“Hudson is elke traan werd, elke teleurstelling en laagtepunt die afgelope klompie jare. Ek sal hierdie pad honderd keer weer stap om die voorreg van moederskap te kan ervaar.”
Só vertel Roné Smit van Centurion, wat besluit het om op 36 die ouerskap-pad alleen aan te pak. Ná etlike mislukte pogings hou sy vandag ’n bondeltjie vreugde in haar arms vas.
Sy was 23 jaar oud en slegs vyf maande lank getroud toe haar huwelik skeefloop. Dit was ’n verhouding wat deur baie seer en swaarkry gekenmerk is. “Ek het ’n herstelpad saam met die Here en ’n pastorale berader gestap sodat ek nie, steeds met die seer van ’n mislukte huwelik in my, in ’n nuwe verhouding beland nie.”
Die egskeiding het ’n groot impak op Roné se lewe gemaak. Sy was nou versigtiger, kieskeuriger, en sy het gou geweet watter sake vir haar ononderhandelbaar in ’n nuwe verhouding is.
Sy het wel van kleins af geweet dat sy eendag ’n mamma wil wees. “Ek glo die Here het my geskape met moederskap as my grootste droom en doel in die lewe.”
LEES OOK: ‘Alle eer aan Jesus,’ sê vrou ná moeilike pad met infertiliteit
Maar toe sy 30 word, was daar nog nie iemand spesiaals in haar lewe nie, en sy het die eerste keer kunsmatige inseminasie oorweeg. “Ek was toe al ’n paar jaar lank enkellopend en het bewus geword van my biologiese horlosie. Ná baie gebede en etlike gesprekke met my familie en my goeie vriende het ek besluit om die bal aan die rol te sit. Ek was 34 jaar oud.”
Nie sommer oornag besluit nie
Roné sê sy het nie sommer oornag daarop besluit nie. “Mense na aan my het ’n paar jaar gehad om aan my besluit gewoond te raak en dit in hul eie hart te toets. Ek was wel daarvan oortuig dat dit nie ’n mensgemaakte plan is nie, maar ’n unieke en spesiale reis wat die Here vir my beplan het.”
Maklik was dit egter nie. Alle paartjies wat met onvrugbaarheid worstel, sal weet dat dit ’n baie eensame pad is. “In my geval was dit waarskynlik erger omdat ek die proses alleen moes deurmaak. Hoewel ek baie ondersteuning gehad het, was ek uiteindelik die enigste een wat alles eerstehands ervaar het.
“Die vrugbaarheidsbehandeling eis ’n liggaamlike asook ’n emosionele tol. ’n Mens benader dit elke keer met soveel hoop – en dan is die teleurstelling van ’n mislukking amper oorweldigend. Ek het my elke keer ’n dag of twee gegun om die teleurstelling te verwerk.”
Dan moet jy weer opstaan sodat jy die volgende rondte positief kan aanpak. “Die hele proses was ’n wipwa-rit. Ek het egter baie gegroei in my verhouding met die Here, omdat ek so kwesbaar was, en so afhanklik van Hom.”
Roné het drie kunsmatige inseminasies deurloop, wat nie een suksesvol was nie. Daarna het een in vitro-bevrugting gevolg – wat drie embrio’s opgelewer het. Ná twee onsuksesvolle inplantings het Roné besluit om die laaste embrio te vries en eers ’n jaar lank te wag. Haar liggaam en haar emosies het ’n ruskans nodig gehad.
Tien maande later het sy weer vir die proses kans gesien, en sy het met daardie embrio swanger geraak.
Het sy ooit getwyfel of dit die regte besluit was?
“Nie vir een oomblik nie. Teen die tyd dat ek my besluit geneem het, het ek reeds ál die voor- en nadele teen mekaar opgeweeg, en ek het net geweet dis honderd present reg vir my. Ek het wel daaraan begin twyfel óf ek wel swanger sal kan raak. In my naïwiteit het ek gereken dat om tot die besluit te kom die moeilikste deel van die proses sou wees, dat alles daarna net in die regte plek sal val. Toe die swangerskap dus nie maklik kom nie, het ek daaraan begin twyfel of moederskap ooit vir my beskore is.”
Dit was vir Roné ’n groot stryd en sy het hieroor met die Here geworstel. “Die liedjie ‘I surrender all’ het by my opgekom, en ek het besluit om my grootste droom en begeerte aan die Here oor te gee.”
‘Hudson is elke traan en teleurstelling werd’
En was al die liggaamlike en emosionele pyn die moeite werd?
Hieroor is sy net so beslis: “Hudson is elke traan, elke teleurstelling en elke laagtepunt werd! Ek sal hierdie pad honderd keer weer stap, net om daardie bondeltjie in my arms te kan hou. Die gunstelingdeel van moederskap sover is wanneer my seuntjie moeg of omgekrap is en ek hom kan troos en in my liefde toevou. Om dan te voel hoe hy ontspan, hoe sy lyfie slap word in my arms. Om te weet dat ek sy veilige plek is, is die grootste voorreg in die wêreld.
“Hy is nou skaars drie maande oud, maar hy het my lewe onherroeplik verander. Ek voel so geseënd dat die Here hom aan my toevertrou het.”
’n Besluit soos dié bly tog omstrede. Roné sê sy is nooit direk gekritiseer nie. Daar was wel baie mense wat vrae gehad het oor hoekom sy dié pad gekies het en oor hoe die proses werk. “Ek verstaan dit. Alleenouerskap is tog nie iets wat binne die meeste mense se verwysingsraamwerk is nie.”
Roné vertel sy het ’n anonieme spermskenker gebruik om swanger te raak, en Hudson se biologiese pa sal nooit deel van sy lewe wees nie. “Ek sal uit die staanspoor eerlik wees met my kind. Ek sal hom vertel dat sy mamma hom so graag wou hê dat sy enigiets sou doen of betaal om hom in haar lewe te kon hê. En al het ek geweet dat dit ’n moeilike pad sou wees om sonder ’n pappa aan te pak, sal ek dit elke keer weer kies omdat hy my grootste geskenk in die wêreld is.”
Roné sê dis vir haar belangrik dat Hudson elke dag moet weet en voel hoe graag sy hom wil hê. “En nie net ek nie, maar almal wat by sy lewe betrokke is. Ons almal het doelbewus besluit om hom in ons lewe te hê.”
Hudson is baie gelukkig om ’n baie betrokke vaderfiguur te hê in Roné se pa, pastoor Hansie Smit. Hy is ’n oupa wat “rof” met hom kan speel, wat hom sal leer bal skop en braai. En dis belangrik, sê Roné, dat Hudson by haar ’n moederlike, koesterende liefde sal ervaar. ’n Liefde wat troos, wat pleisters opplak wanneer hy met sy fiets geval het, wat hom sal help om op te staan en weer op sy fiets te klim.
“Ek dink ’n betrokke vaderfiguur, wat elke dag deel van sy lewe is, sal aan sy behoeftes voldoen. Hudson se volle name is Joshua Hudson, dis dieselfde voorletters as dié van sy oupa. En die betekenis daarvan is net so sterk – “mighty ruler, brave and hardy”.
‘Alleenouerskap is soms oorweldigend’
Is sy nie soms benoud oor die toekoms nie?
“Ek beleef wel oomblikke waarin ek oorweldig word deur die eise van alleenouerskap. Maar dis nie goed om op my vrese te broei nie; ek moet op die huidige fokus.
“Dis wel so dat ek verreweg die meeste van die tyd nie soos ’n alleenouer voel nie. Daar word gesê ‘it takes a village to raise a child’ – en ek is baie geseënd om my plek en sy mense bankvas agter my en Hudson te kan hê.”
Roné se ouers, Hansie en Adri, was uit die staanspoor saam met haar op hierdie uitdagende reis. “Hulle het gebid, hulle het my ondersteun en moed ingepraat toe hierdie babatjie nog net ’n droom was. Hulle is albei ten nouste betrokke in sy elkedagse roetine, hulle ruil doeke, hulle speel saam. En, die belangrikste, hulle gooi hom toe met liefde en aanvaarding. Ek sou dit nooit sonder hulle kon doen nie. Hulle is deel van my grootste droom wat waar geword het.”
Hudson het ook ’n oom en tannie, ’n nefie en ’n niggie wat hy elke week sien en wat net so lief vir hom is soos sy grootouers.
En die toekoms? Wil sy graag nog kinders hê?
“Vir seker! Maar vir eers fokus ek op die hede, en om alles vir my seuntjie te gee sodat hy kan floreer.”
Roné, ’n sosiale media-praktisyn, sê ook sy sal graag weer in ’n verhouding wil wees wanneer die tyd daarvoor reg is. “Dis egter nie vir my belangrik om bloot ‘iemand’ in my lewe te hê nie; dit moet die regte mens wees. As dit die lewensmaat is wat die Here vir my uitgekies het, en hy beskou my en my seuntjie nie as bagasie nie maar as sy grootste geskenk, sal ek hom met ope arms verwelkom.”
Wat sê sy vir ander vroue wat in dieselfde bootjie as sy is?
“Moenie ’n impulsiewe of emosionele besluit neem nie. Ek het ’n paar jaar lank met my droom in my hart geloop voordat ek iets daadwerkliks daaraan begin doen het.”
Sy sê sy het ook besluit om nie haar droom met sommer enigeen te deel nie, veral nie aan die begin nie. “Vertel dit slegs aan dié mense wat droombouers is, mense wat jou wil sien slaag.
“Dis ’n moeilike pad, veral as jy nie ’n goeie ondersteuningstelsel het nie. Maar as jy die oortuiging in jou hart het dat dit die regte pad vir jou is, doen dit dan! Dit was die beste besluit wat ek ooit geneem het. Ek het nog nooit soveel liefde, vrede, dankbaarheid, vreugde en vervulling in my hele lewe ervaar nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.