DEUR YOLANDI VAN DER WESTHUIZEN
Klein Lilly gaan eendag ’n baie kragtige getuienis kan lewer. Die dag van haar koms was soos iets uit ’n fliek. Gelukkig het God die hoofrol daarin gespeel …
LEES OOK: ‘Ons twee wonderwerk-kinders en vier Koninkrykskinders’
Alles het op Woensdag 12 April 2023 gebeur. Ek was die oggend by my ginekoloog, en volgens haar het alles goed gelyk. Ons het selfs gepraat oor ’n moontlike induksie later in die week indien ek nie in kraam gaan nie.
Ek het begin skree
Die aand ná ete het ek ligte krampe begin kry. Ek het gaan stort en my hare gewas. Daar was steeds die ligte kontraksies. Ek het besluit om ’n rukkie te slaap – maar om kwart voor tien het my water gebreek.
Ek het steeds gedink alles is oukei, want met my eersteling Pieter, nou vier jaar oud, was ek een hele dag lank in kraam. En nadat my water destyds gebreek het, nóg ’n paar uur.
Maar nou het ek net geweet ek moet so gou moontlik by die hospitaal kom. My ma het handdoeke op die kar se agtersitplek oopgesprei vir die rit Panorama-hospitaal toe. Dankie tog daarvoor, Ma! Ons woon in Duynefontein, Melkbosstrand, en daar het ’n hele entjie op die pad voorgelê.
My man Jacques het so vinnig gery as wat hy kon. Maar skielik het my kontraksies hewig geword.
Ons was net op die N7, nog ’n hele entjie van die hospitaal af, toe ek vir Jacques sê ek voel ek moet druk. Om die waarheid te sê, dit het gevoel asof my lyf self begin druk het. Ek het begin skree, so seer was dit. En ek het só erg aan die kar se een handvatsel geklou dat dit morsaf gebreek het.
Ek was nog nooit in my hele lewe so bang nie. Ek onthou ek het baie hard gebid.
Sy het nie gehuil nie
Ons was skaars by die afdraaipad na die hospitaal, toe ek voel: Hier is ons baba se kop! Ek skree toe vir my man hy moet stop. Hy het eers probeer help, maar toe hy agterkom dit gaan nie werk nie, het hy verder na die ongevalle-afdeling toe gejaag.
Toe hy die kar daar tot stilstand bring, het hy uitgespring en om hulp geroep. Ek was so bitter bang, want dit het gevoel asof die baba vassit. Ek het net geweet ek moet haar uitkry.
Ek het aanhou druk en druk … en toe my man met hulp opdaag, het die kind reeds op die sitplek gelê. Maar doodstil, sy het nie gehuil nie. Dit was kwart voor elf.
Ek was paniekbevange en ek het onafgebroke hardop gebid. Toe buk iemand in die kar in en tel haar op – en daar begin klein Lilly huil. Ek was só dankbaar!
Dankie, hemelse Vader
Dit was vreesaanjaend om alleen agter in die kar te sit en te besef ek gaan die baba hiér hê. En daar is sóveel wat kon fout gaan!
Ek baie dankbaar dat my man so kalm was, en dat hy mý die hele tyd probeer kalm hou het. Ek kon nie vir ’n beter man gevra het of ’n beter pappa vir my kind nie.
Ek kry hoendervleis as ek nou daarop terugdink en besef ons hemelse Vader het ons elke oomblik op daardie pad gedra. Ons het dan élke verkeerslig groen gekry, ten spyte daarvan dat my man so vinnig gery het!
God het my hand vasgehou en my die bonatuurlike krag gegee om nie oor te gee aan vrees nie, sodat ek suksesvol kon geboorte gee aan ons dogtertjie. Ons gesonde dogtertjie, wat ’n volle 3,915 kg by geboorte geweeg het.
* Dankie, hemelse Vader, dat alles goed gegaan het en dat ons almal veilig en gesond by die huis is. Alle eer aan U. By U is letterlik niks onmoontlik nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.