Nadat ’n groot deel van Paola Holbrook (39) se vroulike naasbestaandes reeds aan borskanker oorlede is, het sy besluit om as gesonde jong vrou ’n voorkomende dubbelmastektomie te ondergaan.
“Ek het eendag ’n televisiereeks, The bold type, gekyk. In hierdie reeks het ’n karakter met dieselfde geskiedenis as ek geworstel. Nadat die BRCA1-geen by haar gediagnoseer is, het sy ’n profilaktiese dubbele mastektomie ondergaan. Hierdie reeks het ’n groot invloed op my besluit gehad om die toetse te laat doen,” onthou die 39-jarige Paola Holbrook.
Paola woon saam met haar Amerikaanse man Chad en hulle seun Colin (11) en dogter Giulia (10) in West Chester, Ohio, in Amerika. Buiten haar werk as finansiële konsultant is sy ook ’n fiksheidsafrigter. Sy het na Amerika verhuis nadat sy in Suid-Afrika grootgeword het.
LEES OOK: Mev SA-finalis ná borskankerstryd: ‘Mammogramme eers op 40 is bog’
Paola het op genetiese toetse besluit as gevolg van haar familiegeskiedenis met borskanker. Sy het onder meer haar ma aan hierdie siekte verloor toe sy ’n brose sewe jaar oud was. Paola het lank reeds besef dat sy in ’n hoërisiko-kategorie val. Hierdie toetse was egter vir haar ’n onbekende pad wat sy gevrees het.
Paola het besef dat as sy nie die genetiese toetse sou doen nie, sy vir die res van haar lewe oor haar skouer sou kyk. Tog was dit nie ’n besluit wat sy ligtelik opgeneem het nie, al sien sy haarself nie as ’n persoon wat deur haar emosies gedryf word nie. Sy is van kleins af deur haar oorlede pa aangemoedig om nie toe te laat dat gevoelens haar lei nie.
Borskanker ’n donker wolk
Paola vertel verder: “Ek het altyd in my agterkop besef dat ek moontlik borskanker kon kry. Dit het soos ’n donker wolk oor my lewe gehang. As ’n ma van twee, wou ek hulle graag sien grootword en hopelik eendag ook ’n ouma wees. Deur my te laat toets en my risiko te bepaal, het ek beheer oor my lewe geneem. Ek het uiteindelik die besluit geneem omdat dit die beste vir my en my gesin sou wees.
“Elke keer wat ek getwyfel het of ek die regte besluit geneem het, het my man my verseker dat ek op die regte koers was. Hy het my in alle opsigte ondersteun en elke doktersafspraak bygewoon,” onthou Paola. Alhoewel Paola as gevolg van haar geskiedenis jaarlikse toetse ondergaan het, was die genetiese toetse baie meer as dit. Die positiewe uitslae was ’n groot skok – ook vir haar gesin, vriende en familie. Die mense na aan haar het ’n spreekwoordelike laer om haar en haar gesin getrek.
Assuransie-kwessies
As gevolg van die feit dat Paola ’n genetiese agterstand gehad het, moes sy eers haar assuransie in orde kry. Omdat sy die geen gedra het, kon lewensversekeringsmaatskappye in die toekoms haar aansoek vir dekking van die hand wys. Sy is dus eers ’n jaar later geopereer, nadat sy al haar assuransie-kwessies aangespreek het.
Paola erken dat sy bang was vir die prosedure. “Ek was op ’n wipplank van emosies. Dit was egter eerder my vrees vir narkose wat die oorhand gekry het. My man was darem die hele tyd daar om na my vrese te luister,” onthou sy. “Ek sou myself nie as sterk bestempel nie, maar eerder as iemand wat geen keuse gehad het nie. Tog was ek nog altyd onstuitbaar as ek ’n besluit geneem het. My oog was deurentyd op die einddoel om vry te wees van jarelange vrees,” erken Paola.
