Amanda Schoeman (56) praat van “genade op genade” wat sy uit die Here se hand ontvang. Ná geweldige trauma, onder meer drie keer wat sy met kanker gediagnoseer is, asook die verlies van haar ma en twee lewensmaats, is haar diepste wens vandag om hoop aan ander te gee.
Sy en ’n vriendin, Madelein van Zyl, bestuur die Ukudla Isizwe-projek waardeur hulle ’n impak op honderde mense se lewe maak deur die volhoubare kweek van groente.
Amanda se oorwinningsverhaal is nie ligte leesstof nie; die lewe het haar allermins soos ’n porseleinpop hanteer. Maar steeds bly dié Pretorianer blymoedig en vol hoop dat sy nog jare lank ’n verskil in ander se lewe sal maak.
Mense wat groente in hul tuin kweek om aan die lewe te probeer bly, word bestaansboere deur hul ingryping. Begunstigdes word deur middel van groentetonnel-projekte gehelp om werkgeleenthede te skep, en om ’n bestaan te maak deur hulleself en die omliggende gemeenskap te voed.
‘Ek is hier om ’n verskil te maak’
Maar die pad tot hier het die een opdraand ná die ander ingesluit. En as Amanda nou daarop terugkyk, sien sy hoe dit haar gebrei het, sterker gemaak het, om ander mense voluit te kan dien. Sy lag: “Hulle sê vir my ek gaan nog die aliens oorleef!” Dan, op ’n ernstiger noot: “Ek is hier om ’n verskil te maak. Daarom leef ek nog. Die Here het ’n duidelike plan met my.”
LEES OOK: ‘Die onkoloog noem my haar wonderwerk-pasiënt’ getuig vrou wat longkanker oorleef het
Ons gesels vroegoggend tydens een van Gauteng se ergste hittegolwe nóg. Hoewel die wêreld buite aan die verlep is, is Amanda soos ’n vars bries.
Ek wil hoor hoe sy staande gebly het deur al die storms in haar lewe. Sonder aarseling sê sy: “Psalm 18:3, en ’n wonderlike, liefdevolle ondersteuningsnetwerk.
Sy en Madelein het Ukudla Isizwe van stapel gestuur nadat Amanda ’n derde keer kanker oorwin het. Dit was tydens die Covid-19-pandemie. Terwyl Amanda kos gee-plekke vir hongeres by verskeie adresse in en om haar buurt in Pretoria bedryf het, was sy bewus van mense in die afgeleë nedersettings wat eenvoudig nie daar kon uitkom nie. “Ons het besluit om ’n groentetonnel-projek op die been te bring, met die doel om voorheen benadeelde gemeenskappe in staat te stel om vir hulleself groente te kweek, om selfonderhoudend te wees, om entrepreneurs te word.”
’n Reis met die groot K
In 1999 is maagkanker by Amanda gediagnoseer. Sy vertel sy was bitter siek, maar dat sy nogtans die diagnose positief benader het. In daardie stadium was haar drie kinders nog klein en sy het besluit dat ’n positiewe ingesteldheid die beste benadering vir hulle almal is.
Sy het twee derdes van haar maag verloor en moes ’n maagomleiding ondergaan. Dié vrou, wat eens 58 kg geweeg het, was eensklaps ’n blote skaduwee van haar ou self. “Ek het chemoterapie gekry, die kanker was daarna in remissie, en die lewe het weer voortgegaan.”
Maar in 2007 was die kanker terug. “Ek was platgeslaan. Hoe vertel ek my lewensmaat en my kinders ons moet wéér hierdeur gaan? Ek het gebid, ek het God gevra om my asseblief nie weg te neem nie. My grootste vrees was dat my drie kinders sonder ’n ma moes grootword.”
Weer het Amanda chemoterapie ontvang, en weer was die kanker in remissie.
In 2010 het ’n verpletterende derde kanker-skok op Amanda gewag. Dié keer was dit aggressiewe limfklierkanker. Die spesialis wou ’n mastektomie uitvoer, maar Amanda het geweier. “Ek was ontsettend kwaad. Ek het met die Here geredeneer: Hoekom weer kanker? Hoekom ek?”
As gevolg van die chemoterapie het haar hare begin uitval en sy het besluit om alles summier te laat afskeer. “Ek kon nie ’n pruik op my kop verdra nie, ek het ’n hoed of ’n kopdoek verkies. Dit was vir my bitter erg.”
Sy het haar weer tot die Here gewend, en weer gevra dat Hy haar lewe moet spaar. “Ek het gesê: ‘Here, ek is hier vir u mense. Spaar my asseblief.’ En sewe lang maande later het die toetse gewys ek is ‘skoon’.”
Op 30 Desember 2013 was Amanda en haar destydse lewensmaat, Chris Pretorius, in ’n ernstige botsing betrokke. Chris is op slag dood en Amanda was langer as ’n week in ’n koma. Sy het ’n gebreekte pelvis opgedoen, asook ’n gebarste milt, erge bloeding en ’n skouerbesering. Die hospitaalpersoneel het by meer as een geleentheid haar kinders laat weet om te kom afskeid neem.
Maar weer het die Here Amanda se lewe gespaar. Sy moes van voor af leer loop en sy sukkel vandag nog met haar korttermyngeheue. Sy vertel: “Naas my Bybel is my notaboek my gunstelingboek. Ek skryf álles neer, net om te kan onthou!”
In 2019 het sy weer ware liefde gevind. “Ek was so dankbaar dat die Here weer iemand oor my pad gestuur het.” Coen Steenkamp het haar hart gesteel. “Hy was baie lief vir mense en het altyd gehelp waar hy kon.”
Maar kort ná die Covid-19-pandemie is Coen met melanoomkanker gediagnoseer en verdere toetse het bevestig dat dit reeds na die res van sy liggaam versprei het. Hy is enkele maande later oorlede.
Amanda kan nie die trane keer wanneer sy vertel hoe Coen, tot aan die einde, geglo het hy sal nog saam met haar ’n aftreehuis op Leeupoort bou nie. Op 26 Desember 2021 het Coen vir Amanda gesê hy is moeg. “Ek en sy kinders het saam gebid dat as dit die Here se wil is, Hy Coen moet kom haal,” vertel sy. “Daar het ’n vrede oor ons almal gekom. Ons het sy suurstofmasker afgehaal en sy hand vasgehou. Sy laaste woorde was: ‘Daar kom die engel.’”
Amanda se trane loop nou vryelik. Maar haar verhaal oor verlies is steeds nie voltooi nie. In 2023 se begin is haar ma ná hartversaking oorlede.
Geloof, hoop en liefde
Deur die Ukudla Isizwe-projek het Amanda-hulle reeds meer as 600 groentetonnels in gemeenskappe in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal opgerig. Daar word nog meer in die vooruitsig gestel.
Elke plantjie wat uit die dorre aarde voortkom, simboliseer vir Amanda nuwe lewe, nuwe kanse. En geloof, hoop en liefde. “As daardie eerste plantjie se groen blare uitkom, sing en juig die mense. Oumas, oupas, klein kindertjies. Hulle sing oor hierdie eerste blaartjie. En as die plantjie groot is en jy kan begin oes … Daardie gevoel is onbeskryflik.
“Om te kyk hoe daar, uit niks, ’n florerende onderneming begin groei, is buitengewoon. God het hierdie projek vir ons gegee, en Hy beskerm ons elke tree van ons pad. Hy rus ons toe om ander te kan ophef. Ons sê net elke dag dankie.
“En ek wéét ek leef om ’n rede, en dit laat my juig!”
* As jy meer wil weet oor die Ukudla Isizwe-projek, gaan kyk by www.ukudla.org.za
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.