Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Dominee in kankerstryd: ‘Help asb met R51 op my 51ste verjaarsdag’

DEUR CONETTE LE ROUX

“Vandag was die laaste dag van my 50ste lewensjaar. By tye het ek gedink ek gaan dit nie tot hier maak nie, maar deur die Here se genade is ek nog hier.”

So dokumenteer dr Carin van Schalkwyk, leraar van die NG en VGK gemeente Philippolis in die Vrystaat, haar daaglikse stryd met kanker sedert sy in 2021 tydens die derde Covid-19-golf met ovariale kanker gediagnoseer is.

Wat haar stryd nog verder uitdagend maak is dat sy tot dusver van die groot uitdagings “alleen” moes deurgaan. Sy ontvang tans haar derde rondte chemo in die Paarl (ver weg van haar tuisdorp) nadat haar kankergewas nie gekrimp het van die vorige rondte kankerbehandeling nie, maar eerder gegroei het.

LEES OOK: #1 Dokter se winterpad met kanker: ‘Ek het gesorg dat ánder ’n mammogram laat doen …’

Woensdag 26 Januarie was haar 51ste verjaarsdag en sy het aangrypend eerlik geskryf oor haar “interessante verjaarsdag so weg van die huis af”. “Op sulke dae besef ’n mens net weer opnuut hoe vasgegroei jy raak aan die gemeenskap waarbinne jy beweeg. Ek het ’n verjaarsdag stil-stil in ’n chemokamer geniet met ’n dankbare hart dat ek hierdie mylpaal kon bereik. Die Here is altyd barmhartig en bereid om ’n mens te help. Loof die Here,” het Carin vanoggend op haar Facebookblad geskryf.

Net na Carin se diagnose in 2021 moes sy ook ’n operasie ondergaan en ná komplikasies twaalf dae in die hospitaal herstel. As gevolg van die Covid-19-virus mag Carin geen besoek van iemand ontvang het nie. Maar, Carin het moedig bly getuig. Sy het hierna aan Kerkbode, LiG se susterpublikasie vertel: “Op ’n manier het ek beleef hoe dit voel om afgesny te wees van jou geliefdes en hartsmense, terwyl jy slegte nuus moet hanteer asook liggaamlik baie siek voel. Te midde van dit alles kan ek egter getuig van die Here se teenwoordigheid en nabyheid. Ek was elke oomblik van die dag bewus van ’n IETS in my kamer waar ek gelê en worstel het met my eie gedagtes. Hierdie IETS het my nie ontstel nie, maar het groot rustigheid aan my geskenk. Ek weet dat dit die Here is wat daar teenwoordig was.”

LEES OOK: #2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

Volgens Carin vra sy elke jaar tydens haar verjaarsdag ’n donasie wat in haar naam oorgedra word “aan een of ander saak of NRO”. “Ek het nogal gewonder wat ek moet vra hierdie jaar … Hierdie jaar neem ek die vrymoedigheid om te vra dat julle R51 of veelvoude van R51 skenk om my te help betaal aan my onkologie-rekening, want daar is gedeeltes wat nie deur die mediese fonds gedek word nie,” het Carin op Facebook geskryf.

“Elke bydrae word uit die diepte van my hart waardeer en help om die nodige geldjie bymekaar te sit om ’n rekening wat groei, te betaal.”

  • Die bankbesonderhede om Carin met haar mediese rekening te help:

R James Laporta

Standard Bank

Reknr 072 903 317

Takkode 051 001

Verwysing: MHC642

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF