Een van die eerste dinge wat ek in die hospitaal moes doen, was om in ’n groot bad water met ontsmettingsmiddel te klim. Daarna moes ek my versigtig afspoel en met ’n sagte lap droog druk, en terugklim in die bed.
Eers toe ek in die badkamer kom, het ek besef hoe ek vir ander mense gelyk het. My groot bos krulhare was nou behoorlik gekroes.
Ek het onthou hoe die vragmotorbestuurder, terwyl ek ná die skok op die grond gelê het, in my hare gevroetel het. Toe ek hom later daaroor uitvra, het hy vertel hoe die rook uit my hare getrek het.
Daar was baie sulke stories wat ek eers later gehoor het. Soos waarom die elektriese skok steeds deur my is al het ek net aan Kevin gevat en nie aan die trok nie. Dit was omdat sy voete na aan die ysterstutte was en die grond die hoë lading elektrisiteit gelei het.
LEES OOK DEEL 1: Vrou oorleef 88 000 volts: ‘Here, bewaar my, ek is ál wat my kinders het!’
En waarom is Kevin nie weer bewusteloos geskok toe die elektriese stroom teruggekeer het nie? Dit was omdat ek die verste weg was van die ontmoetingspunt en my liggaam die geleier geword het. Op dié manier het die veld begin brand. Ék is dus die een wat die gras aan die brand gesteek het!
Die rede waarom ek toe geen pyn gehad het nie was omdat ek letterlik van binne na buite gebrand het. So het die senuweepunte op my vel weggebrand. Dit het wel later teruggegroei, en toe was dit bitter seer. Maar ten minste is daardie pyn my aanvanklik gespaar.
Op ’n dag het ’n inspekteur van Eskom my in die hospitaal besoek. Hy het ’n groot lêer onder sy arm gehad, en nadat hy hom bekendgestel het, het hy net na my gestaar. Ek dink nie sy oë het een keer geknip nie. Hy het gesê: “I don’t know why you and your boss are alive. I do not understand how anyone can get 88 000 volts and live to tell the tale.”
LEES OOK DEEL 2: Vrou oorleef 88 000 volts: ‘Dit was God se keuse om my te red’
Ek het herhaal wat ek vir die ambulansman gesê het. Hy het stil geluister, sy kop stadig geknik. En toe ek sê “God chose to save me today” het hy bloot opgemerk: “That’s the only explanation.” Toe het hy omgedraai en geloop. Hy het nooit die lêer oopgemaak nie.
Ons herdenk elke jaar daardie dag. Dis byna soos nog ’n verjaardag. Wanneer ek en my kinders op dié dag saam kan wees, geniet ons ’n lekker ete. Dan praat ons oor ons dankbaarheid vir die jare wat ons saam gespaar is.
Dis nou 27 jaar. Daar is baie stof tot dankbaarheid. ’n Neef wat by Eskom werk, het my eendag vertel dat hy nie kennis dra van enigiemand wat meer as 11 000 volts oorleef het nie. En dat dié wat so ’n hoë lading oorleef het die emosionele letsels lewenslank met hulle saamdra.
Wat ék daarop wil sê, is: “Thou wilt keep him in perfect peace, whose mind is stayed on thee: because he trusteth in thee. Trust ye in the LORD for ever: for in the LORD JEHOVAH is everlasting strength” (Jes 26:3,4, KJV).
‘The wind blows wherever it pleases’
Kevin is nege dae ná die ellendige ondervinding oorlede. Hy het nooit sy bewussyn herwin nie.
Ek het destyds oor Kevin se dood gebid en ervaar dat God vir my sê Hy weet presies wat Hy doen. My vriendinne het ook gesê hulle glo ons gaan hom in die hemel sien; daar was net te veel mense wat vir hom en vir my gebid het. Ek het ook ’n groot vrede in my gemoed ervaar.
Ek kon opstaan en die begrafnisdiens by die plaaslike Metodistekerk bywoon. Toe ek met my krukke en nekstut daar instap, het Kevin se niggie na my toe gekom en gesê sy glo Kevin het vrede gemaak met sy Skepper voordat hy gesterf het. Sy het vertel dat hy daardie laaste nege dae geen reaksie getoon het wanneer sy ouers, kinders, vrou of enigiemand anders met hom gepraat het nie. Maar toe sy, die niggie, op die negende dag in sy oor fluister “Kevin, it is Wendy, I have come to pray for you,” het sy wimpers geflikker. Hy het gesteun en beweeg asof hy hom wou wakker dwing.
Wendy het gesê sy het vir hom gebid. Hy het rustig geword en is kort daarna oorlede.
Sy het toe uit Psalm 42:7 aangehaal: “Deep calls unto deep.” En Johannes 3:8 gelees: “The wind blows wherever it pleases. You hear its sound but you cannot tell where it comes from or where it is going. So it is with everyone born of the Spirit …”
Ek hou dit nog altyd in my hart.
- Ek wil tog vertel hoeveel oneindige stof tot dankbaarheid ek het vir die jare wat my gespaar is. Ons het ’n jaar ná die insident ’n plaas gekoop in Mpumalanga en dit na 20 jaar afbetaal. Ons lewe baie goed, nie breed nie, en ontvang oneindig baie vriende uit Johannesburg en oraloor, om te kom baai in die vrede op die plaas. My kinders is albei getroud met gelowiges en my kleinkinders is gelowig. My dogter en haar man bestuur ’n rehabilitasiesentrum naby Sudwala. My seun en ek kweek plante vir die Gauteng-kwekerye, en ons brei nou ook uit na die kweek van organiese groente. Ek doen dit al bykans 15 jaar en nou gaan ons dit uitbrei om ’n groter mark te kan bedien. My lewe is vol en gelukkig!
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.