DEUR ELISE BOSCH
Sy gee my ’n koevert, daar is ’n naam en adres voorop geskryf. Die handskrif is krom en skeef. ’n Blou pen, balpunt. Dis lank voor e-pos en SMS en WhatsApp. Sy ken nie die foonnommer nie, sê sy, slegs die adres; sy hoop hy woon steeds daar.
LEES OOK: ‘Ek wil nie hê mamma moet weer my Barbie-pop verkoop nie,’ smeek Hillbrow-dogtertjie
Dis haar seuntjie se adres, sê sy. Hy is 12 jaar oud. Sal ek tog nie asseblief die koevert pos nie, want sy het nie ’n seël nie?
Agter op die toegeplakte koevert skryf ek ’n kort boodskappie, met my naam en telefoonnommer daarby. Dalk wil die ontvanger Brenda kontak, en sy het nie ’n vaste adres nie; ek sien haar net in Hillbrow se strate. En soms wanneer sy die duiwe in die park oorkant die kerk broodkrummels voer.
Brenda het as jong vrou in Claimstraat, Hillbrow, by die Summit Club as ontkleedanser gewerk. Op ’n keer het ’n Duitse toeris die klub besoek, hy het Brenda ontmoet, meer as een keer, haar swanger gemaak en weer verkas, terug Duitsland toe.
Klein Willem is gebore en hy het saam met sy ma in ’n kamertjie bokant die Summit Club gewoon. Hy het van kleins af elke dag in die openbare swembad net langs die klub geswem.
Hy is skool toe en het daar in ’n besonder knap swemmer ontwikkel. Hy het gereeld sy skool by swemgalas verteenwoordig. Dit was lede van sy swemspan wat van sy huislike probleme bewus geword het, van hoe sy dwelmverslaafde ma hom verwaarloos – en hierdie swemmaats was uiteindelik daarvoor verantwoordelik dat Willem in pleegsorg geplaas is.
My foon lui. Dis ’n vriendelike vrouestem. Afrikaans. Brenda se brief het by hulle aangekom.
Sy sê sy is Brenda se tienerseun se pleegma. En sy bring Willem oor ’n maand Johannesburg toe vir ’n swemgala. Hy wil graag sy Hillbrow-ma sien.
Ek het alles gereël. ’n Bekende boemelaar, wat elke dag by my man se sopkombuis kom eet, het my gehelp. Hy het met Brenda die dag en tyd afgespreek. Haar seun sou by die kerksaal vir haar wag.
Willem en sy pleegma was vroeg daar. Die tafel was gedek – koeldrank en koek, tee en allerlei southappies.
Ons het ’n halfuur gewag. Later solank begin peusel. Daar was geen teken van Brenda nie. Ek het die man wat die kerkterrein vee, gevra om Brenda te gaan soek.
Hy het haar gou opgespoor, in ’n kroeg daar naby. Papdronk.
Ek het die kind met die bewende onderlip so jammer gekry. Brenda het die hele tyd gestaan en huil – dronkverdriet. En gemompel: “Jammer, my seun. Ek is jammer, my seun.”
Op ’n dag stap ek in Cresta Mall in Johannesburg. ’n Stem roep: “Tannie! Tannie!”
\’n Mooi, goed versorgde jong man staan voor my. “Tannie sal my dalk onthou. Ek is Willem, ek is Brenda van Hillbrow se seun.”
Hy vertel my hy studeer in sportwetenskap en hy wil graag ’n persoonlike afrigter word nadat hy sy studies voltooi het. Sy pleegouers het vir alles betaal.
Nee, sê hy, hy het Brenda nooit weer gesien nie en niks van haar gehoor nie. Daardie dag in Hillbrow was die laaste.
Hy glimlag breed: “Tannie, die Here het my die wonderlikste pleegouers gegee; húlle is eintlik my ouers.
“My pleegma het my na ’n sielkundige geneem, en ek het my Hillbrow-ma en Duitse pa vergewe. Ek het hul verwerping verwerk. Ek dra geen bitterheid in my nie. Dis twee mense wat sukkel om die lewe te hanteer, en ek aanvaar dit so.”
- Elise Bosch is ’n geliefde LiG-rubriekskrywer. Sy werk al dekades in Hillbrow, waar sy Jesus se liefde en sorg aan swaarkrymense bring. Sy vertel hulle stories aan LiG-lesers. Sy kan by 083 484 9088 gekontak word vir skenkings of om as spreker op te tree.