DEUR NICO SMIT
Ek dink vandag aan jou: Jy wat verby die Engen-vulstasie ry en die flitsende bord met die brandstofpryse sien. Ek dink aan jou wat môre weer vir dieselfde bedrag as laas week moet petrol tap. Ek dink aan jou wat die brandstofliggie sien brand en wonder hoe jy môre by die werk gaan kom.
LEES OOK: Terwyl jy kop bo water probeer hou, onthou: Jesus kan op water loop
Ek dink vandag aan jou: Jy wat voel jy versmoor wanneer jy in die supermark se gangetjies loop en moet kies wat jy in die mandjie kan laai en wat jy moet los omdat daar te min geld in jou beursie is. Ek dink aan jou wat, toe jy die melk en brood se prys sien, besef jy kan nie die vleis in die mandjie pak nie. Ek dink aan jou wat weet hoe roerbraai sonder vleisrepies smaak, en ’n pastagereg sonder maalvleis.
Ek dink vandag aan jou: Jy wat angstig voel as jou kinders by die huis kom en sê die skool hou ’n “civvie-dag” teen R20 per kind, en jy wonder waar die geld vandaan gaan kom. Ek dink aan jou wat hoor hoe jou kinders vertel wat hulle maatjies alles het en dat hulle dit ook graag wil hê, en jy voel dat die aarde jou liefs moet insluk. Want jy weet die maatjies se duur selfone en spoggerige kameras sal vir jou kinders net ’n droom bly.
Ek dink vandag aan jou: Jy wat maande laas iets nuuts kon koop om aan te trek omdat jy dit wat jy kan afknyp eerder op jou kinders uitgee. Ek dink aan jou omdat jy verlede jaar se winterbaadjie weer moes gaan uithaal. Jy sug, maar jy is nogtans dankbaar dat jy dit vyf jaar gelede by Woolies gekoop het, want dit sal nóg ’n winter moet hou.
Ek dink vandag aan jou: Jy wat kyk hoe die syfertjies op die kragmeter lyk, en dan probeer om soveel moontlik elektrisiteit te spaar. Ek dink aan jou wat aand ná aand, wanneer dit beurtkrag in jou buurt is, in die donker sit met ’n kers in ’n ysige woonstel. Jy, wat wonder hoe lank jou yskas nog gaan hou omdat al die kragonderbrekings dit verniel.
Ek dink vandag aan jou: Jy, ma en pa, wat elke dag hard werk, en wat voel julle kom net nie voor nie. Jy wat voel dat die salaris wat aan die einde van die maand in jou rekening inbetaal word soos krummels op die grond beland. Jy, wat nie meer die mediese fondsbydrae of die versekering kan bekostig nie.
Ek dink vandag aan jou: Jy wat smag na ’n ete by ’n braairestaurant, maar weet dat dit ’n duur, eintlik onbekostigbare, luukse is. Jy, wat bloot hoor van al die mooi programme op DStv of die Netflix-stromingsdiens en besef dat jy dit nooit sal kan kyk nie.
Ek dink vandag aan jou: Jy wat vandag, wanneer jy jou stokou kombers oor jou trek, jou kop in die kussing druk. En die trane, sonder om terug te hou, oor jou wange laat loop. Jy wat voel dat jou gebede, jou klaaglied, jou noodroep, nie gehoor word nie.
Ek dink vandag aan jou – en ek dra jou op aan ’n God wat alles verstaan, selfs die swaarste swaar. Mag Hy jou leë erdekruik vanaand kom vol maak, en mag jy besef Hy los nooit sy leë-kruik-kinders alleen nie. Mag sy donskombers jou vannag toevou. En mag jy môre opstaan en met ’n soort vrede rondloop wat jou verstand te bowe gaan.
Ja, ek dink vandag aan jou.
- Dr Nico Smit is ’n leraar en kliniese berader by Dalpark-gemeente aan die Oos-Rand, waar hy verantwoordelik is vir die pastorale versorging.
- Dié rubriek verskyn in die boek Ek weet dit alte goed (Bybel-Media) en is deur die skrywer self effens verwerk vir dié plasing. Koop Ek weet dit alte goed hier.