Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vrou se hart gaan staan 15 keer: ‘Ek was gereed om te gaan as dit sy wil was’

Ek het die afgelope paar maande nie besef hoe ernstig my harttoestand geraak het nie. Begin Maart 2023 is ek in die hospitaal opgeneem, maar ek was hoopvol omdat ek met ’n nuwe behandelingsplan sou begin. Die behandeling het ongelukkig nie gehelp nie en my toestand het verder versleg. Om winkels toe te gaan was ’n nagmerrie en trappe klim byna onmoontlik as gevolg van die versengende pyn in my bors. Ek was alewig uitasem.

Op 18 Mei, nadat ek heerlik by my kinders in Blythedale naby Ballito gaan kuier het, is ek weer in die hospitaal opgeneem. Dié keer het ek twee oorblywende opsies gehad: hartablasie en pasaangeër, of ’n hartoorplanting.

LEES OOK: ‘Ons weet hoe dit voel om amper te sterf,’ vertel pa en dogter wat albei skenkerharte moes kry

Op 22 Mei het alles verkeerd geloop. My hart het skielik só uit ritme gegaan dat dit aan hartversaking gegrens het. Deur die loop van daardie dag het my hart 15 keer gaan staan en ek is 15 keer met ’n elektriese skok geresussiteer. Daar was ook nie genoeg tyd vir verdowingsmiddels nie. Mettertyd kon ek aanvoel wanneer die volgende aanval op pad is. Dit voel asof jy diep slaap en dan maak iemand jou skielik wakker. Die defibrilleerder se skok voel soos ’n hamer wat hard op jou bors gegooi word. So tussendeur die hartaanvalle het ek noodgedwonge vir my kinders begin vertel wat moet gebeur indien ek sou sterf. Die dokters het besluit ek moet so gou moontlik Centurion toe gevlieg word vir die nodige behandeling, maar ek moes wag totdat ek stabiel genoeg was en die mediese fonds magtiging vir die nodige prosedure verleen. Daardie dag was ’n vreeslike ervaring.

‘Op die teatertafel het my hart die 14de keer ophou klop’

Intussen is ek teater toe vir ’n tydelike pasaangeër. Op die teatertafel het my hart vir die veertiende keer ophou klop. Ek het aangeneem die marteling kan nie langer voortduur nie en het begin rustig raak. Net toe ek vir die eerste keer wou regop sit, het ’n laaste episode my getref. Ek kon nie meer nie.

Ek is die volgende dag per vliegtuig oorgeplaas Midstream Mediclinic toe en het ’n vier uur lange operasie ondergaan waar ek die hartablasie en ’n toestel ontvang het wat my hart se ritme met ’n ingeboude defibrilleerder regstel wanneer dit onreëlmatig begin klop.

Vrydagaand 26 Mei is ek uiteindelik ontslaan na wat soos ’n maratonstryd gevoel het. Ek was baie dankbaar om by die huis en my hondekinders te wees en was vir een of ander rede lus vir Fanta – iets waarvoor ek nooit lus is nie!

Lucy by haar drie dogters, Marlene (middel), Carla en Lindie – ’n beleggingspesialis, dieetkundige en geoktrooieerde rekenmeester. Lucy vertel: Alhoewel ek graag by my oudste dogter se troue in November wou wees, was ek ook gereed om te gaan as dit sy wil was. By tye was dit so erg dat ek gedink het dit sou beter wees om maar net te “gaan” omdat ek weet Jesus is my Verlosser en Redder.” Foto verskaf

Ek kan getuig van die ontelbare gebede wat almal om my aan die Here opgedra het. Dit is wat my deur hierdie dae gehelp het. My kinders, familie, vriende, kollegas en selfs vreemdelinge wat van my situasie gehoor het, het vir my gebid. Die personeel by Rosepark-hospitaal, onder andere dr Oosthuizen, dr Ramona, dr Matthew en al die verpleegpersoneel het net nooit opgegee nie. Ek het personeel in die teater sien bid en ek was dankbaar. Ek prys die Here vir hartwerkende mense soos dr Ruan Louw en sy span in die intensiewe eenheid by Midstream Mediclinic, asook die mense wat vir magtiging vir die prosedure help baklei het. Almal storm voort in hulle eie lewe se wedloop, maar mense gee steeds om.

Tydens die episodes waar my hart stilgestaan het was ek verbasend rustig en kon ek “normaal” met mense om my kommunikeer. Ek het veral tydens hierdie episodes ontsettend baie gebid. Ek het gebid vir my dogters, dat hulle deur hierdie swaar tyd gedra sou word, dat hulle voorspoedig in hulle toekoms sou wees en dat die Here hulle sal bewaar. Ek het vir almal gebid wat ek ken.

‘Die Here het my deur nagmerriestryd gedra’

Alhoewel ek graag by my oudste dogter se troue in November wou wees, was ek ook gereed om te gaan as dit sy wil was. By tye was dit so erg dat ek gedink het dit sou beter wees om maar net te “gaan” omdat ek weet Jesus is my Verlosser en Redder. Ek was gereed.

Maar dit was egter nog nie my tyd nie en die Here het my deur die nagmerriestryd gedra.

Die feit dat ek nou my storie kan vertel is absoluut ’n ingryping van Bo. Die Here het my ook geïnspireer om my storie te deel, sodat iemand anders dalk ook inspirasie daaruit kan put. Alle eer aan Hom.

Ek is opnuut dankbaar om elke oggend te kan wakker word. Ek prys die Here dat ek hierdie situasie oorleef het, want dit is ’n wonderwerk van BO alleen!

  • Lucy van der Merwe (61) woon in Bloemfontein en was haar hele lewe lank ’n apteker. Sy geniet dit om te stap, muurbal te speel en kruisies te steek. Sy het drie dogters, Marlene, Carla en Lindie – ’n beleggingspesialis, dieetkundige en geoktrooieerde rekenmeester. Marlene trou in November op Stellenbosch.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF