Ek was 32 weke swanger met ons liefste Bea-kind toe sy op 2 Februarie 2001 onverklaarbaar stil geword het. ’n Besoek aan die dokter het bevestig dat daar nie meer ’n hartklop hoorbaar is nie. Die seer het ons stom gemaak; ons vreugde is deur skok vernietig.
Nou was dit net ons en God, en God en ons. Vrae sonder antwoorde en antwoorde sonder vrae het ons dae gevul. My man het haar die aand ná die geboorte gesien. Maar voordat ek my swaar oë kon oopmaak, is sy weggeneem.
My grootste begeerte was om Bea te ontmoet, om daardie lyfie vas te hou. Dit kon ek wel vier dae later doen, nadat ek die hospitaal verlaat het. Ek en my kosbare man het ’n doeksak gepak om haar te gaan was, roompies te smeer en poeier te strooi. En haar geboortepakkie, wat tuis gereed gelê het, aan te trek.
Sy was so volmaak – klein en pragtig. Ons kon die mooiste herinneringe aan ons hart vasknoop. Ons het haar saggies gesoen.
Pappa Nico het ’n pienk beertjie by haar klein voetjies in die wit kissie staangemaak. Met ’n briefie van ousus Dini, toe vyf jaar oud, en ’n tekening van boeta Hanru, toe twee jaar oud. So kon ons Bea in vrede laat gaan.
Oor die seer het geen mens beheer gehad nie, maar ons het geweet in wie ons geanker is.
Die werking van God se krag
Op pad hospitaal toe vir Bea se geboorte het my man Nico vir my tandepasta en ’n tydskrif gekoop. In die tydskrif was ’n uitnodiging om ’n getuienis te skryf oor hoe die Here ’n moeilike situasie ten goede laat meewerk het. Die idee het sag oor die seer in my hart kom lê – en net daar het ek gekies om Bea se storie ’n mooi einde te gee. Ek wou hoop en vrede vind en nie by die seer vassteek nie.
Drie weke ná Bea se begrafnis het ek, Dini en Hanru by my ouers op hul plaas gaan kuier. Onder die groot bome, waar die wind in my hart gefluister het, het Abba Vader my kom ontmoet. Hy het my gevang voordat ek kon val, en ’n passie om verder te studeer in my hart gelê. Hy het my ook gelei om, saam met nog ’n mamma, ’n ondersteuningsgroep te stig.
Ons groepie het talle seer ouers in die hospitaal besoek en bemoedig. Ons kon hulle bystaan om daar, terwyl dit so seer was, van hul kind afskeid te neem.
Die werking van God se krag deur die groep was merkwaardig, en die dankbaarheid en vrede by die ouers was ons grootste beloning. Soms het ons slegs gebid en ’n hand vasgehou; soms het die Here ons met meer vertrou. Nooit het Hy ons alleen en sonder wysheid gelaat nie.
In 2002 het die Here ons gesin met nog ’n pragtige dogtertjie geseën – Nihandri. Sy het nie gekom om Bea te vervang nie, maar om ons lewe op ’n wonderbaarlike wyse te verryk.
Ná tien jaar, waarin ek deur die Here se genade ouers kon bemoedig en self ook genesing gevind het, is daardie hoofstuk afgesluit. In dié tyd het ek ook twee grade behaal. En ek kon ons drie kosbare kinders wat op aarde aan ons toevertrou is tot selfstandigheid probeer lei.
En so was ek in 2011, ná byna 15 jaar tuis, gereed om weer met ywer die onderwysdrade op te tel.
‘Só het Bea ’n plek in ons hart gevind’
Ons gesin sal altyd van lewe ná die dood getuig, dat daar hoop ná wanhoop is. En dat God altyd goed is. Bea se lewe het op verskillende maniere ’n plekkie in ons hart gevind. Op 2 Februarie elke jaar vier ons haar ewige lewe, en dank ons God vir die voorreg om met die vrug uit die saad van haar lewe te kan leef.
Elkeen leef dit op ’n ander manier uit, maar my passie vir kinders word ryklik met die uitvloeisel daarvan omsoom. In die vuuroond van die lewe is ek van die warboel en voorgee van die lewe gestroop. Nou gaan dit vir my oor die hart van ’n kind, dit raak my, en dis veral daar waar ek ’n verskil probeer maak.
Sedert ek terug is na die onderwys het ek met ander oë na die kinders voor my begin kyk. Ek het my gereeld met dié vraag betrap: Wat sal Jesus oor die betrokke kind sê, of vir haar of hom doen?
Ek het ook begin om by die Here te hoor wat Hy graag vir elke kind sou wou sê. Met dit in gedagte het ek dan vir elke kind ’n bladsy vol seëninge voorberei. Dié het ek dan met die groetery aan die einde van die jaar oor hulle uitgespreek.
Ek aanvaar geen hoofstuk in my lewe meer as vanselfsprekend nie; ek pak alles met oorgawe aan, bloot omdat ek weet hoe kosbaar elke dag is. Ek het geleer dat om ’n verskil in ander se lewe te maak, jy jou voete op hoë plekke moet anker. Om dié rede wil ek gehoorsaam wees, en volg waar my Vader my ook al lei.
’n Nuwe seisoen van koninkrykswerk
Twee jaar gelede het ek beleef dat die Here my op ’n verandering in seisoen voorberei. Ek het baie gebid en vir leiding gevra, en telkens beleef: “The best is yet to come.” Ek was stil-tevrede en vol afwagting, want ek weet ons Vader maak nie foute nie.
Ek het begin om vir elke kind ’n bladsy vol seëninge voor te berei. Dié het ek dan met die groetery aan die einde van die jaar oor hulle uitgespreek,” verduidelik Stephna. Foto verskaf
In April 2022 het ’n sakeman, wat ’n nuwe skool op die been wou bring, my geskakel. Tydens die daaropvolgende ontmoeting het hy verduidelik my naam het sy ore bereik – en op die plek het hy vir my ’n pos aangebied. Ek was stomgeslaan en het my afgevra of ek wel aan die groot verwagtinge sou kon voldoen. Die Here het my aan sy belofte herinner.
My nuwe pos is so ’n verrykende en kosbare ervaring dat ek dit moeilik in woorde kan omskryf. As fasehoof van die grondslagfase by Mbombela Leadership Academy in Nelspruit het ek vier kosbare kollegas onder my vlerk. My kantoor, waar ons al ons vergaderings hou, staan as ons “War Room” bekend. Daar voer ons behoorlik oorlog teen die vyand. Die Here lei ons telkens tot klein én groot oorwinnings.
Die hele personeel vorm ook ’n hegte eenheid. Ons versterk mekaar elke dag, ons bemoedig mekaar, met die wete dat ons met koninkrykswerk besig is.
Voor ons sit meestal stukkende kinders, waarvan sommige reeds by hul sesde versorgingsplek is. Ander bly in ’n huis sonder venster of deur, wat nog te sê elektrisiteit of lopende water. Sommige wit skoolhempies het dae laas water of seep gesien; die kosblikke bevat slegs die basiese. Nogtans is die ogies vol dankbaarheid. Die skool se Vrydag-bederfies is ’n hoogtepunt.
Kleintjies, en mense soos hulle
Die perfekte prentjie wat ek vir myself ná byna 20 jaar in die onderwys geskilder het, is stadig maar seker besig om aan repe geskeur te word. Ek kry ’n groen plastiekfluitjie as verjaardaggeskenk; daar is wel die mooiste briefies denkbaar, op afvalpapier geskryf. My beker loop oor, want ek weet dat elke krom en skewe woord uit die hart kom.
Hulle vra so min, maar hulle deel met oorgawe drukkies uit. Dit het my aan die hart kom ruk.
Volgens Jesus se woorde in Matteus 19:14 behoort die koninkryk van die hemel juis aan die kleintjies en mense soos hulle. Waar kan ek dan vir ’n beter afsluiting van ’n kosbare loopbaan in die onderwys vra as juis by dié wat weet waaroor die lewe werklik gaan?
Ek weet dat die Here my wortels uit ’n perfekte wêreld losgemaak het sodat ek met albei voete in die werklikheid kan staan. Ek weet nou wat dit beteken dat almal gelyk voor God is. En daarom is elke klein oorwinning wat ’n kind behaal ’n reuse-voorreg om te aanskou.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.