DEUR DEONETTE DE KOCK
Die afgelope jaar was vir Denise Vermeulen ’n reuse-uitdaging. Sy moes nie net haar man aan die dood afstaan nie, maar ook planne maak om haar drie kinders finansieel te versorg. So is Woudplankies gebore.
Denise Vermeulen (48) woon saam met haar drie kinders, Dirk (18), Karla (15) en Christiaan (12), op hul familieplaas ’n entjie buite Marble Hall.
In Juniemaand verlede jaar het sy haar man Drikus (52) aan die dood afgestaan. Hulle was 26 jaar lank getroud, sielsgenote. Saam het hulle die Kubu Kwena Lodge op die plaas bedryf.
In April 2020 is daar ’n klein gewas op Drikus se pankreas opgespoor. ’n Lang, komplekse operasie het gevolg. Denise vertel: “Die Covid-19-pandemie het tot gevolg gehad dat ek nie by hom kon wees nie. Daar het komplikasies ná die operasie ingetree en ongeveer ’n maand later is hy dood.
LEES OOK: ‘Ons kry ’n tweede lewe’
“Eensklaps is die mat onder my en die kinders se voete uitgeruk. Alles het aan skerwe gelê. Ek het asemgehaal, maar dit was asof ek nie meer gelewe het nie. Ek was ’n weduwee met drie kinders. Ek was onseker, bang. Geestelik moeg. Ek het nie geweet hoe om te bid nie.
“Ek het wel geweet dat die Here dit verstaan en dat Hy my vashou. Ek het al my gevoelens in ’n klein joernaal neergeskryf.”
Boksies …
Denise vertel hoe die Heilige Gees haar gehelp het deur “boksies” te skep – “omdat ek in prentjies dink”. Sodoende kon sy haar emosies logies rangskik. Daar is onder meer die kwaad-boksie, die stukkende boksie, die bang-boksie en die niks-maak-sin-boksie. Sy kon genoeg tyd in elkeen deurbring, welwetend dat die Here saam met haar daar in- en uitklim.
“In my gebrokenheid het ek aan die Here bly vashou,” sê sy. “Die lodge het ’n knou gekry met die grendeltyd en ek moes maar water trap. Maar God het engele oor ons pad gestuur om in ons finansiële uitdagings te voorsien. Ek het geleer om Hom in die storm te prys.
“Die betekenis van die liedjie Way Maker waarna ons so dikwels luister, het my laat besef dat die Here vir my en die kinders ’n pad sal oopmaak, dat Hy ons trane sal afvee en dat Hy ’n groter plan vir ons het.
“My getuienis lê nie altyd by die wonderwerk wat plaasvind nie, maar by die geloof, en om staande te bly.”
… en plankies
Denise het haar altyd op muurskilderye toegespits; in Februarie vanjaar het sy met hout begin werk.
LEES OOK: ‘Ek wens Ruben kon hulle sien,’ sê Lize Kruger oor hul dogters
Sy het houtpalette in die hande gekry en iemand het haar gehelp om plankies daaruit te maak. “Ek het toe begin om woorde wat ek tydens Drikus se siekte in my joernaal neergeskryf het, op die plankies te verf. Asook woorde uit Christelike liedjies. Mense in die omgewing wat swaar tye deurgemaak het, het die plankies met die woorde by my begin bestel. Ek kon sien hoe dit hulle aanraak en inspireer.
En so is Woudplankies gebore.
“Ek kon nie wag om stukkies van my seer, my rouproses en my hart op die plankies te verf nie. Die Here het dit vir my gestuur, dit kom uit sy hand.”
Waarom “Woudplankies”?
“My man se dokter het altyd gesê hulle is nog nie ‘deur die woud’ nie.”
Daar het nog palette gekom, Denise het die nodige gereedskap gekoop en iemand in diens geneem om haar te help. Aanvanklik is die plankies net vierkantig gesaag; mettertyd het die groottes en vorms begin wissel. Plankies-met-’n-boodskap het gevolg, ideaal vir ’n voordeur. Toe borde met ’n draadhandvatsel, en skinkbordjies. Elke item vertel ’n storie, ’n kort weergawe van haar woudwoorde-verhaal wat sy met elke koper deel.
Die afvalplankies is gebruik om blokkies te maak. ’n Vriend het haar aangeraai om die blokkies in ’n glasbottel te plaas, paraffien by te voeg – en siedaar: vuuraanstekers!
Aanvanklik het al die produkte slegs deur hoorsê bekend geword. Later het sy dit op Facebook en Instagram geadverteer. Toe het die bestellings begin instroom en die onderneming het vlerke gekry.
Denise vertel: “Op dié manier het die Here my uit die gat gelig waarin ek was, en só kon ek finansiële voorsiening vir my en my kinders maak. Woudplankies het vir seker gehelp om my hartseer te verwerk en om my verhouding met die Here te verdiep. Ek sien sy hand so duidelik hierin.
“En ek voel bevoorreg en geseënd dat Hy my talent gebruik het om soveel mense deur my projek aan te raak.”
- Volg Denise op Instagram by Denise_Naledi of stuur ’n e-pos na denisevermeulen5@gmail.com vir meer inligting.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.