Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek het eers net van God geweet; nou lewe ek vir Hom’

In 2017, gedurende ’n jagnaweek in Limpopo, het daar iets groots skeefgeloop: Ek het deur die nag erge pyn in my bene verduur, en die volgende oggend opgestaan met ’n groot pers kol onder my vel. Ek het nie geweet wat dit was nie en ons is dadelik na ’n nabygeleë mediese sentrum.

LEES OOK: Vrou oorleef 88 000 volts: ‘Ons herdenk elke jaar die wonderwerk’

Ná ’n klomp toetse was die personeel egter steeds nie seker wat fout is nie. Ek is na die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria gestuur. Daar is verdere toetse op my uitgevoer. Ure later het die dokters vasgestel wat die probleem is: Dit het geblyk dat my femorale slagare in al twee bobene spontaan geskeur het.

Die enigste rede waarom ek nie in die loop van die nag doodgebloei het nie, was die bloedklonte wat in albei are gevorm het.

Daarop is ’n femoraal-na-femoraal-omleiding op my uitgevoer.

Die dokters het verder vasgestel dat ek ’n toestand onder lede het wat my bindweefsel aantas en dit maklik laat skeur. Dis ’n kombinasie van Ehlers-Danlos- en Marfansindroom, maar opsigself het dit nie ’n mediese naam nie.

Die medici het kopgekrap. ’n Professor het gesê hy het dit nog nooit voorheen gesien nie.

Baie vrae, en toe …

Ná die diagnose was daar baie vrae oor my gesondheid. Almal was onseker. Dit was vir my ’n groot ontnugtering om te besef dat ek dalk nie altyd daar gaan wees vir my gesin nie.

Ek het gewoonlik elke dag geoefen en gedraf, maar ná die diagnose was ek bang dat strawwe oefening dalk nog ’n skeur kon veroorsaak.

Maar mettertyd het alles na normaal teruggekeer en ek het weer begin om voluit te lewe. Ek het toe nog nie besef dat die Here besig was om in my lewe te werk nie.

Een aand in 2019 skrik ek wakker met ’n vreemde gevoel in my bors. Ek kon skaars asemhaal en het gesukkel om te sluk. Ek was tot die dood toe bang, in so ’n mate dat ek my vrou en dogter tot siens gesoen het in hulle slaap.

My grootste vrees was dat iets sou gebeur en dat hulle my daardie oggend só sou kry. Daarop het ek my vrou wakker gemaak sodat sy my hospitaal toe kon neem.

Ek is in die vroeë oggendure gestabiliseer – en ’n paar uur later ontslaan. ’n Abnormale hartritme, het die dokters gesê.

’n 30%-kans op oorlewing

Maar in November 2022 het daar ’n verdere terugslag gevolg toe my kolon gebars het. Die dokter het my ’n 30%-kans op oorlewing gegee. Ná vele noodoperasies, en met ’n liggaam wat in ’n septiese skoktoestand verval het, is ek na die hoësorgeenheid oorgeplaas. Daar het ek byna ’n maand deurgebring, en ek moes nog operasies ondergaan. En ’n stoma-sakkie dra.

Ek moes opnuut leer loop. Uiteindelik is ek net voor Kersfees daardie jaar ontslaan.

Die spesialis het gewaarsku dat ’n stoma-omkeer ’n baie groot risiko inhou en dat dit veiliger is om bloot te leer om daarmee saam te leef.

Maar die aanpassing was moeilik en in April verlede jaar het ek die stoma laat verwyder. As gevolg van my bindweefsel-probleem het die operasie byna ses ure geduur, maar dit was ’n sukses.

Die grootste skok

Maar toe kom die grootste skok: Daardie Augustusmaand het my eggenoot van 12 jaar my laat weet sy is nie meer gelukkig in ons huwelik nie en dat sy wil skei.

Ek was teen die grond. Ek kon nie meer nie. Ná alles wat gebeur het – hoekom?

Ek het met donker gedagtes geworstel. En gewonder of alles nie maar moet klaarkry nie …

Ek was op die punt om my lewe te beëindig. Maar binne-in my het iets gesê: “Hou aan. Hou uit. Veg vir jou dogter, veg vir jou lewe.”

En ek het besef dat daar iets in my lewe kortkom.

Ek het uitgevind dat my lewe leeg is sonder God. Ek het Hom leer ken as my Toevlug, my Redder, my Verlosser.

Hy is dit steeds.

Binne ’n kort rukkie het die Here my gebring tot waar ek tans is: van iemand wat bloot van Hom geweet het tot ’n mens wat nou vir Hom lewe.

Die Lig in my lewe

Ek het nog ’n lang pad wat voorlê en ek het baie om te leer, maar ek plaas al my vertroue in Hom. Ongeag hoe donker dit mag wees, ek weet God sal daardie lig wees wat helder skyn en my die regte koers aanwys.

My verhouding met my tienjarige dogter is baie spesiaal. Om te weet ek kan elke week saam met haar kerk toe gaan en haar help om vir God te lewe is meer werd as wat enige aardse skat kan wees.

As gevolg van die egskeiding het ek ’n hele vriendekring verloor, maar ek het deur die Moreleta gemeente in Pretoria-Oos by ’n kleingroep aangesluit wat my bystaan. Ons vergader weekliks om koffie te drink en om oor God se goedheid en genade te gesels.

In Novembermaand het ek een dag gesit en teken: ’n gloeilamp met die woord “God” wat in die middel skyn. Ek het gevoel die Heilige Gees lei my om die getuienis te deel dat God die Lig in my lewe is.

Daarop het ek ’n aanlyn maatskappy Leap of Faith (LOF) van stapel gestuur. Ek maak klere met Christelike boodskappe daarop. Ek het geen sakekennis gehad nie, maar soms is dit nodig om ’n geloofsprong te waag! Al sien net een mens die boodskap, weet daardie persoon dat hy of sy altyd op Hom kan vertrou.

God se liefde en genade is oneindig groot. Ek glo Hy het ’n doel met die pad wat ek moes loop. Ek leer elke dag wat sy plan met my lewe is, en ek weet dis groter en beter as wat ek ooit kan dink.

  • Ruan Thiart (38) woon in Garsfontein, Pretoria. Hy werk as ’n gehaltebestuurder vir ’n ingenieurs-adviseursmaatskappy wat in die petrochemiese en vervaardigingbedrywe en die mynwese spesialiseer.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF