Jeanette Snyman was 46 jaar oud toe haar lewe soos handomkeer verander het. Sy is einde Maart 2014 op Oliver Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg in hegtenis geneem nadat dwelms by haar gevind is. Dit het haar jare lank in die tronk laat beland.
DEUR ILETTE COETZER
“Al wat jy kry, is ’n leë tas. Dit lyk soos enige doodgewone tas, behalwe dat dit nié leeg is nie; daar is dwelmmiddels in die bodem versteek.
“Die opdrag is eenvoudig: Pak jou klere in die tas en gaan lughawe toe. Jou vliegtuigkaartjie en verblyf is klaar gereël.”
LEES OOK: Van karwag na winkelbestuurder: ‘Jy hoef nie in jou omstandighede te bly nie’
Dit was nie die eerste keer dat Jeanette deur ’n Nigeriese sindikaat as dwelmmuil gebruik is nie. Sy was al voorheen, met dieselfde opdrag, ’n klompie kere in Maleisië, asook in Hong Kong en Kaapstad. Nadat sy dan haar pakkie suksesvol afgelaai het, is sy betaal. Die beloning het ’n paar dae se verblyf in ’n hotel ingesluit voordat sy weer huis toe is.
“Maar,” vertel sy, “daardie oggend het ek ’n vreemde voorgevoel gehad. Dit was asof ek geweet het dié keer sou die laaste wees. Ek het weer met die Here begin onderhandel: Nog net hierdie een keer, dán sal ek dit los. Ek moet net eers op my voete kom …”
Dié betrokke oggend is Jeanette na ’n verkeerde instaphek by die lughawe. Hier het die rooi ligte reeds begin flikker. “Iets het vir my gesê dinge is nie pluis nie. Ek het net gewéét ek gaan betrap word.”
Toe sy uiteindelik by die regte hek opdaag, het haar tas eenkant gestaan. Polisiebeamptes en ’n snuffelhond het op haar gewag. Eers is haar klere uit die tas gesmyt, en toe is die tas se bodem met ’n mes oopgesny.
En só het Jeanette se jare lange nagmerrie begin.
‘Dit was hel’
Sy is aanvanklik by die lughawe aangehou, waarna sy laatnag na die Tembisa-gevangenis oorgeplaas is. Hier is sy in ’n sel aangehou totdat sy toestemming gekry het om haar familie te bel. “Dit was nie ’n maklike oproep om te maak nie, maar my ouers en kinders het onmiddellik gekom.”
LEES OOK: ‘God het my seer gebruik om haar te help,’ vertel pleegma van die Springs-gruwelhuis se Landi
Sy het in die hof verskyn, is op borgtog vrygelaat – en ná ’n jaar en ’n half se wag, is sy op 16 April 2016 tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Sy het skaars tyd gehad om haar familie en twee dogters te groet voordat sy na die Johannesburg-gevangenis, in die volksmond bekend as “Sun City”, oorgeplaas is.
Jeanette het die eerste twee jaar van haar vonnis hier uitgedien. “Ek het baie tyd gehad om te dink. Hoe sê jy jy is jammer; dit kan tog nooit genoeg wees nie? Hoe sal my familie my ooit kan vergewe?”
Maar haar susters en dogters was in dié tyd haar anker. “Hulle het my nooit verwyt nie.”
Jeanette raak emosioneel as sy aan daardie eerste paar maande terugdink. “Dit was hel. Ek het nie meer ’n lewe gehad nie. Jy is net ’n nommer. Jy word saam met meer as vyftig ander kriminele, onder andere moordenaars, in dieselfde sel aangehou.
“Daar was slegs een stort en een toilet vir al die gevangenes. Daar is nooit ’n oomblik se stilte nie, en van privaatheid is daar geen sprake nie. Jy leer maar om met jou een oog oop te slaap.
“Om te kla, het nie gehelp nie; dit was beter om nie raakgesien te word nie. Anders word jy geteiken.”
Die spanning was ondraaglik en sy het epileptiese aanvalle begin kry. Sy het dit selfs oorweeg om haar eie lewe te neem. Gelukkig is sy ná twee jaar in “Sun City” na Kroonstad oorgeplaas.
