Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek fokus op die klein wonderwerke,’ sê kwadrupleeg op sy herstelpad

Juan Louis van der Vyver se lewe het op 14 Oktober 2017 onherroeplik verander. Dié eens kranige sportman het tydens ’n mannebraai voor sy troudag in ’n swembad geduik en sy nek gebreek. Hy was maar 23 jaar oud. 

 DEUR JACOBIE M HELENA

“Dit was ’n warm dag in Pretoria,” vertel hy. “Ek wou in die swembad afkoel. Tot vandag toe weet niemand waar ek my kop gestamp het nie.”

Hy weet wel dat hy sy C4- en C5-nekwerwels gebreek het. In ’n oogwink was hy ’n kwadrupleeg.

LEES OOK: ‘Hoekom laat leef God my gestremde seun, en my gesonde kind sterf?’

“Die dokters het gesê dat ek nooit weer sou loop nie, dat ek van my nek af ondertoe verlam sou wees. Hulle het ook nie gedink dat ek enigsins sou kon herstel nie.”

Juan Louis het gou ná die ongeluk besluit dat moed opgee nie ’n opsie is nie. Terwyl hy aanvanklik slegs sy oë kon beweeg, het die fisioterapeute hom gehelp om sy brein te herprogrammeer sodat hy ook sy arms en bene kon begin gebruik. Hy vertel: “Toe ek die eerste keer gehelp is om regop te staan, het dit my bygeval dat ek eintlik nogal lank is.” Foto verskaf

Dit alles vertel Juan Louis in ’n YouTube-video waar hy sy getuienis reeds met byna 5 000 mense gedeel het.

Juan Louis vertel dat hy voor die ongeluk ’n kranige sportman was. Hy het byna elke sportsoort op skool beoefen en was veral baie lief vir swem en hardloop. Foto verskaf

Maar vandag, byna vier jaar later, beleef Juan Louis die bykans ondenkbare: Hy loop weer. Hy vertel: “Ek loop in en om die huis, sonder enige kruk of ander hulpmiddel. Wanneer ek uitgaan, gebruik ek egter meestal loopstokke. Maar ek is heeltemal onafhanklik, ek kan alles self doen.”

Juan Louis van der Vyver is volkome selfversorgend. Dit ten spyte van ’n swembadongeluk in Oktober 2017 waartydens twee gebreekte nekwerwels hom ’n kwadrupleeg gelaat het. Hy gebruik nog net sy loopstokke as hy, soos hier in Desember 2020 by die V&A Waterfront in Kaapstad, tussen ander mense uitspan. Hy doen tans praktiese ondervinding op as geoktrooieerde rekenmeester in Table View, Kaapstad. Foto verskaf

“Voor die ongeluk het dit gelyk asof alles in my lewe perfek was. Alles het verloop soos wat ek dit beplan het. Ek het gedink as ek hard werk, ’n goeie loopbaan volg, die regte mense ken en baie geld maak, die lewe fantasties sal wees. En toe gebeur die ongeluk.”

LEES OOK: Gestremdes en jou kind

So het sy perspektief op die lewe heeltemal verander. Deesdae beskou hy terugslae as nuwe geleenthede. Hy glo dat as die een deur toegemaak word ’n nuwe een sal oopgaan. Dit gebeur nie noodwendig dadelik nie, sê hy. “Maar die regte geleentheid sal sonder twyfel oor jou pad kom. Jy moet net geduldig wees.”

Hy bieg: “En ek was nog altyd baie ongeduldig. Maar die ongeluk het my geleer om geduldig te wees en nie op mý planne te fokus nie. Ek het geleer om God se plan te volg, al beteken dit ek moet my planne opskort. Hy weet altyd beter, en Hy wil net die beste vir sy kinders hê.

LEES OOK: ’n ‘Skewe potjie’ vind haar deksel

“Ek dink dat mense oor die algemeen nie die klein wonderwerke in die lewe raaksien nie; ons fokus eerder op die groot wonderwerke. Dis ook laasgenoemde wat deur die media aan die groot klok gehang word. En só loop ons die klein wonderwerke mis. “Ja, die herstel wat ek tot dusver beleef het, ís ’n groot wonderwerk. Maar elke dag kry ek ’n bietjie meer van my balans terug, of ek kry ’n bietjie meer gevoel in my liggaam terug – en dít is die wonderwerke waaroor ek wil getuig.”

Sy raad aan mense wat swaarkry en sukkel?

“Moenie vaskyk in wat in jou lewe skeefgeloop het nie. Dis verby. Dit hét gebeur. Ja, jy kan maar erken dat dit nie lekker is nie, maar jy weet tog dit kan nie verander nie. Kyk eerder vorentoe, en doen jou bes om jou omstandighede te verander. Rig jou oë op die toekoms, en verander dit waaroor jy wel beheer het.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Jy kan ons help nog meer Bybels versprei en die Evangelie verkondig

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir Jesus leer ken

Kinderpret-leesreeks Storietyd

Beleef ‘n pret, leersame en avontuurlike leesreis vir jong lesers

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF