Die afgelope maande het uitdaging ná uitdaging vir een van Suid-Afrika se bekendste en mees geliefde skrywers meegebring. Annelie Botes vertel dit het haar tot op die grens van moedeloosheid en wanhoop gebring.
Dié bekende skrywer het 17 boeke agter haar naam. Haar jongste, Katvis, was weke lank op die topverkoperlyste. En Raaiselkind is in ’n fliek omskep. Sy sê sy is bitter dankbaar vir die sukses wat haar boeke behaal het. Vir duisende lesers wat vir haar soos broers en susters geword het. En vir ontelbare mense wat tydens haar en Chris se trauma op hul knieë was vir hulle.
Annelie, ’n diabeet, was uiters geskok toe sy moes hoor sy gaan haar een been verloor ná komplikasies met ’n aaromleiding. Sy beskryf haar emosies só: “Dom. Stomp. Stom. Gelate. Geslane.”
Annelie Botes vertel van haar gesondheid: ‘En toe is my been weg’
Dis een van die moeilikste uitdagings nóg wat sy moes trotseer. In haar eie woorde: “Mý been, waarmee ek 65 jaar lank die wêreld platgeloop het. Pophuise gebou het. In die plaasdam geswem het. Sandkastele gebou het by my oupa se strandhuis in Plettenbergbaai. Netbal en tennis gespeel het. In die kerkpaadjie afgestap en by die doopvont gestaan het. Tuine gemaak het. ’n Jaar lank ’n ouma opgepas het. Agter balhorige kasteelkinders aangehardloop het. Op verhoë en in feestente gestaan het. Die fynbosberge en klowe geklim het vir Klawervier se navorsing … En toe is my been weg. Net weg.”
In die swaarkry-tyd, nadat sy besluit het dat sy nie meer kan veg nie en nie meer die krag het om te veg nie, het sy een aand gedroom van ’n klein, sterk, dapper dogtertjie wat haar bystaan. Sy vertel: “Een nag het ek ’n droom gehad dat ek 42 jaar lank verdwaal het in ’n woestyn in Japan. Ek was in ’n houthut aan die voet van ’n sandduin vasgekeer. Daar was in die droom níks van my liggaam oor nie. Geen spiere of bene of oë nie, en ek was geklee in ’n swart chiffongewaad wat om en om die ‘niksheid’ gewapper en gedraai het. Die wind het huilend gewaai. Die sand was besig om buite die hut se deur op te hoop en ek het desperaat geweet ek moet uitkom. Toe ek uit is, skep die stormwind my en waai en waai en waai my heen en weer oor die woestyn, terwyl die chiffongewaad soos honderde vlerke rondom my waai.
“Toe waai ek tot by ’n rivier, en op die wal staan ’n dogtertjie. Die wind het my reguit na haar toe gewaai. Ek het langs haar neergestryk en gevra wat is haar naam. Sy antwoord: ‘Annelie Basson’ (my nooiensvan). Ek het daar besluit om te veg en nie nou op te gee nie.”
In daardie oomblik het sy besef dat hierdie dapper dogtertjie in haar wag om haar te help om te oorwin.
Annelie se begin van ’n nuwe reis
Die amputasie het nie die einde van haar reis beteken nie; eerder die begin van ’n nuwe een. Dit was ’n lang en pynlike proses om die verlies te aanvaar. En hoewel daar ’n soort vrede gekom het, sal sy nooit ten volle daarmee vrede maak nie. Annelie besef dat sy die res van haar lewe sal hulp nodig hê. Of sy ’n prostese het of nie.
Sy het geleer aanvaar dat sy gestrem is – maar sy het nie haar verstand verloor nie. Selfs in haar swaarkry het sy haar oopgestel vir die wêreld deur te besluit om haar koerantrubrieke voort te sit, iets wat haar ’n gevoel van vervulling gee.
Te midde van al die donkerte was daar iemand wat haar sterk gehou het – haar man Chris, oftewel “die Gryse”, soos Annelie hom dikwels noem. Hy is haar rots, haar stil steunpilaar, wat met geduld en liefde na haar omgesien het en dit steeds doen. Hulle het ’n sterk band, en Annelie is diep dankbaar dat hulle finansieel goed genoeg daaraan toe is en oor ’n uitstekende mediese fonds beskik.
‘Annelie Botes se boeke: 17 boeke is genoeg’
Annelie besef dat sy Chris selfs meer liefhet as ooit, en dat sy die jare wat vir hulle oorbly saam met hom wil koester.
Sy het 17 boeke geskryf – deurgeworstel, gepubliseer en bemark. “Dis genoeg,” sê sy. Sy wil eintlik net een ding waarlikwaar regkry, en dit is om goed te wees vir Chris.
Sy was maar 16 toe sy hom liefgekry het, en die volgende halfeeu het sy meer aandag aan skryf en verwante sake gewy as aan hom. Hy moes altyd tweede viool speel en by haar aanpas. Sy sê dat sy dikwels erg ongeduldig en krities en kwasterig kan wees, dat sy haar mond maklik uitspoel. Nou wil sy hom net liefhê. By die see gaan roomys koop, saam met hom rugby kyk. ’n Entjie in die misreën ry en saam wintersop met kluitjies eet. Dis vir eers genoeg.
Wanneer sy heeltemal gesond is, en dalk ’n prostese het, sal die saamdoen-dinge gaandeweg meer word.
‘Jy is net ’n mens’
Annelie sê haar huidige grootste uitdaging is om hul huis te verkoop. Sy noem dit haar “pophuis”, wat hulle in 1998 in North Riding in Port Elizabeth (nou Gqeberha) gekoop het.
En in Augustus trek hulle na hul pragtige, ruim kothuis in Waltonpark-aftreeoord. Daar sal hulp beskikbaar wees vir Chris; Annelie sê sy weet hy kan nie so alleen met haar aansukkel nie. As hy iets oorkom, sal sy in ’n haglike situasie wees. Haar “blyste bly” is dat daar ’n paniekknoppie is wat hulle in die middel van die nag kan druk.
Haar pad na herstel en aanpassing is nog lank – daar lê onder meer twee groot operasies voor – maar sy het waardevolle raad vir ander wat soortgelyke uitdagings in die gesig staar: “Moenie jouself te hard oordeel nie, want jy is net ’n mens. Swartgalligheid is ’n normale emosie. Vind ondersteuningsgroepe, en maak jou huis vriendelik vir iemand in ’n rolstoel.
En, onthou, daar is altyd hoop. Annelie weet sy is elke oomblik in God se ICU. Dat Hy ook sy hand na haar sal uitsteek wanneer sy in ’n woestyn in Japan verdwaal. Hy sal haar weer lei na waters waar rus is …
LEES OOK: ‘Ek het skielik besef ek was so arm soos ’n geestelike boemelaar,’ vertel Danie Botha