangrike rol.”

Mariaan voeg by: “Broers en susters speel ook ’n belangrike rol in die aanleer van vaardighede. Ouers moet daarom van jongs af ’n goeie verhouding tussen sibbe aanmoedig en koester. Hierdie unieke verhouding gee kinders die geleentheid om vaardighede soos kommunikasie, luistervermoë, om te kan deel en om emosies te hanteer, aan te leer en in te oefen.

“Jonger kinders is ook geneig om hul ouer broers en susters se gedrag na te boots. Op dié manier leer hulle byvoorbeeld hoe om nuwe situasies te hanteer.”

Mariaan sê: “Emosionele ontwikkeling is baie belangrik vir sosiale aanpasbaarheid en veerkragtigheid. Kinders wat emosioneel goed ontwikkel het, sal makliker gelukkige verhoudings bou. Kinders moet dus van jongs af leer hoe om hul emosies te beheer sodat hulle moontlike intense emosies in sosiale situasies op ’n aanvaarbare manier kan bestuur.

“Ouers kan hierdie ontwikkeling aanhelp deur emosies te identifiseer en daaroor te gesels.

“Swak sosiale vaardighede gaan gewoonlik gepaard met ’n swak selfbeeld en lae selfwaarde. ’n Tekort aan emosionele ontwikkeling en emosionele regule­ring het tot gevolg dat kinders maklik in konfliksitua­sies beland. Sulke kinders maak nie sommer maats nie, hulle word maklik boelies se teiken. En hulle kan self ook ander begin boelie.”

Goeie gesprekke help om goeie vriendskappe te bou

’n Oop en gemaklike verhouding met jou kinders sal die weg baan vir ander suksesvolle verhoudings en die hantering van potensiële probleme.

Ouers wat graag hul kinders se vriendskappe wil koester en bou, moet dus eerstens aan hul eie verhouding met hul kinders aandag gee. Selfs tieners, wat oënskynlik onafhanklik wil wees en ’n eie identiteit wil ontwikkel, hunker na hul ouers se insette en ondersteuning.

Vaardig met goeie vriendskappe

Ouers kan baie doen om hul kinders die nodige vaardighede in dié verband te leer. Riza moedig ouers aan om allereers ’n hegte verhouding met hul kinders te ontwikkel en om goeie gesprekke met hulle aan te moedig.

Hierbenewens is dit belangrik dat ouers self die regte gedrag ten opsigte van verhoudings uitleef. Ouers se gesindheid – die respek, geduld en genade wat hulle teenoor huismense, vriende en vreemdelinge betoon – sal hul kinders se bloudruk vir toekomstige verhoudings word.

Hier is ’n klompie waarhede en wenke om goeie vriendskappe te bou

  • ’n Goeie selfbeeld is baie belangrik. Kinders moet gemaklik wees met
    wie hulle is en met wat hulle tot ’n verhouding kan bydra. Sulke kinders kan gewoonlik ook maklik leiding neem, omdat ander veilig by hulle voel.
  • Besluit saam oor die waardes wat vir jul gesin belangrik is. Verduidelik aan jou kinders waarom eienskappe soos geduld, minsaamheid, respek, barmhartigheid en lojaliteit kernwaardes is.
  • Skep geleenthede vir interaksie met hul eie portuurgroep, maar ook met mense van ander ouderdomme, sodat die kinders gemaklik in verskillende situasies met verskillende mense kan omgaan.
  • Leer jou kind van kleins af om grense te stel en “nee” te sê. Kinders moet weet dat hulle hul eie mening kan hê en dat hulle van ander mag verskil sonder dat dit noodwendig tot konflik lei.
  • Leer jou kinders ’n emosionele woordeskat, en leer hulle terselfdertyd om ander se emosies te “lees” en te verstaan. Kinders moet hul eie emosies reg kan verwoord, en moet ook leer om fyn te luister en op te let ten einde ander mense se gemoedstoestand te kan interpreteer en gepas daarop te kan reageer.

Riza het ’n klompie praktiese wenke

  • Vra jou kinders om hul verhouding met hul beste maatjie, of die een by wie hulle pas gespeel het, deur middel van ’n verkeerslig te beskryf – groen vir goed en lekker; oranje vir onseker of ongemaklik; rooi, wat ’n groot probleem aandui.
  • Vra jou ouer kinders om hul skooldag, naweek of sportwedstryd op ’n skaal van 1 tot 10 te evalueer. Vra dinge soos: Wat moet gebeur om jou dag beter te maak? Indien jy een ding in die wêreld kon verander, wat sou dit wees?
  • Kinders gesels ook makliker wanneer hulle nie noodwendig die middelpunt van al die aandag is nie. Kry ’n aktiwiteit wat julle almal geniet, of werk saam om aandete voor te berei. Gebruik dan hierdie tyd om te gesels en om jou kinders beter te leer ken. Luister sonder oordeel na jou kinders se menings en vrese, sodat hulle gemaklik sal voel om ook moeiliker sake met jou te bespreek.

Vriende en Covid-19

Riza het die volgende raad vir kinders (en ouers) wat tydens die koronaviruspandemie geïsoleer voel:

  • Herinner mekaar daaraan dat die pandemie en die inperking nie vir altyd sal duur nie en dat dié moeilike tye wel sal verbygaan.
  • Gebruik die tyd om aan jou verhouding met jouself te werk, om emosioneel te groei. Jy het nou die geleentheid om jou binnekant uit te pak en blink te vryf. Wanneer jy gemaklik en gelukkig met jouself is, verwerf jy die vermoë en veerkrag vir wanneer jy later aan verhoudings met ander moet werk.
  • Doen dié dinge wat vir jou lekker is. Ontdek en ontgin jou talente en pak nuwe projekte aan.
  • Koester jou vriende. Bly betrokke. Bly trou aan jou aard. Indien jy nog altyd ander mense ondersteun en bemoedig het en jou vriende graag met klein geskenkies bederf het of lekker leesboeke met hulle uitgeruil het, moet jy voortgaan om dit te doen.
  • Jy kan jou interaksie met ander mense op enige plek oefen. Maak byvoorbeeld oogkontak met die persoon wat jou hande in die winkel reinig en groet die skoonmaker en die vreemdeling by wie jy in die straat verby loop. Oefen om vriendelik en medemenslik te wees.

Lees gerus ook, Só laat jy jou introvert-kind blom.

Kontak ons kenners

  • Mariaan Brand is ’n maatskaplike werker in ’n private praktyk. Sy werk in Kaapstad se noordelike voorstede en bied berading aan deur middel van spelterapie en ouerleiding. Besoek www.mariaanbrand.co.za of stuur ’n e-pos na play@mariaanbrand.co.za
  • Riza Uys is ’n spelterapeut, lewensafrigter en onderwyseres in die Paarl. Sy wil graag ouers help wat meer leiding nodig het. Kontak haar by  academics.playtherapy@gmail.com

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF