Twee oomblikke in Tiniël van Niekerk se lewe sal haar altyd bybly. Die een toe sy haar matrieksussie in die hospitaalbed vir altyd moes groet. Die ander toe sy die seun, wat vandag met haar sussie se hart leef, onverwags in ’n kerkbank vir die eerste keer gesien het.
Tiniël (nou 26) was ’n derdejaarstudent in Bedryfsingienieurswese toe sy die oproep ontvang het dat Keshia op 17 Februarie 2018 in ’n motorongeluk buite Welkom was. Tiniël het die volgende oggend vanaf Kaapstad na Bloemfontein gevlieg. Toe sy uiteindelik by haar ouers kom, moes sy hoor dat haar sussie breindood verklaar is.
Haar ouers het besluit om Keshia se organe te skenk, maar Tiniël het eers kans gekry om haar enigste sussie ’n laaste keer te groet.
“Ek is baie dankbaar dat ek die voorreg gehad het om haar te sien en dat sy nie al op die ongelukstoneel oorlede is nie. Ek kon afskeid neem. Al was haar binnekant verbrokkel en stukkend was haar buitekant so sag en nog mooi gewees. Ek het net haar handjie vasgehou en haar ’n laaste soen gegee.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.