Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Dit het gevoel asof ’n tier aan my binnegoed vreet,’ vertel vrou wat steeds stryd teen siekte voer

My verhaal begin in 2015, toe die eerste simptome kop uitgesteek het – hoofpyn, lyfseer en naarheid. Min het ek toe geweet dat ek ulseratiewe kolitis onder lede het, en dat die toestand heeltemal buite beheer sou raak voordat ek werklik hulp sou kry.

Ulseratiewe kolitis is chroniese inflammasie van die derms, wat infeksie in die hele spysverteringstelsel veroorsaak.

Ek moes wag …

Later in 2015 het die simptome uitgebrei na braking en bloeding. My huisdokter het my na verskillende spesialiste gestuur, maar niemand kon my antwoord op wat my regtig makeer nie. Al wat hulle waargeneem het, was dat die infeksietelling te hoog was.

My man het gereken dat ek eerder na sý huisdokter moes gaan vir ’n tweede mening. Hierdie dokter was baie deeglik en het my na ’n chirurg verwys wat ’n kolonoskopie en ’n gastroskopie uitgevoer het.

Sy diagnose? ’n Outo-immuunsiekte wat reeds my rektum, anus en die helfte van my kolon aangetas het. Daar is dadelik met behandeling begin.

Die siekte het egter vererger. Ek het weer ’n afspraak by die dokter gemaak. In daardie stadium het ek onophoudelik gebraak, niks geëet nie, baie gebloei en onophoudelik ongemak verduur. Die dokter se woorde aan my was: “Ek gaan met vakansie. Ons sal weer ’n kolonoskopie doen sodra ek terug is.”

Ek moes wag …

Die tweede kolonoskopie is toe later uitgevoer en die uitslag was dat my rektum en anus erg aangetas is en dat die siekte na my hele kolon versprei het. Ek het ander medikasie ontvang en is huis toe gestuur.

Die simptome het bly erger word. Ek het nou onophoudelik gebraak, en die braaksel was bloederig. Ek het erg gebloei en was gedurig vol pyn. Dit het kompleet gevoel asof ’n tier my binnegoed opvreet.

Die skok op die internis se gesig

My man was radeloos. Hy het die hospitaal gebel en daarop aangedring dat hulle my opneem. Maar daar het ek dae lank in ’n algemene saal gelê, terwyl die naarheid en pyn voortgeduur het.

LEES OOK: ‘Ek sal altyd dankbaar wees en sy Naam uitjubel’ getuig ouma nadat kleinkind twee keer ’n hartstilstand oorleef

Die personeel was ongeduldig en het my stilgemaak wanneer ek gekla het. Daar was geen spesialis naby my nie. Op 16 Desember het my man die internis wat aan diens was ingewag en gevra dat sy onmiddellik aandag gee aan my.

Sy was aanvanklik onwillig, want ek moes toestemming gee en ek was byna nie in staat om te praat nie. Ek kon wel ’n “ja” uitkry. Daarop het sy bloedtoetse aangevra asook X-strale van my buik. Dis inderhaas gedoen.

Ek kon die skok op haar gesig sien toe sy dit onder oë kry. Sy het gesê dat ’n chirurg onmiddellik ontbied moet word. My man en pa het aangedring op ’n ander dokter as die vorige een. Die internis het ’n gastroloog aanbeveel wat sy geken het.

Hy was in die teater, maar het reguit na my toe gekom nadat hy die operasie afgehandel het. Uiteindelik is my toestand korrek gediagnoseer.

Sy eerste, welkome, woorde aan my was dat hy my sal help. Sy volgende woorde was aan die mediese span: Ek moes lankal in die hoësorgeenheid opgeneem gewees het.

Dit was ’n verskriklike tyd

Ek is dadelik daarheen oorgeplaas, en skaars 24 uur later is ’n noodoperasie uitgevoer. Daar was komplikasies: My derms het geperforeer en daar moes steke toegedien word. Dit was ’n ingewikkelde proses, want hulle kon nie my buik toegewerk kry nie.

Toe het die inwendige steke boonop geskeur, en my hoofslagaar is raakgesny in ’n poging om my te help. Ek is dadelik terug teater toe en die dokters het gedoen wat hulle kon. Sonder sukses.

Ek is verdoof en aan ’n ventilator gekoppel. My buik was oop en ek is in afsondering gehou. Ten spyte van al die voorsorg het daar sepsis ontwikkel, en die weke in die hospitaal het maande geword. Dit was uiteindelik altesaam 109 dae.

Dit was ’n verskriklike tyd, want benewens die feit dat ek deurentyd aan voedingspype en ’n ventilator gekoppel was, kon ek nie my seun sien nie. Die verlange was onuithoudbaar.

Die verdowing het gekom en gaan. My man het later vertel ek was verskeie kere in en uit by die teater weens inwendige bloeding.

‘Wees stil en weet …’

Te midde van hierdie traumatiese gebeure en lang hospitalisering het ek een groot troos gehad: Die Here was elke oomblik by my. “Wees stil en weet Ek is God” (Ps 46:11) is ’n teksvers wat my na aan die hart lê. Ek is so dankbaar vir die oorvloedige gebede van almal om my.

Ek kon nie loop nie, en dit was moeilik om te skryf of om my emosies uit te druk. Ek moes weer leer hoe om hierdie dinge te doen. Ek is uiteindelik huis toe met die wete dat die eerste chirurg nalatig was. Dis blote genade dat ek steeds hier is.

’n Jaar het verloop. Daar was verdere probleme met die rektum en anus, en dit moes later verwyder word. Kanker het nou ’n bekommernis geword. Ná ’n verdere jaar is my buik gesluit.

Te midde van al hierdie swaarkry was God in vele gedaantes by my: die verpleegkundige wat my toonnaels verf; ’n vriendin wat my voete vryf; die nuwe dokter wat soos ’n engel gestuur is; die fisioterapeute wat my gehelp het om weer te leer sit, loop en skryf; die psigiater en sielkundige wat my met ’n oop hart en baie liefde bygestaan het.

Dis vandag steeds ’n stryd, maar my mediese span is wonderlik. My hartsmense – my familie, vriende, my man en my seun – se liefde dra my deur alles. Dat ek is waar ek vandag is, is ’n wonderwerk. God is merkwaardig, en ek is sy kind.

Ek kan nie anders as om daaroor te getuig nie. Daarom het ek ’n boekprojek saam met die bekende Maretha Maartens aangepak waarin my verhaal vertel word. Dit het in 2019 verskyn – Van ongenooi na ingenooi. Die Engelse weergawe daarvan, The Monster I Learned to Love, sal in Januarie beskikbaar wees.

Dié boek is nommerpas vir mense wat gewoond moet raak aan ’n liggaam wat nie meer dieselfde as voorheen is nie. Vir mense wat moet saamleef met omstandighede wat drasties verander het. Dis die verhaal van hoe ek sin probeer maak het van wat met my gebeur het. Van die antwoorde wat ek by die Here gevind het.

  • Natania Smit (38) en haar man Hendrik (43) woon saam met hul seun Ray (11) in Bloemfontein. Hulle is lidmate van die NG gemeente Pellisier. Natania is passievol daaroor om ander mense, veral dié wat ook ’n moeilike paadjie loop, aan te moedig en te ondersteun.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.