Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek sal altyd sy Naam uitjubel’ getuig ouma nadat kleinkind twee keer ’n hartstilstand oorleef

Ons kleinseun Zian (2) is in 2021 met verskeie hartdefekte gebore. Hy was maar ses dae oud toe hy sy eerste hartoperasie ondergaan het. Ná drie weke in die intensiewesorgeenheid (ISE) kon ons hom uiteindelik vir die eerste keer ontmoet. Ons was diep dankbaar dat God hom gespaar het.

Sedertdien het dit goed gegaan, hoewel ons geweet het hy sou nog verskeie operasies moes ondergaan. ’n Span spesialiste van die Maboneng hart-en-longinstituut het hom gereeld gemonitor vanweë die hoë risiko’s verbonde aan die ingewikkelde prosedures wat hy sou nodig hê. Hulle het gehoop om soveel moontlik tyd te laat verloop voor ’n volgende operasie sou moes plaasvind. Sy naam is ook op ’n lys geplaas om deur ’n span spesialiste van Kanada geopereer te word wat gereeld hierdie soort hoërisiko-prosedures aanpak.  

Gevreesde nuus

Zian is die vriendelikste klein seuntjie denkbaar, en ’n mens sou nooit kon dink dat hy ’n hartsiekte onder lede het as jy dit nie geweet het nie. Daarom was dit so opsigtelik toe sy simptome vroeg hierdie jaar vererger het. In Mei moes hy toetse ondergaan wat opsigself ’n hoë risiko ingehou het.

Ons het die gevreesde nuus ontvang dat ’n volgende operasie dringend nodig was. Sy hart het vinnig verswak en ons kon nie wag vir die Kanadese chirurgiese span nie. Die plaaslike kardiotorakale chirurgiese span het twee moontlike prosedures voorgestel, albei met geweldige hoë risiko’s daaraan verbonde. Dit was ’n uiters moeilike keuse om te maak.

LEES OOK: ‘Hy is ’n God van wonderwerke,’ sê 70-jarige vrou wat nie ouer as 16 sou word nie

In Junie is Zian vir die eerste opehartoperasie in die hospitaal se ISE opgeneem. Ons was deurentyd op ons knieë en het God gesmeek om Zian deur alles te dra. Zian se aorta het egter in die teater geskeur voordat hy op die hartmasjiene geplaas kon word. Sy hart het 20 minute lank ophou klop voordat die span daarin kon slaag om sy lewe te red.

Dit het ses ure in die teater geduur om hom op die lewensondersteunende masjiene te stabiliseer en sy aorta te herstel voordat hy na die ISE kon terugkeer. Sy toestand was kritiek; hy was in ’n koma.  

Die mediese span was baie bekommerd oor moontlike neurologiese skade omdat hy so lank sonder suurstof en behoorlike bloedvloei was. Hulle moes hom in ’n koma hou totdat hy stabiel genoeg was om verdere toetse te ondergaan.

‘n Foto van klein Zian op sewe maande. Foto verskaf

Ons was vreesbevange

Ná ’n paar dae het hulle vasgestel dat daar wel breinswelling was, maar geen opsigtelike neurologiese skade nie. Hulle moes wag vir die swelling om af te neem om weer te opereer, want Zian se toestand sou nie verbeter tensy hy die operasie ondergaan nie.

Ons was vreesbevange oor die moontlikheid van ’n groter operasie nadat die vorige een so skeefgeloop het. Hierdie soort operasie is nog baie min in Suid Afrika uitgevoer – en boonop deur twee Kaapse kardiotorakale chirurge. Dit sou baanbrekerswerk vir die span van Sunninghill wees.  

Ons het voortdurend gebid en by God gepleit om Zian se lewe te spaar. Ons het sy lewe in God se hande geplaas en probeer om daarin te berus dat sy wil sal geskied. Familie en vriende en soveel mense van oraloor het vurig vir Zian gebid. Danksy hierdie engele wat God op ons pad geplaas het, kon ons onder moeilike omstandighede staande bly.

Ná nege ure in die teater het die hartchirurg ons meegedeel dat die prosedure geslaagd was. Ons was verlig, maar ons vreugde is kortgeknip toe die alarms in die ISE skielik afgegaan en die chirurg letterlik gehardloop het om by Zian uit te kom.

Daar het dit geblyk dat Zian se hart gaan staan het en hy het ophou asemhaal. Die chirurg het pens en pootjies op die bed geklim om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas. Hulle moes Zian se hart skok om dit weer aan die gang te kry. Hy was ongeveer 20 minute lank “dood”.   

Weer eens was sy toestand kritiek. Elke minuut wat hy oorleef het, was suiwer genade. Hy moes eers gestabiliseer word voordat sy neurologiese funksies getoets kon word. Wonder bo wonder het hulle hom ná vier dae uit die mediese koma wakker gemaak om hom van die ventilator te haal.

Dis net die Here

Ek het deurentyd allerhande ooreenkomste met God probeer aangaan. Ek het met Hom baklei en gevra “Hoekom, Here? Hoekom? Hoekom Zian en nie ek nie?”

My emosies het wipplank gery tussen hoop, geloof en vrees. Daar was die vreugde wanneer daar goeie nuus of tekens van beterskap was; dan weer die vrees wanneer ’n terugslag kom.  

Maar God is getrou, en twee weke ná die laaste operasie is Zian uit die ISE ontslaan.

Dis nou twee maande later en hy is weer ’n lewendige, tweejarige kleuter. Hy lag en speel, hy vorder goed. En daar is geen neurologiese skade nie. Dis ’n wonderwerk ná alles wat hy deurgemaak het. Die dokters het boonop bevestig dat daar waarskynlik nie weer so ’n drastiese operasie nodig sal wees nie. Dalk slegs enkele kleiner prosedures, indien hoegenaamd.

Vandag en elke liewe dag besef ek dat ek nooit sonder God hierdie pad sou kon stap nie. Sonder sy genade sou klein Zian nie meer met ons gewees het nie. Dis net die Here wat hom gered het: Hy het die chirurgiese span se hande as instrumente gebruik. Hy het ontelbare wonderwerke verrig om Zian se lewe te red.  

Die Here het geweet wat ek vra, en waarom ek dit vra. Die groot en almagtige God het my smeekgebede verhoor. Ek sal altyd dankbaar wees en ek sal sy Naam uitjubel om die wonderwerke wat Hy gedoen het te verkondig. Ek is oneindig dankbaar dat Hy ons donkerste oomblikke omskep het in ons grootste vreugde en dankbaarheid.   

Ek kan bloot stil word en sê: “Dankie, Jesus! Aan U kom al die lof en eer toe.”

Ek hou aan Psalm 18:7 vas: “Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.” En Psalm 9:2-3: “Ek wil die Here loof met my hele hart; ek wil van al u wonders vertel. In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam.”

* Ter agtergrond: Ons woon in Randburg en Zian word by Netcare Sunninghill behandel. Dit is die beste pediatriese kardiologie-eenheid in Afrika. Ons twee kleinkinders, Zian en sy ouer sussie Michante (6), is weens moeilike omstandighede deur die kinderhof in ons sorg geplaas. Zian se ouers woon in Oos-Londen. Sy mamma (my dogter) is ’n paramedikus. Zian se pappa is nie meer in die prentjie nie.

Zian is in die wonderlikste kleuterskooltjie naby ons huis. Die skooltjie self en die mammas was wonderlik ondersteunend in hierdie tyd. Hulle het selfs vir ons etes gestuur omdat hulle verstaan het dat kos die laaste ding is waaraan ’n mens in sulke omstandighede dink.

** Corinne werk voltyds as rekenmeester en haar man Tobie doen bouwerk en knap huise op. Die twee kleinkinders lê hulle baie na aan die hart. Zian bring baie tyd saam met sy oupa deur; die twee is trouens onafskeidbaar.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF