Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘My aanvaller se oë het soos die duiwel s’n gelyk’

DEUR ANDREW DE VRIES

Dit was 10 Desember 2021, die dag van die Koelenhof-wynkelder naby Stellenbosch se jaareindfunksie.

Eers het die kelderwerkers hul eie funksie gehou. Hulle het gebraai en ons het vir hulle geskenke gegee, vir hulle gebid en gevra dat die Vader hulle sal seën op hul pad en in die vakansie wat voorlê.

Ek het na my kantoor teruggestap terwyl die funksie nog aan die gang was.

Op pad het ek gesien hoe ’n werknemer aangehardloop kom. Hy was netjies aangetrek en ek het gedink hy was dalk net laat vir die funksie. Ek het geweet hy het die vorige dag sy twee weke-kontrakwerk in die tuin by die kelder voltooi. Ek het hom gegroet: “Hello, how are you?”

Die volgende oomblik het hy van rigting verander en op my afgestorm. Sonder waarskuwing het hy begin om my met ’n mes te steek.

LEES OOK: ‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

Ek het om hulp geskree, en terselfdertyd probeer keer. Ek het dadelik besef dis ’n geveg om lewe en dood. Sy oë het soos die duiwel s’n gelyk.

Een van die werkers het die geskree gehoor en my te hulp gesnel. Hy en ’n klompie ander het die aanvaller van my afgekry.

Ek het later gehoor daar was 15 messteke aan my lyf, waarvan tien op my rug, vier op my arm en skouers, en ’n laaste een in my gesig. My lippe en tong is in die helfte gekloof, een van my boonste tande is gebreek en twee ondertande is deur die mes uitgeruk. Ook my onderkaak is erg beskadig.

Andrew het eers later gehoor hulle veiligheidswag by die hek, Nkoliseko Temela, is by sy wagpos oorrompel, ook verskeie kere gesteek en vir dood agtergelaat. Ook Nkoliseko het herstel. Foto verskaf

Ek moes ook later verneem dat die aanvaller ons veiligheidswag by die hek, Nkoliseko Temela, by sy wagpos oorrompel het, hom verskeie kere gesteek en vir dood agtergelaat het.

Maar in daardie stadium het ek net geweet ek bloei baie, en ek het die wynmakers gevra om my hospitaal toe te neem. Een van hulle het sy hand op my rug gehou, ekself het my hand op my skouer gesit om die bloeding te probeer keer.

Een van ons dienstekliënte, Eugene Scheepers van The Daily Wine, het met my na Cape Gate Mediclinic gejaag. Hy het, met God se genade, my wakker gehou en deurentyd vir my gesê: “Andrew, ek het jou! Ek het jou!”

Om ons vreugde te steel

Die Here het Koelenhof geseën. Op 10 Desember 2021 kon ons ons tagtigste bestaansjaar tot eer van Hom vier. Hy het ons met 80 medaljes in ons tagtigste bestaansjaar geseën, vér bo verwagting.

LEES OOK: ‘Dáárdie skade aan ’n kind is vir altyd’

Net vyf dae voor die traumatiese aanval het een van ons direkteure se vrou na Koelenhof uitgereik, en sy en ’n groepie vroue het profetiese danse kom doen. “Joy” was een van die liedjies waarop hulle wou dans, maar om die een of ander onverklaarbare rede het die musiekopname elke keer ná slegs tien sekondes gestop. Hulle het weer en weer probeer, maar niks wou werk nie.

Al die ander liedjies het perfek gespeel. Ek is daarvan oortuig dat die Bose reeds daar ons “joy” wou steel …

Goue vuurwerke

Ek het fantastiese diens by Cape Gate Mediclinic ontvang. Al die spesialiste was, deur die Here se genade, daardie slegte dag aan diens en hulle het dadelik aan my aandag gegee.

Andrew en sy geliefde gesin. Hy is baie dankbaar vir sy vrou Renata en kinders Carlo, Anika en Andro se ondersteuning. Foto verskaf

My vrou was deurentyd by my. Sy het die Vader gevra om in te gryp en oor te neem. Sy het my gerusgestel en verseker dat alles goed sal gaan. Dat daar ’n groot klomp mense is wat vir my bid.

Ek kan onthou dat alles om my donker was, en ek het baie alleen gevoel. Dit het geblyk dat my een long tydens die struweling beskadig is en daar is reeds in die ongevalle-afdeling ’n dreineringspyp ingesit. In ’n stadium het dit gevoel asof water in my borskas opstoot. Ek het geweet dat as die water tot by my hart opstoot, ek sal versmoor. Ek het gebid, die Here se Naam aangeroep en Hom gevra om in te gryp. Om my vrou te seën, om my kinders te seën en te beskerm, want ek het gevoel ek gaan sterf.

Ek het ook die Ons Vader-gebed probeer opsê, maar elke keer net tot by “Ons Vader wat in die hemel is” gekom – en dan kon ek nie die woorde verder onthou nie.

