Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek is dankbaar vir ’n wonderwerk, en dat God my lewe gespaar het,’ vertel onderwyser ná aanval

Terwyl Roseleigh Slater Jacobs op 6 Desember 2018 huis toe gestap het, het sy nooit kon dink haar lewe sou binne oomblikke onherroeplik verander nie.

Dié Bloemfonteinse onderwyseres is daardie middag aangeval en drie keer met ’n mes gesteek. Sy het haar bewussyn verloor. “Ek kan nie onthou hoe lank ek bewusteloos was nie,” vertel sy vandag, “maar toe ek bykom, was daar ’n man wat die erge bloeding probeer keer het. Die nooddienste was ook daar en hulle het aarvoeding toegedien en ’n nekstut aangesit omdat ek in daardie stadium geen gevoel aan die linkerkantse deel van my liggaam gehad het nie.”

Sy het wonde aan haar kop en nek gehad.

“’n Ambulans het opgedaag. Maar toe ontdek die noodhelpers dat die voetuig se een band pap is en hulle moes dit eers vervang.”

Die hospitaalpersoneel het op hulle beurt probeer om die bloeding te stop. Oplaas is Roseleigh vir ’n MRI-skandering gestuur. Daar is vasgestel dat een van die messteke ’n rugwerwel deurboor het. Dit het ’n stukkie been laat afbreek, en dit was dít wat die erge bloeding tot gevolg gehad het.

Die skoknuus

“Die dokter het gesê dat ek vir die res van my lewe gestrem gaan wees, want in daardie stadium was ek van kop tot tone aan my linkerkant verlam. Ek het ook geen gevoel aan my regterkant gehad nie.

“Die eerste ding wat deur my kop gegaan het, was: Hoe gaan ek in ’n rolstoel by my klas uitkom? En wie gaan vir my sorg?”

Twee weke later is Roseleigh na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas en haar mates is geneem vir ’n geskikte elektriese rolstoel.

Lees meer: ‘My aanvaller se oë het soos die duiwel s’n gelyk’

Sy het deurentyd baie ondersteuning van haar familie en vriende ontvang. Dit het haar moed gegee om deur te druk. Sy vertel: “Iemand het elke dag vir my kom bid. Ek het besef dat God die Enigste is wat my kan genees.

“Die dokters en verpleegsters het egter gesê ek moet aanvaar dat my toestand nie gaan verander nie, en dat ek nooit kinders sal kan hê nie.”

Roseleigh sê sy het nooit ophou glo nie, en sy het gevoel hoe haar verhouding met God verdiep. Asook hoe Hy haar liggaam begin genees.

“Ek kon agterkom hoe ek, stadig maar seker, aansterk. Hoe klein dingetjies begin gebeur. Die ringvinger aan my linkerhand was byvoorbeeld die eerste vinger wat kon beweeg, selfs voor my arm. Ek het grappenderwys vir iemand gesê dis God se manier om vir my te sê dat ek volgende jaar gaan trou. Toe gebeur dit regtig!”

Ná ’n maand en ’n half in die rehabilitasiesentrum het haar toestand so verbeter dat sy met behulp van ’n kruk kon begin loop. Haar voet was wel nog in ’n stut omdat dit nie sterk genoeg was om op te lig nie.

Sy kon ontslaan word. Haar dokters het aanbeveel dat sy saam met ’n vriend of familielid huis toe gaan, iemand wat na haar kon omsien. Roseleigh sê sy het egter besluit om eers alleen te woon sodat sy self kon bepaal in watter mate sy onafhanklik kon funksioneer.

Die sielkundige skade eis sy tol

Dit het ’n ruk lank goed gegaan, maar die emosionele en sielkundige skade wat deur die aanranding veroorsaak is, het sy tol begin eis.

Roseleigh vertel: “Ek het my huis se deure en vensters gesluit gehou, ongeag hoe warm dit bedags was. Saans het ek gewag totdat my bure tuis is voordat ek enigiets oopgesluit het. Ek het erge angs ervaar, ek het nagmerries gekry.

“Dit was vir my duidelik dat ek hulp nodig het. Ek het my dokter gaan spreek en dié het my twee weke lank in ’n psigiatriese hospitaal laat opneem.”

Daar het sy terapie ontvang, en medikasie is voorgeskryf om haar angsvlakke te beheer.

Sy dra steeds aan dié las. “Ek sukkel om mense te vertrou, en ek gebruik medikasie vir angs en depressie en om te kan slaap. My liggaam sukkel om spiere aan die linkerkant te bou. Dit het tot gevolg dat ek aan die linkerkant maerder is as aan die regterkant. Dit maak my selfbewus. Boonop ervaar ek aan my regterkant, van my naeltjie tot by my voete, ’n ‘naalde en spelde’-gevoel. Gelukkig help dit darem dat ek kan voel waar ek trap.”

Lig uit die donker

“Maar,” sê Roseleigh, “daar kán lig uit die donker kom.” Te midde van al die uitdagings het God op ’n kragtige manier in haar lewe gewerk. Sy het haar droomman ontmoet, en is op 7 Desember 2019 met Yance Jacobs getroud.

Sy vertel: “Ek kyk dikwels terug, vol verwondering oor hoe God sy wil vir my en sy plan vir my lewe ten uitvoer bring. Die gesin waarvan ek nog altyd gedroom het, het ’n werklikheid geword toe my seun Zion in 2021 gebore is en my dogter Oakleigh in 2022.

“Ek tree baie beskermend teenoor my kinders op; soms is ek dalk óórbeskermend. Hul veiligheid is my prioriteit en ons gaan nie sommer iewers heen sonder my man nie.”

Die emosionele genesingsproses is tydsaam. Roseleigh is enkele maande gelede weer opgeneem vir die behandeling van posttraumatiese stresversteuring. Sy sê: “Ek besef dat ek goeie én slegte dae sal beleef, maar ek bly dankbaar. Ek is dankbaar dat ek nie in ’n rolstoel sit nie, ek is dankbaar dat ek ’n onderwyser kan wees. Ek is dankbaar dat ek self by my klas kan kom. Ek is dankbaar vir my familie. En ek is, bowenal, dankbaar vir God wat my lewe gespaar het.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF