Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek het nie gedroom nie; Jesus het by my voete kom sit,’ vertel siek vierjarige

DEUR KARLIEN COETZEE

Die eerste keer toe ek dit opmerk, was ek dadelik onrustig: My seuntjie se buik was opgeswel, en dit was vir my duidelik dat dit nie normaal is nie. Hy het ook begin kla. En soms, nadat hy geëet het, het hy bleek geword van die pyn.

LEES OOK:‘Soek My deur die chaos, sê God vir my in ’n droom’

Ethan is nou vier jaar oud. Ongeveer ’n jaar gelede is die eerste CT-skandering sowel as verskeie ander mediese ondersoeke gedoen om die oorsaak vir bogenoemde probleem te probeer vasstel. Die dokters kon egter nie uit die toetse aflei waarom sy maag so swel en waarom hy soveel pyn verduur nie.

Gedurende die Maart-skoolvakansie is ons Suidkus toe. My kind kon weer nie sy kos inhou nie en ons het hom na ’n pediater geneem. Dié dokter het X-strale aangevra, en ’n “swart kol” op sy maag gemerk.

Ons is na ’n gastroënteroloog in die Kaap verwys. Ook hier is allerlei biopsies gedoen en stoelgangmonsters ontleed. Die antwoord het ons bly ontwyk. Ons is terug huis toe.

Ethan het nou feitlik niks geëet nie en gereeld van erge maagpyn gekla. Ek het hom by die huis gehou, al is hy baie lief vir die kleuterskool. In dié tyd bemerk ek die eerste keer bloed in sy stoelgang. Rasend van bekommernis wend ek my weer tot ’n pediater, wat my ten einde raad na mediese dienste in Pretoria verwys. Hier word die moontlikheid van Hirschsprung se siekte ondersoek.

Maar ná die vierde stel biopsies is ook dié moontlikheid uitgeskakel.

‘Watter kant toe, Here?’

Ek kon net bid: “Ag, Here, watter kant toe nou? Ons weet nie meer nie …”

“Daardie nag toe die helder lig my wakker gemaak het, het Jesus vir my seuntjie kom kuier. En ek weet Hy sal hom ten volle genees. Ek weet dat ons ’n lewende God dien, Een wat nie ver van ons af is nie maar hier b‎y ons,”sê Karlien. Foto verskaf

Die volgende oggend, so ongeveer negeuur, bel ’n kliënt my om navraag te doen oor ’n uitstaande belastingsertifikaat. Tydens die gesprek sê ek dat ons raadop is omdat my jongste seuntjie siek bly en niemand kan uitvind wat fout is nie. My kliënt is ’n afgetrede chirurg en vra my om die kind se toestand aan hom te beskryf. Ek gryp die strooihalm aan en stuur ook ’n foto van Ethan se maag.

Gou-gou bel hy my terug en sê dat daar definitief groot fout is. Hy verwys ons na ’n pediatriese chirurg in Kaapstad, en ons pak die soveelste reis aan. In die Kaap word ’n MRI-skandering van die buik aangevra. Dié prosedure word gewoonlik binne ’n uur afgehandel; hierdie keer duur dit langer as vier ure. Om die een of ander rede kon die radioaktiewe stof wat vir die skandering gebruik word nie uit die maag na die dunderm beweeg nie. Hulle het Ethan op sy rug gedraai, en toe het dit wel begin beweeg.

Intussen was ek rasend van bekommernis. Hoekom duur dit so lank? Ná die tyd het die dokter ons meegedeel dat hulle daardie einste week ook ’n laparoskopie sal uitvoer en ’n Mic-Key Button, ’n soort voedingsbuis, in sy maag plaas. Die vermoede was dat Ethan ’n gastriese volvulus het.

’n Dag of twee ná die MRI-skandering begin Ethan weer sleg voel, hy ontwikkel ’n koors en word met ’n lugweginfeksie gediagnoseer. Ons het besluit om eerder terug te gaan huis toe, dat hy eers gesond moet word voordat die operasie gedoen word. Terug by die huis en in sy eie bed, het my kind die hele tyd geslaap.

Daardie Maandagoggend wou ek hom groet voor ek werk toe gaan, maar hy het steeds geslaap. Gewoonlik is hy voor my uit die bed …

Later die oggend het ek sy oppasser gebel om seker te maak dat alles in orde is. Sy het my vertel dat hy wakker is, maar dat hy ’n baie slegte droom gehad het. Ek het hom probeer gerusstel: “Jy moenie bekommerd wees nie; Jesus is by jou.” Ons het saam gebid, ek en hy, sommer daar oor die foon.

Later die middag, toe ek by die huis kom, het hy my weer van sy slegte droom  vertel. My man was ook reeds tuis. Ons besluit toe om saam met ons kind te bid en te vra dat Jesus die slegte droom wegneem. Ethan het gevra dat sy pappa vir hom moet bid. Toe my man begin bid, begin die kind lag. Ons ken nie dié soort gedrag nie.