Jeanette sê haar familie se tweeweeklikse besoeke was haar behoud. “Hul liefde en ondersteuning het my aan die gang gehou.”
Sy het egter soveel mylpale gemis: Haar dogter is in dié tyd getroud; haar ma het gesterf en is begrawe. Sy kon nie een van dié geleenthede bywoon nie.
Waar het dit skeefgeloop?
“As ek nou terugdink, was my egskeiding die aanleiding tot al hierdie dinge. Dit het my verpletter. ’n Mens hou maar ’n front voor en maak of dit goed gaan.”
Maar eintlik, sê Jeanette nou, is daar nie verskonings nie. Dis wel waar dat sy haar destyds ál meer van haar vriende en familie begin onttrek het. Sy het gesukkel om elke dag bloot te oorleef. Daarby het sy probleme met haar een bors ontwikkel. “Ek het ’n klein operasie ondergaan, maar die pyn wou net nie weggaan nie. Ek was bereid om enigiets te probeer.”
’n Vriend by die werk het haar aan die pynstiller pethidine bekend gestel. “Wonderlik! Ná elke spuit was die pyn feitlik dadelik weg, en ek kon die spreekwoordelike berge versit.” Maar pethidine is verslawend, en met verloop van tyd kon Jeantte nie meer daarsonder nie. In dié tyd het sy ook by ’n destruktiewe verhouding betrokke geraak.
Sy het van een krisis na ’n volgende gestrompel. Die pethidine is later deur die dwelmmiddel metkatinoon (oftewel “cat”) gevolg. “Dit laat jou sterk voel. Jy wil net nog en nog daarvan hê.”
Later het sy haar kinders en familie eenkant toe gestoot. “As hulle my vir ’n braai genooi het, het ek dit aanvaar, maar nooit opgedaag nie. Dit was vir my belangriker om my volgende ‘fix’ te kry.”
Sy het die dwelms op straat begin koop. As daar niks meer in die huis was nie, het sy eenvoudig in haar kar geklim en strate toe gegaan, op soek na nog. Sy het dae lank nie ’n oog toegemaak nie; die “cat” het ook haar eetlus weggeneem.
“Al waaraan jy kan dink, is jou volgende ‘fix’.”
Met verloop van tyd het sy in die Nigeriese smouse se kloue beland. “Dwelms is duur, en later het jy geen ander keuse nie as om hulle met die verspreiding te help. Die Nigeriërs maak seker dat hul alles van jou lewe weet. En dan begin die dreigemente as jy uit die netwerk probeer ontsnap.”
Toe, op ’n dag, moes sy weer lughawe toe, en sy stap per ongeluk na die verkeerde instaphek …
’n Tweede kans
Aan die begin van die Covid-19-pandemie is sekere gevangenes vrygelaat en Jeanette was een van die gelukkiges. Op 13 Julie 2020 is sy deur haar familie tuis verwelkom.
Maar die aanpassing was groot. “Ek was bang om weer tussen mense te wees. Alles was net te oorweldigend. Ek het nie geweet wat om te verwag nie.”
Vandag is Jeanette ’n persoonlike assistent by ’n finansiële onderneming. Sy geniet haar werk en staan haar plek in die samelewing vol. Sy is meer as tien jaar lank “skoon” – en baie trots daarop. Sy sê sy wens sy kan ander mense teen dwelms waarsku, hoe dit jou lewe in ’n oogwink kan vernietig.
“Hoewel ek lankal nie meer dwelms gebruik nie, leef ek steeds met die nagevolge saam. Daar is byvoorbeeld sóveel wat ek nie meer kan onthou nie. Ek verduur ook chronies pyn, en ek kry steeds nagmerries oor my tyd in die tronk.
“Dwelms is nooit ’n uitweg nie; dit vernietig jou lewe, jou liggaam, jou geliefdes.”
Vandag stap sy ’n mooi pad met die Here, diep bewus van die feit dat sy een van die gelukkiges is. Sy kon ontsnap, sy het ’n tweede kans gekry.
- Dié artikel verskyn in die Herfsuitgawe van die gedrukte LiG wat 24 Februarie 2023 op winkelrakke beskikbaar sal wees.
- Stuur jóú getuienis (sowat 800 woorde plus foto\’s ter illustrasie) na conette@tydskrifte.co.za
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.