Ursula Viljoen se seun beskryf sy verlamde ma só: “My ma se positiewe houding teenoor die lewe maak ’n groter impak as haar dade.” Hoewel die Viljoens reeds “groot” wonderwerke beleef het – hul dogtertjie is gesond gebore ná die baie ernstige motorongeluk wat Ursula verlam gelaat het – het hulle geleer om ’n Habakuk 3-lewe te lei. Asook om die wonderwerke in kleiner gebeurtenisse raak te sien.
DEUR MAGDA VENTER
Toe ek by Nicohan en Ursula Viljoen se huis ingaan, is dit slegs die kleinerige skuins oprit by die voordeur wat verklap dat Ursula reeds 26 jaar lank aan ’n rystoel gekluister is. En as jy net vinnig kyk, sou jy nooit kon raai dat hierdie goed versorgde, vriendelike vrou geen gevoel in haar onderlyf het nie. Sy was maar 23 toe sy haar nek in ’n motorongeluk gebreek het.
Ursula vertel hoe haar lewe op 16 Desember 1997 ingrypend verander het nadat hul motor op ’n gladde grondpad gegly en gerol het. Nicohan en die eenjarige Urico was gelukkig ongedeerd. “My kop was onmiddellik verskriklik seer en ek wou nie in die motor op die nooddienste bly wag nie. Teen sy sin het Nicohan my uit die motor getrek en sodoende verhoed dat ek my doodbloei.”
Later sou dokters bevestig dat haar nek by die S 6/7-werwels gebreek is en dat dit waarskynlik die verskriklike pyn veroorsaak het.
Boonop was sy in daardie stadium reeds vyf-en-’n-half-maande swanger met Unica. Paramedici het Ursula op pad hospitaal toe drie eenhede morfien gegee omdat hulle haar lewe wou red; die ongebore baba was vir hulle ’n bysaak. Die morfien sou waarskynlik tot ’n natuurlike aborsie aanleiding gee, of die baba sou gestrem wees.
Nadat Ursula na ’n groter hospitaal oorgeplaas is, het sy dadelik daarop aangedring om ’n dokter te spreek wat positief oor haar en die baba se welstand sou wees. En namate die stroom besoekers kleiner geword het, het sy en Nicohan besluit om die ellende elke dag van nuuts af aan te pak.
Nicohan, wie se pa ’n pastoor was, het van jongs af die Here as lofsangleier en begeleier in die kerk gedien. Hy sê dat God vanaf die eerste dag reeds deel van hul huwelik was, en daarom het hulle ook ná die ongeluk moed vir hul toekoms gehad. “Ons het gekies om nie ons omstandighede of Ursula se gestremdheid te probeer wegsteek nie. Ons het geweet dat ander mense ons nie kan gelukkig maak nie; dat ons self die verantwoordelikheid vir ons omstandighede moes aanvaar.”
‘Nou kon ek slegs my vingers effe beweeg’
Ursula was ’n volle drie-en-’n-half maande lank in die hospitaal, waar sy elke dag arbeids- en fisioterapie ontvang het. Sy vertel: “Ek moes opnuut leer om met my ‘nuwe’ lyf saam te leef. Op skool was ek baie sportief, ek het netbal gespeel en ek was veral goed in hoogspring. Nou kon ek slegs my vingers effens beweeg.”
Nogtans kon Ursula, ten spyte van die destydse doemprofete, op die beplande tyd geboorte skenk aan ’n normale, gesonde Unica.
Terug by die huis is sy deur Nicohan, hul lojale hulp Jane, en albei pare ouers versorg. As gevolg van bloedsuiker- en bloeddrukprobleme het Ursula gereeld in ’n semi-koma verval. In daardie tyd het haar ma Petro ernstig begin bid dat die Here hulle moes help met “iets” waarmee Ursula tuis kon besig bly en selfonderhoudend kon word.
Een aand het Petro van ’n koeksisterresep gedroom. Ursula vertel: “Die gesnyde stukkies deeg moes met ’n spesiale draai-aksie, sonder om gevleg te word, gevorm word. Die volgende oggend het my ma al die besonderhede dadelik neergeskryf en ons het alles presies soos in haar droom gevolg. Hierdie baksel het soos soetkoek verkoop!”
Prosperous Baking
Aanvanklik het hulle slegs tien dosyn koeksisters per week gebak. Maar omdat die aanvraag so groot was, het hulle ál meer verkoop. Later moes hulle ekstra personeel aanstel vir huis-tot-huis-verkope. Tussendeur het Petro ’n koffiewinkel bestuur, en toe haar vleispasteitjiebakster haar in die steek laat, het hulle begin om ook pasteitjies te bak.
Die onderneming het so flink gegroei dat Nicohan sy werk bedank en voltyds die bestuur van die bakkery oorgeneem het. Hulle het op die naam Prosperous Baking besluit, omdat hulle geglo het dat God hul onderneming voorspoedig sou maak. En omdat hulle daarvan oortuig was dat hul bakkery en die verspreiding van hul gebak deel van hul roeping is.
“Alles was egter nie altyd maanskyn en rose nie,” vertel Ursula. “Ons werkers is twee keer afgerokkel, en ons produk is nagemaak en as ‘die arme, verlamde vrou se heerlike koeksisters’ verkoop. Gelukkig het lojale klante ons telkens daarvan verwittig, want ons kon nie die skielike afname in omset verstaan nie.”
Ná ’n uitgebreide advertensieveldtog weet hul klante nou dat hul produk van ’n kenmerkende Prosperous Baking-etiket en visitekaartjie voorsien word.
’n Supervrou
“In die ysige Oos-Vrystaatse winters doen ek dikwels longontsteking op en dan spring Unica maar in en doen al die werk. Sy was in daardie stadium nog op skool,” vertel Ursula. Albei die kinders was in elk geval, te midde van hul skool- en studieverpligtinge, feitlik voltyds by die onderneming betrokke.
Urico vertel dat die koeksisterbakkery deel van sy kleintyd-herinneringe is en dat hy en Unica, vandat hul 15 jaar oud was, die onderneming kon bestuur wanneer hul ouers die Woord elders gaan bedien het. “Dit het my geleer dat ’n mens dit wat jy het moet oppas. Dat jy moet werk as jy êrens wil kom. My ma se positiewe houding teenoor die lewe het ’n groter impak as haar dade. Sy bly die hart van ons onderneming. Ek het nog nooit aan haar as ‘gestrem’ gedink nie.”
Ook Nicohan beskou haar as ’n supervrou, as die meesterbrein agter alles.
Dit wat as ’n ma se droom begin het, ’n versugting dat haar dogter selfonderhoudend kon word, was gou ’n familieonderneming. “Vir ons,” sê Ursula, “is God nog altyd heel bo-aan alles wat ons doen. Slegs Hy kan doodgewone mense buitengewone dinge laat doen.”
‘Al sou die vyeboom nie bot nie …’
Intussen het die egpaar hul geroepe gevoel om voltyds die Woord te bedien, boonop in Natal waar die klimaat Ursula ook beter sou pas. Presies ’n week voordat hulle sou trek, is die onderneming verkoop en al hul werkers is in diens geneem. ’n Deel van die verkoopooreenkoms het gelui dat Ursula-hulle nie weer koeksisters sou bak nie.
Maar vanweë die ontwrigting wat die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande grendeltydperk meegebring het, het die gesin swaar finansiële verliese gely en moes hulle voorlopig hul voltydse Woordbediening staak. Ursula getuig: “Ons lewe ’n Habakuk 3-lewe in die moderne tyd. ‘Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen olyfoes wees nie, nogtans sal ek juig in God, my Redder.’
“’n Mens soek dikwels wonderwerke in groot gebeurtenisse, en dan kyk jy die ‘kleiner’ gebeurtenisse mis of aanvaar dit as vanselfsprekend. Ons het egter geleer om oor elke antwoord op gebed, hoe gering ook al, opgewonde te raak. Op dié manier kry ons dit reg om elke dag op te staan en te getuig dat God groot is. Al het die lewe ons nie altyd goed behandel nie, aanbid ons ’n lewende God.”
- Deel jou getuienis deur \’n e-pos aan LiG te stuur: lig@tydskrifte.co.za
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.