Later daardie middag vertel ek ons geestelike leiers van die vreemde voorval,
en hulle vertel my hoe belangrik dit is om spesifiek vir geestelike beskerming te
bid wanneer klein kindertjies narkose ontvang. Sulke kleintjies, het hulle gesê,
besit nog nie die vermoë om self te besef waaroor geloof gaan nie.

God is nie dood nie

Later daardie week is ek en my seuntjie weer op pad Kaap toe; dis tyd vir die operasie. Hy word opgeneem in die hospitaal. Die narkotiseur besluit om hom reeds voor die operasie onder verdowing te plaas.

Sedert die eerste keer wat Karlien opgemerk het dat Ethan se buik geswel is, was hy gereeld in die hospitaal vir toetse. Foto verskaf

Maar voor hierdie prosedure het ek ons geestelike leiers gevra om saam met my te bid vir die kind se geestelike beskerming. Tydens die verdowing het ek ook vir hom gebid. My kind was baie rusteloos – en eensklaps het hy begin lag.

Ek vra hom waarom, en hy noem die naam van ’n familielid wat reeds oorlede is. Dadelik speel ek ’n aanbiddingsliedjie op my foon: Newsboys se “God’s not dead”.

Ethan het begin saamsing en dadelik kalmer geword. Dit was asof daar ’n groot vrede oor hom gekom het. Ek het die liedjie aanhou speel, selfs totdat hy reeds in die teater was.

Drie ure later is die prosedure voltooi en my kind is na die intensiewesorgeenheid verskuif. Ek het opgemerk hoe bitter bleek hy was en ek wou hom versigtig oplig en net ’n bietjie vashou. Toe sien ek die plas bloed waarin hy lê.

Ek het nog nooit in my lewe so groot geskrik nie. Ethan moes terug teater toe. Blykbaar is ’n aartjie geraak toe die biopsie gedoen is. Ons het weer vir hom ingetree, en die dokters het die bloeding gestop.

Die helder lig

Ek het daardie nag nooit geslaap nie. Maar my seuntjie het, ná die twee keer se narkose, tot die volgende oggend geslaap. Toe hy wakker word, was hy vol pyn en hy kon nie regop sit nie.

’n Gesinsfoto van Ethan, Karlien en Ethan se boetie Benjamin.

Daardie aand, net voor slaaptyd, besluit ek dat ons weer na aanbiddingsmusiek moet luister en ek bid weer vir hom. Onder meer vra ek dat Jesus hom asseblief sal help om mooi drome te droom. Net daar val Ethan my in die rede en sê: “Nee, Mamma, ek sal weer ’n slegte droom hê.”

Ek antwoord hom dadelik: “My kindjie, ons het ’n keuse. Jesus sê ons kan kies. Wil jy vanaand kies om van Jesus te droom?”

Toe bid hy: “Jesus, kan ek vanaand van Jou droom, asseblief?” En met dié het hy rustig aan die slaap geraak.

Die kamer in die intensiewesorgeenheid is afgesonder en het ’n eie badkamer. Ek het langs Ethan se bed op ’n klein bedjie geslaap. Daardie nag, dit was seker so eenuur, word ek wakker van ’n helder lig wat my byna verblind. Die lig het van agter my bed geskyn, maar binne enkele sekondes was dit weg.

Ek het opgevlieg om te kyk of my kind nog reg is, en hom kiertsregop in die bed sien sit, ’n breë glimlag op sy gesig. “Ek het van Jesus gedroom,” het hy gesê, weer gaan lê en dadelik aan die slaap geraak.

Ek het hom aanvanklik nie verder uitgevra nie. Maar drie dae later, toe sy pyn bedaar het, vra ek hom of hy kon onthou dat hy van Jesus gedroom het.

Sy gesiggie was ernstig toe hy antwoord: “Nee, Mamma, ek het nie van Hom gedroom nie; Hy het hier by my voete kom sit.”

Ek het net na hom gekyk, toe gevra: “Kan jy onthou hoe Hy gelyk het?”

“Ja, Mamma. Hy het ’n wit hemp aangehad, met ’n rooi baadjie.”

“En het Hy iets gesê?”

“Ja, Mamma. Jesus het vir my gesê: ‘Word nou gesond!’”

Ek weet dit nou vir seker: Daardie nag toe die helder lig my wakker gemaak het, het Jesus vir my seuntjie kom kuier. En ek weet Hy sal hom ten volle genees. Ek weet dat ons ’n lewende God dien, Een wat nie ver van ons af is nie maar hier b‎y ons.

* Dit gaan tans baie beter met Ethan. Die Mic-Key Button gaan hopelik
binnekort verwyder word.

  • Karlien Coetzee is ’n finansiële beplanner in Bloemfontein.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF