Jy lê snags wakker en wonder waar jy misluk het. Hoekom het jy toe nie die ma geword wat jy destyds gedroom het om te wees nie? Die skuldgevoelens verteer jou … Toemaar, troos die geleerdes, skuldgevoelens is nie net sleg nie; dit wys ons ook wat regtig belangrik is. En te midde van al die selfkastyding kan jy wel leer hoe om onbevange teenwoordig te wees by jou kind.
Waar is die oggend tog heen; ek moet dan al vir Sus by die kleuterskool gaan oplaai?
En ek het nie naastenby by al my werk uitgekom nie!
Ag, hoe wens ek tog sy wil ’n bietjie alleen speel sodat ek iets gedoen kan kry. Ek weet ons het besluit daar is geen skermtyd in die week nie – maar kan ek nie maar die TV net vir ’n rukkie aanskakel nie?
Uitendelik sit ek by haar en ons speel pop. Maar my gedagtes is by die lang lysie dinge wat ek moet afhandel wanneer sy vanaand in die bed is.
LEES OOK: Bou só jou kind se selfbeeld
En wanneer dit uiteindelik mý slaaptyd is … lê ek wakker. En ek word gedwing om na die bekende, beskuldigende stem van my innerlike kritikus te luister:
“Jy is te kwaai met haar; jy moet geduldiger wees.”
“ y bring nie genoeg gehaltetyd saam met haar deur nie.”
“Jy het dit nou nog nie reggekry om, soos al die ander ma’s wat jy ken, die werk-lewe-balans te bemeester nie.”
“Jy moet vir haar ’n kosblik pak met gesonder kos daarin.”
En deurentyd stem ek saam: Ek is inderdaad ’n slegte ma.
Van waar hierdie skuldgevoelens?
Mamma-skuldgevoelens (mommy-guilt) is ’n toestand waaraan baie ma’s (en dalk net soveel pa’s) swaar ly. Hulle worstel met die oortuiging dat hulle ver te kort skiet wat hul ouerskap betref.
Hulle is meestal doodseker daarvan dat hulle hul kinders in die steek laat.
Waar kom sulke skuldgevoelens vandaan? Dalk het dit sy oorsprong by rolverwagtinge, by die samelewing se onrealistiese eise. By die idee dat ’n ma, te midde van haar loopbaan-uitdagings, steeds alles moet hê en alles moet wees. Dat haar gesin, en juis die kinders, niks sal regkry as sy hulle nie van kop tot tone versorg nie.
Voeg daarby allerlei selfopgelegde verwagtings oor vrou- en ma-wees. En siedaar, hier is die resep vir nagte se wakker lê en ure se selfbeskuldigings.
Maar is skuldgevoelens nét sleg?
“God het ons geskape met die vermoë om te voel,” sê dr Karen van Niekerk, ’n kliniese sielkundige in Pretoria. “Alle emosies is menslik, en dit speel ’n belangrike rol in ons lewe. Dit gee kleur aan ons lewe, maar dien ook as ’n rigtingwyser.”
Hoe dan so? wil ek weet.
“Skuldgevoelens is ’n belangrike emosie omdat dit bevestig dat ons die vermoë het om tussen reg en verkeerd te kan onderskei,” verduidelik Karen. “Gesonde skuldgevoelens aktiveer ons gewete, sodat ons op dié manier aangespoor word om die regte besluite te neem.
“Die vraag is natuurlik of jou skuldgevoelens toepaslik of ontoepaslik is.”
Hoe weet ’n mens – en spesifiek ’n ma – wanneer dit die een of die ander is?
Volgens Karen is ontoepaslike (oftewel, destruktiewe) skuldgevoelens dikwels die gevolg van ’n ma se selfopgelegde verwagting dat sy altyd “die regte ding” moet doen.
“Dis egter ’n onbegonne taak, want hoe weet ons, in alle omstandighede, wat die regte ding is om te doen? Dis nie so eenvoudig om reg en verkeerd te bepaal nie. Wat in een situasie of konteks reg is, kan in ’n ander verkeerd wees. Om dus vooraf, en met sekerheid, te weet wat reg is, is bloot onrealisties.
“En die hartseerste van alles is dat hierdie onrealistiese verwagtings, en die skuldgevoelens wat daarop volg, ons nie beter ouers maak nie. Die blaming and shaming wat met hierdie skuldgevoelens gepaardgaan, neem ook sóveel van ons denke en emosionele energie in beslag dat ons meermale ‘onbereikbaar’ word vir ons kinders.”
Ek dink lank oor wat Karen my geleer het. En ek dink oor ouerskap. Aan my dogtertjie, en wat sy van my nodig het.
En ek wonder of die antwoord nie lê in vier woorde wat ek onlangs gelees het en wat sedertdien by my spook nie: “a less anxious presence.”
Miskien, dink ek nou, indien ek van die ontoepaslike skuldgevoelens en onrealistiese verwagtings kan vry kom, sal ek tóg onbevange teenwoordig kan wees in my kind se lewe.
En is dit nie die beste ding wat ’n mamma kan doen nie?
Wat maak ek met my (ontoepaslike) skuldgevoelens?
- Onthou dat jy en jou kind aan God behoort. Jy is deur God uitgekies om jou kind se ouer te wees.
- Wees genadig met jouself. Onthou: Jy het nie opleiding in ouerskap gehad nie.
- Moenie dit alleen probeer regkry nie. Omring jou met mammas met wie jy jou uitdagings (en skuldgevoelens) kan deel.
- Wees bewus van jou innerlike kritiese stem en wanneer dié jou begin beskuldig. Wees veral op die uitkyk vir daardie “jy moet”-boodskappe. Stel vas of die verwagtings wat jy van jouself koester realisties is.
- Beoefen selfdeernis. Onthou, om ’n ma te wees is nie eenvoudig nie. Ons misluk dikwels, net soos ons ouers ook maar dikwels misluk het. Gelukkig is mense veerkragtige wesens. Behou perspektief wat jou tekortkomings betref, en herinner jouself gereeld aan al die dinge wat jy reg doen, en nie net aan die dinge wat jy dink jy verkeerd doen nie.
- Beoordeel jouself soos jy ’n vriendin sal beoordeel. Ons werk meestal “sagter” met ander se tekortkomings en foute as met ons eie.
- Beskou daardie aspekte van jou ouerskap waarvan jy nie hou nie as geleenthede om te groei, eerder as kanse om jouself te kasty. Herinner jouself daaraan dat jy die beste doen wat jy kan, selfs wanneer daar ruimte vir verbetering is.
- Fokus op die proses eerder as op die uiteinde. Dis belangrik om tyd vir nadenke in te ruim. En in plaas daarvan om jouself te bestraf oor wat jy gedoen het of nie gedoen het nie, vra eerder (sagkens!) vir jouself: “Hoe het ek gedink?”
- Wees “teenwoordig”. Wanneer jou gedagtes in die verlede of toekoms ronddwaal, kan jy nie hier-en-nou by jou kinders wees nie.
- Ruim tyd in vir selfsorg. Lees ’n boek, gaan stap, of kuier ’n slag saam met ’n vriendin. Jy kan nie ’n goeie ma wees as jy nie gelukkig en gesond is nie.
Sorg dat daar altyd tyd is om hiéroor na te dink:
- Maak die skuldgevoelens my ’n beter ouer?
- Waaraan meet ek myself en my ouerskap? Is dit realisties?
- Is dit altyd so eenvoudig om te onderskei tussen wat die regte en wat die verkeerde ding is om te doen?