DEUR ILETTE COETZER
Iewers in 1984 was Corrie West vir ’n gewone roetine-ondersoek by die dokter toe die arts ’n klein knop in haar regterbors vind. Ná ’n biopsie is borskanker by haar gediagnoseer. Sy was in haar vroeë veertigs.
Corrie vertel: “My regterbors is gedeeltelik verwyder; ek was veertien dae in die hospitaal. Die tegnologie was destyds nog glad nie so ver gevorder soos dit vandag is nie.”
Dit was vir haar ’n geweldige skok om haar lyf só te sien. “Ek was opstandig, ek het nie meer soos ’n vrou gevoel nie.”
Sy wou nie gehad het dat iemand vir haar blomme bring nie. “Die blomme is dan so mooi – en ek nie. Kyk net hoe lyk ek!”
Haar man en haar gesin het haar probeer troos, maar in daardie stadium was die verlies van haar bors te groot. Én, soos sy gereken het, die verlies van haar vrouwees. Sy het onwaardig gevoel, vertel sy.
Niemand vertel jou hoe erg dit gaan wees nie
Ná die mastektomie het Corrie bestraling in Bloemfontein ondergaan. Sewe weke lank.
Niemand vertel jou hoe erg dit gaan wees nie, sê sy. “Want die woord ‘bestraling’ klink dalk nie so erg nie, maar niemand berei jou voor op die eensaamheid van daardie pad nie. Jy stap alleen in die gang af, lê alleen in die donker kamer terwyl daar met jou lyf gewerk word. Niemand vertel jou dat jou liggaam ses weke ná die bestraling vol stukkende blase gaan wees nie. Jy kan nie beskryf hoe jou vel brand nie. Ek was maar baie onkundig en beslis nie voorbereid op al die newe-effekte nie.” Dit was een van die moeilikste fases in haar kankerstryd.
Corrie het destyds teen ’n rekonstruktiewe operasie besluit, en in 2012 is haar bors heeltemal verwyder. Sy sê sy sou dit nie sonder haar man se ondersteuning kon doen nie. Hy het aan haar gesê haar gesondheid is belangriker as haar borste – en as dit dan daarop aankom, moet albei borste maar verwyder word.
Corrie sê dit duur lank om jou nuwe lyf te aanvaar, én om te besef dat jy steeds alles kan doen wat jy voorheen gedoen het. Jy is steeds dieselfde mens met dieselfde behoeftes en dieselfde vaardighede. Jy kan nie in ’n hoekie gaan sit en jouself bejammer nie. Hier het haar geloof en die ondersteuning van haar gesin haar deur al die jare gedra.
Dit help en dit troos
Corrie het destyds as algemene klerk by Oranje Toyota gewerk en tussendeur deeltyds by Kansa gehelp. Een van hul projekte, Reach for Recovery, fokus op borskankerlyers. Indien jy as vrywilliger onder hul vaandel wil werk, moet jy self ’n kankerlyer wees. Corrie sê sy het in daardie tyd besef dat om ander te bemoedig die beste soort genesing vir jouself is.
In 1996 het sy by Oranje Toyota afgetree en voltyds by Kansa aangesluit. Sy het gereeld pasiënte in die hospitaal besoek. Elkeen het ná hul mastektomie ’n geskenksakkie van Kansa ontvang. Dié sakkie kon gebruik word om die dreineringspypies te verbloem. Elke sakkie het ook ’n gehekelde prostese en ’n kussinkie bevat wat die ontvanger daarvan onder haar arm kon plaas. “Hulle het later van die Corrie-kussinkies gepraat! Dit het ’n dubbele doel gehad: Dit het vir die pyn gehelp, én dit het getroos.”
Daar was ook pamflette met allerlei inligting in die geskenksakkie. Dit was onder meer op die kankerlyer se familie gerig sodat hulle kon weet wat die pasiënt deurmaak en hoe hulle teenoor haar moes optree. Daar was ook riglyne vir ’n reeks oefeninge om met die herstelpad te help.
‘Jy gee hulle hoop vir die toekoms’
Corrie vertel: “As ’n vrywilliger moet jy op jou beste lyk – jou prostese moet reg sit! Daarby moet jy ’n positiewe gemoedstoestand uitstraal. Die vrou in die hospitaalbed moet in jou sien hoe dit twintig jaar ná ’n kankerdiagnose lyk. Jy gee hulle hoop vir die toekoms; jy is eintlik vir hulle ’n spieëlbeeld van hulleself.”
Maar nie almal wil oor die siekte en die verlies praat nie. Elkeen hanteer die verlies van ’n bors op ’n eiesoortige manier. “Dis ’n baie eensame pad,” vertel Corrie. “Ander mense probeer jou help, maar jy is nie altyd op ’n emosionele plek waar jy hulp wil aanvaar nie. Niemand kan aan jou voorskryf hoe lank dit (moet) duur om vrede met jou situasie te maak nie.”
Vandag is die 78-jarige ouma Corrie, soos sy wyd bekend staan, steeds by liefdadigheidswerk vir Kansa betrokke. Sy maak prosteses in verskillende groottes, en sy samel geld in vir diegene wat nie spesiale bra’s kan bekostig nie.
Corrie sê sy word elke dag aan haar kankerstyd herinner. Maar sy bly vasklou aan haar geloof. “As die Here nie elke minuut saam met jou is nie, sal jy nie weer opstaan nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.