Voor die operasie het Paola probeer om in die beste fisiese en emosionele toestand te wees. Sy het immers nog nooit enige operasies of prosedure gehad nie. Die dag voor die prosedure het Paola haar hare laat versorg. Sy het besef dat dit ’n lang tyd sou wees voordat sy dit weer self kon doen. Hierdie afspraak was ook nog ’n groot stap in Paola se reis. Die haarkapper het aan haar vertel dat sy haar eie inplantings in haar borste gaan verwyder omdat sy besef het dit kan skadelik wees.
Dit het haar ernstig laat nadink oor haar eie rekonstruksie. Paola het onthou hoe haar chirurge klem geplaas het op rekonstruksie. Die idee om ’n vreemde voorwerp in haar borste te hê, was vir haar onrusbarend. Haar chirurg het ook aan haar verduidelik dat indien sy rekonstruksie sou kies, dit moeilik sou wees om dit weer te verwyder. Paola het dit met Chad bespreek. Hy het dadelik bevestig dat dit haar liggaam was, en dat hy enige besluit wat sy sou maak, volkome sou ondersteun. Paola het haar plastiese chirurg gekontak en van haar besluit verwittig. Sy sou eerder hierdie aspek van vroulikheid verloor en haar lewe behou.
Geen rekonstruksie
“Om nie rekonstruksie te kies nie, is ’n baie persoonlike reis en elke persoon is geregtig daarop om ’n eie keuse te maak. Ek is geensins gekant teen hierdie prosedure nie, maar voel sterk daaroor dat medici genoeg inligting moet deurgee sodat elke individu ’n ingeligte besluit kan neem,” vertel sy.
Die prosedure het sowat vier en ’n half uur geneem, vertel Paulo. Sy onthou ook dat sy rustigheid ervaar het voor en na die operasie. “Ek weet dit was deels die medikasie, maar ook die rustige wete dat ek die beste besluit gemaak het,” onthou sy. “My man en my kinders was ongelooflik. Ek het drie verpleegsters tuis gehad wat vir my vertel het wat om te doen – met bitter baie liefde!” Alhoewel sy nie pyn ervaar het nie, was die dreineringspype ongemaklik. Op die agtste dag is die dreinering verwyder. Paola glo dat daar ’n rede en ’n seisoen vir alles in die lewe is. Die nabyheid en toewyding van haar familie en vriende is in hierdie tyd herbevestig.
Dit was vir Paola belangrik om so gou as moontlik weer te begin oefen. Die dokter het 6-8 weke rus aanbeveel. Twee weke later was Paola egter weer terug in die gimnasium. Na 27 dae is sy gesond verklaar. Sy kan nou al die uitdagings waarvoor sy so lief was, uitoefen.
Die prosedure het nie werklik vir Paola as mens verander nie. Tog het dit haar empatie gegee vir ander wat in ’n hoë risiko is om borskanker te ontwikkel, en bang is vir die uitslag van die toetse. “Ek probeer om nie te veel daaraan te dink nie, maar ten minste sal my kinders die opsie hê om hulle te laat toets as hulle 18 is,” sê Paola.
‘Kies die lewe’
Vandag, ’n jaar later, lei Paola ’n baie aktiewe lewe saam met haar gesin. Sy is gesond, met die vooruitsig van ’n moontlike lang en gelukkige lewe, omdat sy die beste keuse gemaak het.
Vir mense wat hulleself in hierdie posisie bevind, het Paola die volgende woorde: “Jy is nie alleen nie en hoef nie hierdie pad in isolasie te stap nie. Steun op jou geliefdes. Indien jy weet dat jy ’n hoë risiko is, praat liewer met jou dokter oor voorkomende monitering terwyl jy nog ’n kans het. Binnekort kan jou keuse dalk nie meer ’n werklikheid wees nie. Jy het een kans op die lewe.”
Ten alle tye, kies die lewe, is Paulo se uitgangspunt.
Ten slotte wil Paola lesers aanmoedig om meer oor genetiese toetsing uit te vind. Panorama-hospitaal in Kaapstad het ’n uitstekende eenheid hiervoor. Besoek hierdie webblad vir nog belangrike inligting.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.