Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek het besef my dae is weer gevul met lig. Ek is vry,’ vertel vrou ná huisroof

DEUR MARIËTTE THEART

Ek sal die oggend van 22 Januarie 2015 nooit vergeet nie. Ek was 15 weke swanger met ons tweede seuntjie; ons oudste was 15 maande oud. Ons gesin het toe pas na Durban verhuis.

Daardie oggend het my seuntjie Daniël so teen vieruur wakker geword en gesukkel om weer aan die slaap te raak. My man Fred het later vir hom gaan melk haal, maar hy wou net nie rustig word nie. Ons twee worshonde was ook kriewelrig. Net ná vyfuur het almal egter bedaar en ons het verder geslaap.

LEES OOK: ‘Ek is nie sterker nie, maar nie meer bang vir klein dingetjies nie,’ vertel jong vrou ná borskankerstryd

Ek het wakker geskrik toe my man ’n vreemde geluid maak. En toe ek my oë oopmaak, sien ek hoe drie mans deur die balkon se oop skuifdeur ons kamer binnekom. Ek het onmiddellik my seuntjie gegryp en die noodknoppie gedruk. Instinktief het ek geweet ek moet uit die kamer kom, ek het geskree en begin hardloop.

Mariëtte en haar man Fred is albei beseer nadat drie mans hulle in hul huis in Durban aangeval het. Vandag woon die gesin in Malmesbury. Foto verskaf

Ek het reg voor die huis se voordeur geval, met my seuntjie in my arms, maar dadelik opgespring en verder gehardloop. Gelukkig was die bure naby en ek het verwoed aan die naaste buurman se deur geklop. Geskreeu hulle moet my seuntjie by my vat sodat ek my man kan gaan help. Die buurman het kopgehou en my man gaan help, terwyl ek saam met Daniël in hul huis agtergebly het.

In ’n stadium het ek uitgegaan en gesien hoe Fred ons voordeur vir die rowers oopmaak. Die buurman het kom sê dat Fred die motorsleutels vir hulle gegee het. Ek was baie verlig. Alles was verby . . .

Alles was nié verby nie

Ek wou net by Fred wees, seker maak dat alles oukei is.

Maar toe ek wou uitgaan, het almal my probeer keer. Ek het gesien my man lê op die grond, daar was komberse oor hom en mense wat om hom staan. Iemand het kom sê hy is met ’n mes in die rug gesteek, hulle wag op ’n ambulans.

Dit het gevoel soos ’n nagmerrie waaruit ek nie kon wakker word nie. Ek moes terug in die huis in om aan te trek en klere vir Fred te kry. Eers toe het ek besef dat ek my voet seergemaak het.

Mariëtte is sedert 2020 mede-eienaar van MaWees. Dis ’n platform wat ander ma’s bereik en hulle aanmoedig om nader aan die Here te leef. Foto verskaf

Nadat die ambulans Fred weggeneem het, het my buurman vir my en Daniël ook hospitaal toe geneem. Maar ek kon nie uit die kar klim nie; my voet was te seer. Ek is met ’n rolstoel na die ontvangstoonbank om die nodige vorms in te vul sodat Fred opgeneem kon word. Toe het ek vir die eerste keer gesien hoe lyk my voet – opgeswel, potblou.

Ek is ook gestuur om X-strale te laat neem. Maar omdat ek swanger was, wou ek eintlik net by my ginekoloog uitkom om seker te maak dat my ongebore kind oukei is. By die ginekoloog vind ek toe twee dinge uit: Daar was nie probleme by die baba nie. En die baba is ’n seuntjie.

Ek het gevra om na my man geneem te word. Die verpleegsters was besig om sy wond skoon te maak, hulle het steke ingesit.

My hart was vol. My man en Daniël en ons baba was ongedeerd.

Drie maande se ellende

Maar ’n nare ontnugtering het voorgelê. Ek moes terug na die ontvangstoonbank, en daar het ’n klomp mense my ingewag. Ek is meegedeel dat ek dadelik geopereer moes word: Daar is ’n been in my voet gebreek.

Ek kon my ore nie glo nie. “Ek kan nie geopereer word nie!” het ek teëgekap, “ek is swanger!” Buitendien, wie gaan na Daniël kyk as sy ma en pa al twee op die krukkelys is?

Ek het gewag totdat my ouers gekom het. Hulle woon 300 km ver, maar hulle het dadelik kom help.

Ná die voetoperasie is ek huis toe, krukke en al. En met ’n dringende waarskuwing om nie op die voet te trap nie.

Alles was min of meer onder beheer – tot so ’n week later. Die voordeurklokkie het gelui, Daniël het geskrik. En sonder om te dink, het ek opgespring en hom opgeraap. Ek het my balans verloor en hard op die geopereerde voet getrap. Dit was bitter seer.

Nuwe X-strale het gewys hoe die ingeplante skroef uit die been getrek het. Daar sou weer geopereer moes word.

Dit was ’n ellende wat drie maande lank geduur het. Want ná altesaam tien weke wat ek met krukke oor die weg moes kom, moes ek nogeens geopereer word om die skroewe uit te haal. Met my swanger lyf wat ál groter geword het. En ek moes my seuntjie versorg sonder om op my voet te trap. En sonder pynmedikasie.

’n Kinderbybel word my anker

Op 6 Julie 2015 is ons tweede seuntjie gebore – Luka. Dié naam beteken “lig”. Deur sy geboorte het die Here ons gewys hoe helder die lig is as jy aan donkerte gewoond was.

Maar ek het steeds met angs gesukkel. Dit het die hele tyd gevoel asof daar ’n teiken op my rug is. Ek het die gordyne toegetrek gehou, die deure gesluit en met ’n noodknoppie rondgeloop. Dit het gevoel asof iemand my dophou …

Mettertyd het die vrees ’n tronk geword. Ek het deurentyd hoofpyn gehad, siek gevoel. Dit was later “normaal” om so te voel. Die angs was so oorweldigend dat ek vergeet het hoe dit voel om lig en vry te leef.

In daardie tyd het ek net probeer oorleef, en om vir my seuntjie te sorg. Die Here was ver, onbereikbaar ver. Ek was eensaam, ver van my vriende en my ondersteuningsnetwerk. Soms was ek so desperaat dat ek my seuntjie se Kinderbybel gelees het. Ek was op soek na antwoorde, na hoop.

En só het ’n Kinderbybel my anker geword. Daar, in my seuntjie se kamer, het ek beleef dat die Here getrou is.

Oop en vry

’n Bietjie meer as ’n jaar ná die huisroof  moes ons weer trek. Dié keer na Malmesbury in die Swartland. Dit was vir my ’n emosionele stryd omdat dit gevoel het asof ek pas weer my lewe begin herbou het.

Maar dié verhuising was ’n keerpunt in my lewe omdat die Here ons in ’n geloofsgemeenskap geplaas het waar ek ware vryheid deur Jesus kon ontvang.

Ek onthou hoe ek eendag in ons nuwe huis gestaan en ewe skielik besef het: Die vensters en deure staan oop, en ek is nie bang nie! Toe het ek besef dat my dae weer met lig gevul is, en ek het geweet ek is vry.

Ek het tot die oortuiging gekom ek wil ander mense met hul genesingsproses help, en ek is tans besig met ’n honneursgraad in teologie. Ek fokus op Christelike berading.

Slegs Jesus kan ’n mens werklik vry maak, maar ek het self beleef hoe ’n groot rol mense in ons kerk in my vrymaking gespeel het.

Ek hou vas aan Johannes 1:5: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”

  • Mariëtte is sedert 2020 mede-eienaar van MaWees. Dis ’n platform wat ander ma’s bereik en hulle aanmoedig om nader aan die Here te leef.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.