Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek het, soos die vrou in die Bybel, aan bloedvloeiing gely’

Ek wil graag my getuienis met julle deel oor hoe groot en getrou God is.

Ons gesin woon reeds 12 jaar lank in Australië, in Yorke Peninsula, ’n plattelandse dorpie in Suid-Australië. Ons graad drie-seuntjie ry elke dag met die bus skool toe en terug. Hier is sóveel geleenthede, en dit is veilig.

Maar natuurlik mis ons ons familie en vriende in Suid-Afrika. Soms verlang ons terug na ons wortels – ons taal, ons kultuur, onder meer musiekfeeste. Die kos, en al die ander mooi dinge in Suid-Afrika. 

’n Diagnose, maar …

Die afgelope drie jaar hier in Australië was vir my ekstra moeilik omdat ek aan chroniese bloedvloeiing gely het.

LEES OOK: ‘Swaarkry is nie die einde van my storie nie,’ vertel vrou 17 jr ná beroerte

Ek was moedeloos en het nie geweet wat vir my voorlê nie. Ek is ’n ma, ’n vrou … en ek het nie geweet hoe ek weer ’n normale lewe sal kan lei nie. Dié toestand het my lewe in alle opsigte beïnvloed, en ek het my uit die samelewing onttrek.

Ek het verskeie dokters besoek en vele sonarondersoeke ondergaan. Uiteindelik is ek met polisistiese eierstoksindroom gediagnoseer. Daar word ook vermoed dat ek endometriose het, hoewel dit nog deur ’n laparoskopie bevestig moet word.

Ek het bloedarmoedig geword en moes twee keer ysteraanvullings kry. Ek was liggaamlik en emosioneel uitgeput. Die aanhoudende bloeding het net sóveel van my geverg …

Maar nee, die dokters kon nie duidelikheid kry oor waarom ek so chronies bloei nie. Ek het ook geen behandeling daarvoor ontvang nie.

“Ons gesin woon reeds 12 jaar lank in Australië, in Yorke Peninsula, ’n plattelandse dorpie in Suid-Australië. Ons graad drie-seuntjie ry elke dag met die bus skool toe en terug,” vertel Juanita Smith. Foto verskaf

Ek het eenvoudig bly glo

In dié tyd het ek my vereenselwig met die vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het, soos Lukas dit vertel het. Ek het besef dat slegs Jesus my kan genees. En ek het aanhou bid en op Hom vertrou.

In Mei vanjaar het God my gebede verhoor. Ek kan getuig van sy goedheid, sy grootheid en sy almag. Ek het vasgehou aan my geloof, aan die Woord, en ek het my oë op Jesus gehou. Ek het eenvoudig bly glo dat die Here my sal genees. En eensklaps het die bloeding opgehou. Halleluja!

God het my nie net liggaamlik genees nie, maar ook emosioneel. Hy het my opnuut gewys dat net mooi niks by Hom onmoontlik is nie. Dat Hy gebede verhoor. Dat Hy steeds gesond maak. Dat Hy getrou is.

Dankie, Jesus! Aan U kom toe al die lof en eer. U is en bly ons groot Geneesheer.

* Bybelverse wat vir my hoop gebring het, is: Psalm 103:3, Psalm 31:7, Psalm 66:19-20, Romeine 8:28, 1 Tessalonisense 5:17, Matteus 7:7, Markus 5:34.

  • Juanita Smith is ’n 30-jarige fotograaf. Haar werk kan aanlyn by Beloved Story Photography besigtig word. Sy en haar man Francois is byna tien jaar lank getroud. Hul agtjarige seuntjie Luke is in graad drie in Harvest Christian College. Juanita noem hom die sonskyn in hul lewe. Juanita se ouers en broer woon ook in Australië, in Melbourne in die staat Victoria.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►