Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek klouter eenvoudig op God se skoot,’ sê vrou ná etlike groot terugslae

Sy het drie jaar lank in Saoedi-Arabië as kraamsuster gaan werk ten einde hul plaas te probeer behou. Die plaas is toe wel van finansiële ondergang gered, maar verlede jaar het sy haar man verloor. Twee weke later het sy self ’n hartaanval gehad.

“Ons was in ’n finansiële krisis, en ons kon ons plaas Bet-El naby Sutherland verloor,” onthou Michele Nel, deesdae van Klerksdorp. Dit was in 2002.

Een oggend vroeg, Bybel onder die arm, het Michele veld toe gery. Sy het onder ’n renosterbos gaan sit en God om hulp gevra.

“Ek het my Bybel by Psalm 143 oopgeslaan en die Here het met my deur vers 9 gepraat: ‘Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.’”

‘Met my Karoo-lewe in ’n tas …’

“In die gebed het ’n koperkleurige trompet verskyn, en aan die einde van die trompet se bek was lig, met die woord ‘Saudi’ in daardie ligsirkel.”

LEES OOK: ‘Ek was gereed om te gaan as dit sy wil was,’ vertel vrou ná haar hart 15 keer gaan staan

Michele het huis toe gery en vir haar man Adriaan gesê dat die Here haar gewys het sy moes in Saoedi-Arabië gaan werk sodat hulle hul plaas kon behou. “Dit was ’n direkte opdrag. Maar dit was vir my geweldig swaar om my man en twee kinders, Neels (toe 17) en Madré (toe 16), agter te laat.

“Met my Karoo-lewe in ’n tas en ’n tweeliter-bottel windpompwater wat Adriaan vir my gaan tap het, is ek op 14 Junie 2003 daar weg.”

Nadat Michele die voorgeskrewe oriëntasie in Riyadh, die hoofstad van Saudi-Arabië, ondergaan het, moes sy, teen haar sin, as kraamsuster in die woestyn gaan werk. Dit was 60 km verder, in Mekka se rigting.

“Ek was hartseer, die trane het geloop. Maar God weet die beste. My verhouding met die Moslem-mense en die pasiënte daar was wonderlik. Ek het honderde klein Arabiertjies in die lewe gehelp, en ek het lief geword vir die mammas.

“Daar mag jy glad nie oor jou Christenskap praat nie, en geen geestelike literatuur saam met jou dra nie.

“Maar danksy ons Abba Vader kon ons ons plaas behou. En ek is ná drie jaar in Saudi-Arabië, in Junie 2006, terug plaas toe. My afwesigheid het my en Adriaan se liefde vir mekaar versterk – my diep, eerlike en opregte man met sy passie vir trekkers en grondwerk.”

Maar toe kom die agt jaar lange droogte. En in 2019 sê Adriaan dat as dit nie spoedig reën nie, hulle die grond moet laat rus sodat dit kan herstel. Hulle het al hul skape verkoop. Gelukkig het hulle geen skuld gehad nie.

Michele en Adriaan is Robertson toe, waar hulle in ’n meenthuis gebly terwyl Adriaan by ’n boer in die distrik gaan werk het. Naweke is hulle terug na hul Karooplaas. Maar nou was daar twee plase, want in 2005 het hulle Adriaan se pa se plaas ná sy heengaan geërf.

‘Die skok was enorm’

Toe gebeur die ondenkbare: Adriaan is op 11 Maart 2022 weer werk toe. ’n Plaaswerker het Michele kom roep. Adriaan het op ’n onverklaarbare wyse onder ’n trekker beland.

“Die skok was enorm,” vertel Michele, “maar tog het daar ’n kalmte oor my gekom. Ek het hospitaal toe gejaag, waar die dokter my vermoede bevestig het: My man was dood.

“Ek het na hom gaan kyk. God het hom mooi gehou vir my, ten spyte van sy groot beserings. Ek het vir hom gesê: ‘Vanaand is jou kussing leeg, ou Bok. Jou sirkel is vandag voltooi. Jy is by Jesus.’

“Net daar langs sy bed het ek berus, aanvaar en my dankbaarheid uitgespreek omdat hy 42 jaar lank aan my geleen is. Ons was 38 jaar daarvan getroud.”

