Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek het my pa se moordenaars vergewe en berusting gevind,’ sê die sangeres Helena Hettema

Dis nou sewe jaar sedert die sangeres en liedjieskrywer Helena Hettema se pa op sy kleinhoewe in die Boschkop-omgewing naby Pretoria vermoor is. Die bekende Jan Hettema het Springbokkleure in fietsry sowel as motorwedrenne verwerf.

Helena vertel: “Dit het lank geduur om die tragiese en sinnelose moord op my pa te verwerk, maar my geloof het my die afgelope sewe jaar staande gehou. Ek glo in die hiernamaals, en dat die siel nie tydelik is nie. Dit was wel vir my moeilik om die volle sirkel te voltooi omdat sy moordenaars nooit gevang is nie en geregtigheid nooit geskied het nie.

“Maar ek het geweet ek moes vrede maak, of hulle gevang word of nie. Ek glo God sien alles en dat Hy geregtigheid sal laat geskied.”  

Die verpletterende nuus

Die laaste mooi herinnering wat Helena aan haar pa koester, was toe sy kort voor sy dood by hom gekuier het en hulle na ’n mooi sonsondergang op sy kleinhoewe gekyk het. Op 29 Junie 2016 het haar lewe soos handomkeer verander: Jan het teen halfnege daardie oggend ’n geraas buite die huis gehoor en gaan ondersoek instel. Die volgende oomblik het hy vir sy vrou Elsa gegil: “Sluit die deure!”

Gemaskerde, gewapende rowers het Jan oorval, hom noodlottig gewond en gevlug. Helena was op pad terug van Namibië toe sy die skokkende nuus hoor. “Daardie oproep het my lewe onherroeplik verander.  

“Sy skrikwekkende laaste oomblikke, toe hy die dood in die gesig gestaar het, het maande lank oor en oor in my kop gemaal. Wat moes nie alles deur sý gedagtes gegaan het nie … Het hy besef hy gaan sterf?”

Die dood het Jan vroeër dikwels in die gesig gestaar. “Hy het aan uitdagende wedrenne deelgeneem,” vertel Helena. “Sy motor het een keer, tydens ’n wedren in die Oos-Kaap, 300 meter ver gerol. My ma Joan was vreesbevange toe sy dit oor die radio hoor. Maar hy het gelukkig ongedeerd daarvan afgekom. As klein dogtertjie het ek geweet dat hy aan ’n gevaarlike sport deelneem en ek was altyd bang daar sal iets ernstigs met hom gebeur.

“Maar dit was sy groot passie en vreugde. Hy het byvoorbeeld ook aan die Monte Carlo-wedren deelgeneem, waar hy prinses Grace van Monaco ontmoet het. Dit was ’n groot hoogtepunt.”

‘Soos ’n vuishou in jou maag’

Haar geliefde pa se wrede dood was baie moeilik om te verwerk, vertel Helena. “’n Mens word soggens wakker – en dan tref dit jou opnuut soos ’n vuishou in jou maag. Dit het gevoel asof daar ’n gat in my binneste is, en dat die wind daardeur waai. Ek het aanvanklik aan erge skok gely, maar toe het ek soos ’n besetene begin werk. Ek het ’n sanger-vriend in dieselfde week verloor, en ek moes ’n begrafnis en ’n gedenkdiens vir my pa help reël.

“Ek het die Saterdagaand ná my pa se dood ’n konsert gehad. Ek het besluit om dit nie te kanselleer nie, maar om, ter nagedagtenis aan hom, deur te druk. In daardie stadium het ek my net nie die tyd gegun om te gaan stil sit en te rou nie.”

Nie lank ná haar pa se dood nie het Helena haar voet ernstig beseer. Dit het haar tot stilstand gedwing. “Ek is genoodsaak om die werklikheid in die oë te kyk, om selfondersoek te doen, om te rou. In daardie tyd het ek nader aan God beweeg. En ek het vrede gevind.”

‘Sommige dae gaan dit ’n bietjie beter; ander dae …’

Helena het reeds voor haar pa se afsterwe etlike verliese gely. Sy vertel: “Ek het in 1999 ’n ektopiese swangerskap gehad en die baba verloor. Ek was toe byna 37 jaar oud en het geweet ek sal nie weer kan swanger raak nie. Dit was ’n verpletterende belewenis. My eksman Hennie het in 2004 in ’n motorongeluk gesterf, en my pianis André Wessels is in 2015 oorlede. Ek het ook my beste vriendin Annette Hattingh in 2009 aan kanker verloor.

“Jy kan nie rou aan ’n bepaalde tydperk koppel nie,” reken Helena. “Sommige dae gaan dit ’n bietjie beter; ander dae gaan dit sleg. Ek weet ’n mens moet die verskillende rou-fases deurmaak, maar met my pa se dood het ek om die een of ander rede nooit die woede-fase beleef nie. Ek was ook nie kwaad vir die boosdoeners wat my pa van ons weggeneem het nie. Die mense wat hom geskiet het, bestaan trouens nie vir my nie; ek sien hulle ook nie in my geestesoog nie. Die polisie het wel die verdagtes se name gehad, maar hulle het glo oor ’n grens gevlug.

“Ek het ook nie ná my pa se moord rassisties geword nie. Ek het besef dat indien die moordenaars gevang sou word en daar ’n hofsaak sou wees, dit baie ou wonde sou oopkrap.”

LEES OOK: God genees en gee genade,’ vertel vrou ná haar man hul seuntjie skiet, en toe homself

Heling deur musiek

Helena, wat sedert die laat-1980’s gehore landwyd met haar heuningstem bekoor, vind heling deur haar musiek. Haar passievolle vertolkings van Jacques Brel en Edith Piaf se musiek, sowel as haar eie liedjies, het haar bekend en geliefd gemaak. “Musiek is nie net genesend vir myself nie, maar ook vir baie ander mense. Ek sien dikwels dat mense in die gehoor huil wanneer ek sing; daar vind ook ’n katarsis by hulle plaas. Musiek het groot krag. Dis baie kosbaar, dit anker my, en dit maak my nederig.”

Helena skryf en dig ook graag. Sy is juis besig om aan ’n koffietafelboek te werk waarin van haar gedigte opgeneem gaan word. “Ek vind die krag van gebed helend,” vertel sy. “Ek het veral ná die Covid-19-pandemie baie wonderwerke om my gesien. Hoe mense nader aan mekaar beweeg het, en hoe hulle liefde in die ware sin van die woord ervaar. Ek dink ons het juis toe besef hoe verganklik ons is en dat ons elke dag voluit moet leef.”

Die gedig wat Helena ná haar pa se dood vir hom geskryf het:

Ek wens …

Ek wens ek was

– daar

– Ek was

– Ek was langs jou, toe jy gehardloop het

– ’n waardige ou man

– Kon jou asem hoor – die gehyg,

Die klop van jou hart

Die onwerklikheid, die hoop, die vrees

Die finale wedloop

Die toe deur – die gil

En die moordenaar se oë – die pistool

Ek was daar – reg langs jou

Een lang sekonde

die finale besef – dood se oë, sy gesig

– Die snak

En die kalmte, eindelose stilte, vinniger as spoed …

 – So stil  –

In die oog van die tornado stap jy

En toe – die skoot –

Finaal

(Oral die bloed, die bloed)

Ek was daar

en gewaar toe

jou gees

reeds wat met vinnige goue vlerke …

die hoogtes in … opstyg – strek

Nog steeds …

na die

Wenstreep.

(Helena Hettema, 3 Februarie 2018)

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF