Navorsing toon aan dat mense met Downsindroom ’n tien keer groter kans het om aan Covid-19 te sterf. Twee ma’s vertel hier hoe hulle en hul geliefde gestremde gesinslede saam moes planne maak om die virus vry te spring.
DEUR JACOBIE M HELENA
“Ek is heel gelukkig om nie baie uit te gaan nie, want ek weet ek kan baie siek word as ek Covid-19 kry. My ma beskerm my.”
Só vertel Pietie Bell, ’n 30-jarige man met Downsindroom. Pietie en sy ouers, Elisma en Pieter, woon in Worcester in die Wes-Kaap. Elisma en Pieter het reeds met die uitbreek van die koronaviruspandemie in 2020 besluit om hul seun se kontak met ander mense drasties te beperk, omdat Pietie hom in ’n hoërisikogroep bevind.
Elisma vertel hoe die hele familie tydens die Desembervakansie moes saamwerk om Pietie te beskerm. “Ons het hom soggens seweuur in die see laat swem, voor daar ander mense op die strand was. Ons het nie restaurante besoek nie.
“My kleindogter, Illy Bell (7), was so oulik om vir Pietie wegneemetes te bring wat hy tuis bloot kon warm maak.
“Die ander kleinkinders, Mia (8) en Zoë (5) Bell, het nie op die klimrame gaan speel nie, juis omdat hulle bang was ‘die kieme’ kon Pietie siek maak.”
Elisma vertel dat haar man Pieter ’n skoolreünie moes opgee. Hulle moes hul kuierplanne by hul ander kinders in Johannesburg ook laat vaar. “Maar alles was die moeite werd vir ons ou Pietie-padda!”
Pietie het intussen sy eerste inenting ontvang. Hy kan egter eers in Oktober sy tweede inenting kry.
Downsindroom SA pleit sedert Januarie 2021 by die Ministerie van Gesondheid dat mense met Downsindroom, oftewel Trisomie 21, toestemming kry om vroeër die Covid-19-inenting te mag ontvang. Volgens Elisma is dié vergunning nog nie gemaak nie.
Karavaan-kuier weens Korona
Uit Namibië vertel Rentia van Vuuren, wat vroeër vanjaar haar dogter Nita Muller se liefdesverhaal vir LiG vertel het, wat hulle gedoen het om hul dogter en skoonseun Gert te beskerm.
“Ons as ouerpare het besluit dat Nita en Gert nie aan ander mense blootgestel moet word nie. Dié twee het pal masker gedra en hul hande gereeld gesaniteer.
Dit was nie so eenvoudig soos wat dit mag klink nie, vertel Rentia. Mense met Downsindroom is lief daarvoor om hul lippe nat te lek, en die tong is altyd in die pad. Dan het Nita sommer die masker tot onder haar ken getrek.
“Gert was egter kwaai en het haar gou-gou aangepraat: ‘Vrou, sit op jou masker!’”
Dit was aanvanklik makliker, met Gert en Nita wat in ’n eenslaapkamerhuis op Gert se ouers se plaas naby Hochfeld woon. Die situasie het egter verander toe Gert se ouers Covid-19 opgedoen het. Almal het hulleself onmiddellik afgesonder.
Die eerste twee dae ná die diagnose het Gert se ma nog hul kos op ’n skinkbord tot op die stoep gebring, maar Rentia en haar man het besluit om Nita en Gert eerder te gaan haal om vir eers by hulle op die plaas naby Outjo te kom woon.
Daarop het Nita en Gert in ’n karavaan ingetrek. Daar het hulle hulle vyf dae lank afgesonder, totdat Rentia hulle vir Covid-19 laat toets het.
Sy vertel: “Hulle het gelukkig negatief getoets en het daarna sowat ’n maand in die karavaan gebly. Hulle het getrou masker gedra, hulleself en die karavaan gestoom, en heeltyd gesaniteer. Ons is dankbaar dat al twee intussen ten volle ingeënt is.”
Die risiko
Mense met Downsindroom is vyf keer meer geneig as die algemene bevolking om as gevolg van Covid-19 in ’n hospitaal opgeneem te word, en tien keer meer geneig om daaraan te sterf. Só lui bevindings wat in die wetenskaptydskrif Science Magazine gepubliseer is.
Ancella Ramjas, Nasionale Uitvoerende Direkteur van Downsindroom SA, verduidelik dat dit nie die gestremdheid as sodanig is wat mense met Downsindroom meer vatbaar vir Covid-19 maak nie. Dis eerder aangesien sulke mense meer geneig is tot bykomende gesondheidskomplikasies – wat infeksies in die boonste lugweë, vetsug, hartkwale en diabetes insluit. Weens hul beperkte kognitiewe vermoë sukkel mense met Downsindroom om byvoorbeeld voorkomende maatreëls soos sosiale afstand en higiëneprotokol toe te pas. Hulle is ook meer afhanklik van ander mense om in hul persoonlike behoeftes te voorsien, en dit maak dit vir hulle moeilik om te isoleer. Daarby gaan hulle dalk tuis in ’n oorvol woon- en versorgingsentrum.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.