Ek het later na Engels oorgeslaan, maar weer kon ek nie die woorde onthou nie. Ek het toe maar net Jesus se Naam gesê.

Iewers in my geestesoog het ek gesien hoe die Vader goue vuurwerke aan my wys, hoe dit hemel toe skiet. Ek het besef dat dit baie, baie smeekgebede van medegelowiges is wat vra dat my lewe gespaar word.

Net daarna het ek wakker geword en geweet dat dit is soos die Vader gesê het: Hy gee ons die Heilige Gees as Voorspraak sodat ons groter dinge kan doen, soos wat Hy gedoen het.

En ek het besef dat hierdie geloofsgemeenskap, deur gebed en die Here se krag, my opgewek het.

Hemelwesens

Ek is na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas, omdat daar steeds pype in my liggaam was. Daardie Sondagoggend het die dokter die pype verwyder en gesê ek moet fisioterapie ondergaan.

Die verpleegkundiges het outomatiese pompe om my bene geplaas wat die bloedtoevloei kon reguleer en verhoed dat bloedklonte vorm. Daar is ook ’n  apparaat oor my gesig geplaas wat my gesig kon masseer.

Ek het later die verpleegpersoneel gevra of hulle dié apparaat van my gesig kon verwyder omdat my vel sensitief geraak het.

Hierop het die suster gesê: “Maar, meneer, daar is niks op u gesig nie!”

Ek het dadelik besef dat dit engele was. Dat dié hemelwesens my op ’n bonatuurlike wyse gehelp het.

My gesig het ten volle herstel. Prys die Here daarvoor!

Sewe

Die Here het my met die getal sewe gesalf. Ek het sewe dae in die hospitaal deurgebring, en toe ek huis toe gaan, het 14 bosse blomme daar op my gewag. Ek het soos Job gevoel. Die Vader het my geseën om weer lewend te word.

En, soos Job, het ek ervaar dat die Bose teen die Lig, teen God, om my lewe geveg het. Die Vader het gesê die Bose kan enigiets met my doen, behalwe om my lewe te neem.

Ek kan daarvan getuig dat ek deur God se guns en sy genade gespaar is. Toe ek daardie dag die aanvaller se oë sien, het ek geweet dis ’n geveg tussen Lig en Donker. Dis nie tussen mense nie.

Die Vader se humorsin

Ons geloofsgemeenskap het ons wonderlik ondersteun. Daar was baie kos in ons yskas wat eenvoudig na ons toe aangedra is.

Daar was ’n spesifieke dame in Stellenbosch op wie se hart die Here dit gelê het om na ons uit te reik. Sy het baie kos gebring – onder meer ’n brood wat sy gebak het. Sy het gesê dis “die brood van die lewe”. Sy het vertel dat sy, toe sy tien jaar oud was, ’n kaartjie met die Ons Vader-gebed by haar Sondagskoolonderwyseres gekry het. Sy het dit deur die jare in haar Bybel gebêre. En, het sy vertel, sy het gevoel dat sy vir my ’n kopie daarvan wil maak en gee.

Sy het nie geweet van die gebed wat ek so sukkelend gebid het nie.

En ek het opnuut onder die indruk van ons Vader se humorsin gekom. Hy het my gebede gehoor, en gereken dis nodig dat ek weer die Ons Vader-gebed se woorde moet leer …

My dankbaarheidlys

Ek is só dankbaar teenoor my pragtige vrou Renata. Ons Vader het haar met sy wysheid en krag geseën om alles so mooi te kon hanteer. En ek is dankbaar vir my geliefde kinders – Carlo, Anika en Andro.

My dankbaarheidlys is lank: My boeties en sussies in Christus wie se smeekgebede verhoor is; Koelenhof se direksie; my kollegas wat my op verskillende maniere ondersteun het. Eugene wat met my hospitaal toe gejaag het; vriende en familie wat gebid het, wat ondersteuning en liefde gegee het.

En ek kan die Here slegs eer vir alles wat Hy vir my gedoen het, en die verhoudings wat Hy deur hierdie slegte gebeure herstel het.

Soms vra mense hoekom dit met my gebeur het, en dan antwoord ek: “Hoekom nie?”

Ek is nie bang om van God se liefde te getuig nie. Ons aanbid ’n wonderlike God. Ek weet elke dag dat die Vader niks oor jou pad sal stuur wat jy nie kan hanteer nie. Ek weet die Here is by my, vir ewig.

Toe Jesus aan die kruis gehang het, het Hy gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Ek kan daarvan getuig dat die aanvaller, wie se oë soos die duiwel s’n gelyk het, ongelukkig met die Bose vervul is. Maar ek het hom lankal vergewe, want ek het besef dat hy nie ’n kans teen die Bose gehad het nie. Hy het nie geweet wat hy doen nie.

Ek bid vir sy siel. Ek bid dat die Vader hom sal aanraak.

  • Andrew de Vries is die besturende direkteur van Koelenhof-wynkelder net buite Stellenbosch.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF