Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek is verpletter na klein Miga se dood, maar God is my Lewensredder’

12 Februarie 2021


DEUR SULEI EYGELAAR

Ek loop reeds 28 jaar lank kaalvoet op die strand, hier waar klein brandertjies breek en die water koel oor my voete spoel. Ek verkies dit waar dit veilig en vlak is, waar ek in beheer kan wees.

Dis hier in die vlak water waar ek my lewe beplan het. Hier het dit met my goed gegaan, ek was gelukkig en ek het my seëninge getel – totdat ek in die diep water beland het.

“Ons weet nie wat gebeur het nie”

Op 23 Oktober 2020, vroeg daardie Vrydagoggend, het my lewe onherroeplik verander: My kind het gesterf.

In gelukkiger dae tydens vakansie. Foto verskaf

Op 24 Julie, skaars drie maande tevore, het ek die lewe aan my tweede seuntjie geskenk – Miga Eygelaar. In ’n tyd toe die wêreld met die Covid-19-pandemie worstel, is ek ’n geseënde mens en beskou ek my as bevoorreg om drie dae ná die bevalling met ’n gesonde baba huis toe te gaan. Daar het Pappa en Ouboet (Daniel) gretig op ons gewag.

Ons het sy naam uit die Bybel gekry. Dit beteken: “Wie is soos God?”

Tuis het alles verbasend maklik verloop. Ons was voorwaar ’n gelukkige, tevrede gesin.

LEES OOK: ‘\’My lewe is in ’n oogwink verander,’ skryf man voor sy dood

Dit was egter van korte duur.

Ons weet nie wat gebeur het nie.

Daar was geen teken, geen waarskuwing nie. Miga het daardie nag op die gewone tyd wakker geword en ek het hom melk gegee. Ná die voeding het hy allerlei geluide gemaak en dit het vir my geklink asof hy krampe kry. Maar toe ek weer aan hom vat, was hy sopnat gesweet. En yskoud.

Tien minute later was ons by die hospitaal. Hier was dit ’n absolute deurmekaarspul, ’n nagmerrie. Ons mag nie by hom in die kamer gewees het nie en het buite in die gang gestaan en bid. Die deur was wel oop, en ons het alles gesien.

Die oomblik net na Miga se geboorte. Foto verskaf

Ná ’n ruk het die dokter die tyding gebring, maar ons het toe reeds geweet …

Hy het Miga se dood aan aspirasie toegeskryf. Dis iets soos vloeistof wat in die longe kom. Later het ons huisdokter die woord “wiegiedood” gebruik. Met verloop van tyd is daar allerlei mediese terme aan ons genoem.

Dit het nie meer saak gemaak nie. My kind was dood.

Die roudiens en die boodskap

Francois Henn het van die Wes-Kaap tot by ons in Limpopo gereis om by Miga se roudiens die Woord te bring. Hy het onder meer die volgende gesê:

“Agt eeue voor Jesus se koms stuur God die profeet Miga, die man met die naam wat ‘wie is soos God?’ beteken, om ’n boodskap aan God se mense te bring. Miga sê daar kom ’n oordeel oor diegene wat nie hul hart na God draai nie. Dit was ’n oordeelswoord, maar ook ’n uitnodiging.

“God wil almal by Hom hê. Hy wil vir ons ’n Vader wees. Hy wil hê dat ons vir Hom ’n volk sal wees. Hy wil ons heelmaak, ons troos en ons nuut maak.

“Die man met die naam wat beteken ‘wie is soos God?’ vra ook: Wie kan heelmaak, en troos en nuut maak soos God?

“Wil ons dit hê? Of wil ons in ons omstandighede bly vaskyk?

Klein Miga kyk mooi vir die kamera. Foto verskaf

“In Miga 2:13 sê die profeet (volgens die 1933/1953-vertaling) dat die Here soos Een is wat deur die skaapkraal breek en sy kudde lei. God is die ‘deurbreker’, die Een wat voor sy kinders uit loop.

“Agt eeue later het God se kinders Jesus leer ken, die Goeie Herder. Sy skape ken sy stem, en Hy roep hulle op die naam. Hy ken hul seer en hul swaar, hul verlange.

“Ons Here, die deurbreker, het ook deur die dood en die graf gebreek. En ons, sy kudde, sal Hom ook daarin volg.

“Want soos almal weet wat klein Miga liefgehad het: Wie is soos God?”

My Lewensredder 

My lewe is in twee verdeel: die lewe voor Miga, dis ’n lewe in die vlak water; die lewe ná Miga, dis ’n lewe in diep, onstuimige waters. Ek spook om kop bo water te hou. Ek veg elke dag om nie te verdrink nie.

Daardie verskriklike nag toe ek klein Miga voor my oë gesien sterf het, het die vrae begin. En die selfverwyt. Wat het ek verkeerd gedoen? Wat moes ek nóg gedoen het?

LEES OOK: Die 1 Korintiërs 13-mamma

Ek bevind my tans in ’n proses om myself vry te spreek. Dis egter ’n moeisame reis, dis drie treë vorentoe en twee treë terug.

Intussen het God ’n behoefte in my hart gelê om gedoop te word. So is ek daardie oggend van my Miga se roudiens deur Francois Henn gedoop. My geliefdes het toegekyk, en ek is in Christus vernuwe.

Ek spook en spartel steeds in die woeste water, maar ek is opnuut verseker dat Hy my Lewensredder is.

Want wie is soos God?

  • Die Eygelaars woon in Ellisras, Limpopo. Sulei het haar eie besigheid, Morsjorsies, en sy doen sensoriese aktiwiteite met babas en kleuters. Haar man Tiaan werk by die Exxaro Grootegeluk-myn.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF