Laetitia Fourie se lewe getuig daarvan dat God selfs sy kinders se seerste seer kan gebruik om hulle op hul lewenstaak voor te berei. Vandag is sy ’n lektor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sy beskik oor ’n doktorsgraad wat sy aan die Universiteit Leiden in Nederland verwerf het, en sy is ’n sterk stem vir die regte van gestremde mense in die werkplek. Haar pad tot hier het egter nie op ’n goeie plek begin nie. Inteendeel.
Laetitia Fourie was 22 jaar oud en besig met die laaste fase van haar regstudies toe haar kêrel in ’n ernstige motorfietsongeluk betrokke was. Hy het sy nek gebreek en was daarna verlam.
Die skok was enorm. Eensklaps moes sy, nog baie jonk, die werklikheid van hospitale, fisieke afhanklikheid en emosionele trauma hanteer.
“Dit was ’n skok wat ek nooit weer in my lewe wil ervaar nie,” vertel sy. “Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek was totaal oorweldig.”
Te midde van al dié dinge moes sy ook uitvind dat haar vriend voor die ongeluk ’n verhouding met iemand anders gehad het. Laetitia het doelbewus besluit om hierdie kwessie vir eers nie te hanteer nie as gevolg van die trauma wat sy en die man moes deurmaak. Uiteindelik het die verhouding dit egter nie oorleef nie. Dis twee jaar ná die ongeluk beëindig.
’n Pad wat deur God voorberei is
Hierdie ervaring het Laetitia se wêreld as ’t ware oopgebreek. Vir die eerste keer het sy regtig begin verstaan hoe dit voel om magteloos en afhanklik te wees. Dit alles het haar perspektief op baie dinge radikaal verander. Sy het nou ook anders begin dink oor mense met gestremdhede.
LEES OOK: ‘My identiteit lê nou in God, nie in sportmanwees’ – smaakmaker nadat hy op 15 sy nek breek
“Ek het hieroor eers etlike wanopvattings gehad,” erken sy. “Ek het, byvoorbeeld, gedink iemand in ’n rolstoel is ook verstandelik gestrem. Ek het vir seker nie verstaan nie …”
Ten spyte van die emosionele warboel waarin sy haar bevind het, het sy haar studies voltooi en later ’n meestersgraad in arbeidsreg aangedurf. Haar navorsing het gefokus op die akkommodering van mense met gestremdhede in die werkplek, ’n tema wat direk uit haar persoonlike ervarings voortgevloei het.
“Aanvanklik het ek nie regtig geweet hoekom ek hierdie werk doen nie,” sê sy. “Ek het net gevoel ek moet.”
’n Ontmoeting wat alles nuut gemaak het
Eers teen die einde van 2023 het alles vir Laetitia begin sin maak. Dit was nadat sy ’n ontmoeting met Jesus Christus gehad het. Sy beskryf dit as ’n oomblik waarin haar hart finaal geposisioneer is vir wat sy vandag doen.
“Ek het besef Hy was nog altyd daar,” sê sy. “Hy het my deurentyd op die toekoms voorberei, maar Hy kon my nie vertrou voordat my hart nie in Hom was nie.”
Hierdie geestelike ommekeer was die begin van haar transformasie. Voorheen het sy gesukkel om na gestremde mense te kyk; nou het sy met nuwe oë gekyk.
“Trouens,” sê sy, “ek kyk nou met Jesus se oë. Ek sien nou hoe mooi hulle is.”
’n Stem vir geregtigheid
Vandag leef Laetitia haar roeping uit as lektor aan die UV. Haar werk fokus op arbeidsreg, met spesifieke klem op hoe werknemers met gestremdhede in die werkplek geakkommodeer en beskerm moet word.
Sy werk aktief aan die bewusmaking van praktiese struikelblokke: van ’n ontoeganklike werkomgewing tot vervoerprobleme tot die gebrek aan gepaste veiligheidsmaatreëls.
Sy sê: “Dis dikwels nie onwilligheid aan die werkgewer se kant nie, maar doodgewone onkunde.”
Albinisme se buitengewone uitdagings
’n Groot deel van Laetitia se werk het betrekking op mense met albinisme. Albinisme is ’n seldsame genetiese mutasie wat die produksie van velpigment verhinder. Mense wat hieraan ly, word dikwels gemarginaliseer en selfs bedreig. In baie Afrikalande, en soms ook hier plaaslik, word kinders met albinisme weggesteek uit vrees vir ontvoering en vir geweld wat met bepaalde rituele verband hou.
“My aanvanklike navorsing het gefokus op situasies waar die slagoffers ’n aanval oorleef het wat met sulke rituele verbind word. Wanneer hulle dit oorleef – wat nie baie dikwels gebeur nie – hou hulle ernstige liggaamlike letsels oor. Sommige het selfs ’n ledemaat of twee verloor, of ander permanente skade opgedoen. Uiteraard beïnvloed dit hul funksionering in die werkplek. Dis hierdie soort uitdagings wat tans aandag geniet in die werk waarmee ons besig is.
“Baie van dié mense voltooi nooit hul skoolloopbaan nie. Dan beland hulle in informele buitelug-werkomstandighede, en daar is die son hul grootste vyand.”
Dis ’n feit dat mense met albinisme se risiko om velkanker op te doen duisend keer groter is as dié van ander mense. Velkanker is dan ook die grootste oorsaak van sterftes by hierdie mense. En dit kan vermy word, sê Laetitia. Eenvoudige voorsorgmaatreëls, soos sonskerm en beskermende klere en aangepaste werkomstandighede, kan lewens red.
“Ons aanvaar dit as vanselfsprekend om in die helder sonskyn rond te loop. Vir hierdie mense kan dit dodelik wees.”
Laetitia is deel van ’n span wat reeds drie boeke oor albinisme geskryf het. Daar is ook ’n kinderboek waarmee gepoog word om kinders reeds van jongs af oor albinisme in te lig.
Vanjaar vertrek sy na Engeland vir navorsing by die Universiteit van Liverpool. Daar sal sy saam met internasionale vennote werk aan projekte wat fokus op gestremdheid en arbeidsreg, en die krag van stories om bewusmaking daarvan te help skep. Daar sal ook voortgebou word op beplande publikasies wat hierdie jaar die lig sal sien.
Altyd in God se hande
Wanneer Laetitia op alles terugkyk, sien sy ’n duidelike lyn wat deur haar lewe loop. Sy vertel: “Die Here het my seer gebruik, asook my onkunde oor mense met gestremdhede. En Hy het iets buitengewoons daarvan gemaak.”
Haar getuienis staan vandag as ’n bewys dat gebrokenheid en gebroke mense nooit buite God se hande is nie. Hy maak buitestanders se oë oop, Hy genees harte. Hy roep mense tot ’n betekenisvolle lewe en tot diens, en om sy liefde uit te dra na dié wat so maklik deur die samelewing verstoot en selfs vergeet word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















