DEUR MARETHA BOTES; FOTO TER ILLUSTRASIE (iStock)
Mariette Kroukamp, skrywer van die boek Wanneer liefde ’n keuse is, is as elfjarige dogtertjie die eerste keer verkrag. Sy vertel hoe die betrokke seun, toe sestien, haar gereeld vertel het hoe volwasse sy is, hoe mooi en “groot” sy vir haar ouderdom is.
Daar was ook ’n keer toe sy saam met hom en sy vriende was en hulle pornografie gekyk het. “Ek was geskok, maar hulle het dit so normaal laat lyk,” vertel sy.
LEES OOK: Vertrou jou instink as jy voel iets is nie reg nie,’ waarsku ma wat betyds ingegryp het
As sy nou daarop terugkyk, besef sy dit was tipiese “grooming”. “Hy het my gemaklik gemaak by hom, my laat voel ek is geliefd, dat hy my aanvaar en dat hy baie van my hou. Ná die eerste keer wat hy my verkrag het, het ek begin glo dis maar oukei. Wanneer ons saam was, was dit ook al wat hy wou doen.
“Later, nadat ons paaie geskei het, het ek voortgegaan om hierdie soort seksuele aandag en aanvaarding by seuns en mans te soek,” vertel Mariette. Sy het eers jare later, nadat sy getroud is, berading ontvang en ’n genesingspad begin stap.
Die verkragtings, en die losbandigheid daarna, het ’n geweldige impak op haar huwelik gemaak. Een aand het sy álles aan haar man openbaar. “Hy het geluister, en ek het hom alles vertel. Hy het nie geoordeel nie. Dit was vir hom nodig om te verstaan, en vir my nodig om te vertel.”
In 2017 het Mariette en haar man pleegouers geword vir Landi Lategan* (nou 25), wat uit die sogenaamde “Huis van Gruwels” in Springs gekom het. Vanweë Mariette se eie belewenisse kon sy ‘n steunpilaar wees vir Landi.
Mariette se raad aan ouers is eenvoudig: “Die belangrikste ding is om waaksaam te bly.”
Seksuele gereedmaking
Praat jy met ’n mens wat self ’n prooi was, of wie se kind dit oorgekom het, staan jy geskok voor die werklikheid dat dit nie saak maak wie jy is, waar jy woon of met wie jy bevriend of getroud is nie – enigeen kan ’n slagoffer wees.
En enigeen kan die misdadiger wees wat ’n slagoffer van seksuele misbruik doelbewus daarvoor gereedgemaak (ge-“groom”) het.
Hoe beskerm ek my kind?
- Stel grense. Antoinette Beukes, ’n traumatoloog, sê gebrekkige grense is een van die grootste swakplekke wat deur oortreders uitgebuit word. Soveel kinders onthul tydens assesserings en ander ondersoeke dat hulle vryelik toegelaat word om films met ’n ouderdomsbeperking te kyk. Ouers kyk nie na hul kinders se selfoon nie en weet nie dat selfs onskuldige aanlyn speletjies ’n sogenaamde “chatroom” het wat ’n wonderlike wegkruipplek vir pedofiele bied nie. So word (nuuskierige) kinders onwetend betrek en word hulle aanlyn blootgestel aan naakfoto’s en ander soorte pornografie.
- Leer jou kind om “nee!” te sê. Ons moet ons kinders leer dis oukei om “nee!” te sê wanneer iemand hulle ongemaklik laat voel. En dis oukei om jou rug vir vreemdelinge te draai, om hoegenaamd nie met hulle te praat nie.
- Ons leer ons kinders van kleins af watter dele van hul liggaam privaat is. Soms sal die kind deeglik daarvan bewus wees, maar steeds sal ’n sluwe oortreder dié grense toets om te kyk hoe die ouers reageer en hoe die kind daarop reageer.
- ’n Sterk band met jou kind, asook ’n gevoel van vertroue en veiligheid in jul verhouding, is onontbeerlik. Jou kind moet altyd daarvan verseker wees dat jy ’n veilige hawe bied waar wedersydse respek heers. En dat dit wat die kind jou vertel nie oorvertel sal word nie. Indien kinders nie veilig voel nie of ’n negatiewe reaksie kan voorspel, sal hulle nie verklap wie en wat hulle ongemaklik laat voel nie.
Wanneer dit gebeur het …
En sê nou jy vermoed dat so iets reeds met jou kind gebeur het of aan die gebeur is?
Kapt Lynette du Plessis, lid van die SAPD se gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdryf-eenheid in Sebokeng, Vanderbijlpark, verduidelik: “Wanneer jy vermoed jou kind word seksueel ge-‘groom’, of dat daar reeds verkragting plaasgevind het, moet ’n forensiese maatskaplike werker ’n sogenaamde Vorm 22 voltooi en dit by die naaste polisiekantoor asook die naaste kinderbeskermingsagentskap ingee, met die oog op verdere ondersoek.”
’n Distriksgeneesheer sal ’n mediese ondersoek doen – dit moet binne 72 uur ná ’n vermeende verkragting afgehandel wees – en ’n assessering word deur ’n forensiese maatskaplike werker gedoen. Wanneer die ondersoek voltooi en die DNS-verslag ontvang is, asook die forensiese assesseringsverslag, word die saak vir verhoor uitgestel en sal die getuies gedagvaar word om die hof by te woon en te kom getuig.
In geen stadium sal die slagoffer die verdagte sien nie; eersgenoemde verkeer in ’n veilige omgewing om sodoende die trauma te verminder.
KONTAK ONS KENNERS
Antoinette Beukes, traumatoloog, 082 305 3585
Mariette Kroukamp, berader, 076 739 7607
Daar is dalk ’n Thutuzela Omgeesentrum by jou plaaslike staatshospitaal of kliniek. Jy kan ’n verkragting direk by so ’n sentrum aanmeld, of by jou plaaslike polisiekantoor.
Die ACVV bied kinderbeskerming- en traumadienste.
021 461 1109 / 7437 / 7447
Badisa
Dié organisasie bied maatskaplike dienste asook traumaberading en kinderbeskermingdienste.
https://badisa.org.za/social-work-services/
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.