Met ’n plastieksak vol van Adriaan se bebloede klere en persoonlike besittings is Michele daar weg, Sy het die botteltjie sproei wat Adriaan onder sy tong gespuit het vir borskaspyne in haar handsak gedruk.

“Eers daardie aand in my bed het ek my kussing sopnat gehuil – dae, weke, en nou reeds 20 maande lank. Ek mis sy boere-arms en bruingebrande boere-hande langs my op die bed.

“Nadat ’n pastorale berader vir my oor die foon gebid het, sien ek tydens ’n gebed hoe Jesus verskyn. Hoe Hy, vol liefde en deernis, Adriaan se kop vashou in die hospitaal se ongevalle-eenheid. En ek beleef God se lig by Adriaan se kop.

“Ná 20 maande gaan ek soms steeds, onbewustelik, na daardie plek. Dan hou Jesus my man vas. Ek kyk en kyk, totdat die beeld vervaag.”

’n 50%-kans om te oorleef

Sowat twee weke ná Adriaan se dood ry Michele na haar seun in Caledon. Op pad kry sy ’n angina-aanval. “Toe onthou ek die botteltjie sproei in my handsak. Ek het dit onder my tong gespuit en sonder ophou gebid.

“Maar op die N2-snelweg, regoor my seun se beste vriend se plaas, het ek ’n hartaanval gehad. Ek het geweldig sleg gevoel, langs die pad stilgehou en hulp ontbied.”

Sy is aanvanklik na Caledon se hospitaal geneem, waarna sy na die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal in Somerset-Wes oorgeplaas is. Twee dae later moes sy ’n nood-hartomleiding kry. “Ek het ’n 50%-kans gehad om te oorleef.”

Drie dae lank was sy aan ’n ventilator gekoppel, en op ’n keer het Adriaan aan haar verskyn. “Hy het mooi gelyk en vir my gesê: ‘Ou Bok, kom na my toe, asseblief. Dis so mooi waar ek is.’

“Maar ek het geantwoord: ‘Nee, ek kan nog nie kom nie.’ Ek het daar in die intensiewesorgeenheid besef dat my man dood is, dat Hy veilig by Jesus is. En dat dit die Heilige Gees is wat hierdie dinge aan my openbaar.”

Tien weke ná die hartomleiding is Michele terug plaas toe, Sutherland toe. “Maar toe ek die groot plaashuis se voordeur oopstoot en my man se leë stoel sien, het ek geweet ek kan nie daar bly nie. Die herinneringe aan hom was te rou. Ek het by die woonstel langsaan ingetrek, en die groot huis net so aan my seun en skoondogter gegee.”

Vyf maande later het Michele weer in ’n intensiewesorgeenheid beland, dié keer in Kaapstad. Toe praat die Here met haar en sê dat sy nie meer op die plaas kan woon nie.

Om op Jesus se skoot te sit

“Ek het daarby berus. En nadat ek ontslaan is, het ek my tasse gepak. Ek het Klerksdorp toe verhuis, waar my dogter en skoonseun en twee kleindogters woon.

“Ek het betrokke geraak by die Oase-gemeente. Die Here is vir my oneindig goed. Ek het ’n 13 weke lange Grief Share-kursus by die Oase-gemeente gevolg, en ek doen nou liefdadigheidswerk.

“My kinders en familie is baie ondersteunend. Hulle is baie goed vir my. God het my van die plaas weggeneem en my Klerksdorp toe gebring. Hy het ’n besliste doel met my lewe.     

“Net soms pak die verlange na die plaas my. Die gaan stap oor klip en bossies. Die stilte wat met jou praat, die vars lug, die sterrehemel en die naggeluide.

“Maar ek ervaar in my daaglikse lewe hoe ek hand-aan-hand saam met Jesus stap terwyl ons in sy Lig wandel. Hy is lief vir my, Hy dra my en vertroos My. elke sekonde van die dag. Daarom hoef ek nooit bang te wees of eensaam te voel nie. Ek gaan klouter eenvoudig, soos ’n klein kindjie, op sy skoot. Dan hou Hy my vas.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF