Wat begin het as ’n krisis tydens ’n oorsese vakansie het verander in ’n helende, rustige ervaring.
Dié ervaring, glo Anneke Theron, was ’n manier waarop God haar voorberei het op een van die grootste verliese van haar lewe.
Anneke en haar man Jacques is van Stellenbosch en was onlangs met vakansie in Griekeland. As reisigers in die buiteland, was hulle deeglik voorbereid. Anneke was verantwoordelik vir die veilige bewaring van hul paspoorte en die meeste kontant. “Ek dra dit permanent aan my lyf en laat dit nooit onder my oë uit nie,” sê sy.
Op Sondag 23 Julie 2023 het die vooruitsig van ’n idilliese sewe-dag-lange skeepsvaart vanaf Athene in ’n krisis ontaard. Kort voor die groep aan boord moes gaan, is die sakkie wat Anneke altyd by haar dra gesteel – daarmee saam ook al haar en Jacques se noodsaaklike reisdokumente.
LEES OOK: ‘Ek het my pa se moordenaars vergewe en berusting gevind,’ sê die sangeres Helena Hettema
Anneke se suster en swaer, wat ook sou saamkom, het gelukkig nie skade gely nie en kon nog die vaart onderneem. Maar Anneke en Jacques moes op die kaai agterbly en toekyk hoe die skip die hawe verlaat – verslae en geskok, kwaad en hartseer. Boonop word die egpaar die volgende dag by die Suid-Afrikaanse ambassade ingelig dat hulle selfs met tydelike paspoorte nie Griekeland mag verlaat tensy hulle huis toe vlieg nie.
Frustrasie loop hoog, maar Anneke en Jacques het geen keuse nie. Hulle moet ’n week wag vir die uitreiking van hul tydelike paspoorte en vir die skip om weer te arriveer. Die volgende Sondagaand sou hulle huis toe vlieg.
Hulle besluit om die besige stad agter te laat en vir ’n week langs die kus van Athene by Chamolia hul wonde te gaan lek. In die helende soutwater van dié stil baaitjie val hulle toe onverwags in ’n rustige ritme.
“Elke oggend voor die hitte van die dag het ons afgestap na die baai waar die bejaarde inwoners in die sout seewater kom dryf het,” vertel Anneke. “Hulle was vriendelik en het ons met ope arms ontvang. Al kon ons hulle nie verstaan nie, het ons met gebare en in gebroke Engels gekommunikeer.”
Langs die water het hulle elke oggend kom piekniek hou. Vars vrugte, Griekse jogurt en hul gasvrou se tradisionele disse het hul liggaam gevoed. Anneke het gelees, gehekel en selfs geweef met optel-takkies. Só is haar siel in Chamolia gevoed deur ’n spontane kreatiwiteit wat sy nie op die skip sou kon beleef nie.
Anneke dink aan haar sentimentele vakansiehoed met ’n liewenheersbesie wat ’n kosbare vriendin vir haar gevelt het. Tydens die vorige Sondag se harwar om die skip te haal, en die gesukkel om hul reistasse by drie stelle trappe na die huurmotor af te dra, het Anneke die hoed verloor.
Sy besef toe dat die Here met haar praat: Sy moet afgooi, minder maak en ligter toer.
“Om ontslae te raak van my sentimentele goed was nog altyd vir my swaar. En ek verloor nooit goed nie. Ek is altyd in beheer, versigtig en op my hoede,” vertel Anneke. “Maar daar in Chamolia het die Here my gewys dat aardse goed vervangbaar en onbelangrik is. Daar het ek en Jacques mekaar – en ek myself – vergewe vir die dokumente wat in my ‘veilige’ bewaring gesteel is.”
Toe hulle uit Chamolia vertrek om huis toe te kom, het Anneke baie klere, skoene, boeke en sakke sommer in hul akkommodasie agtergelaat om haar bagasie ligter te maak.
Anneke se bejaarde moeder was gedurende hul reis in die hospitaal. Sy was vir jare ’n emfiseemlyer en is opgeneem om vir longontsteking behandel te word, waar sy toe ’n buikobstruksie ontwikkel het. Op 1 Augustus, ná ’n kort siekbed en minder as 24 uur nadat Anneke weer in Suid-Afrika aangekom het, is haar moeder oorlede.
“God se tydsberekening was perfek met haar afsterwe,” sê Anneke. “Ek was betyds hier om haar te groet met die lees van Psalm 91, musiek en ’n voetmassering. En al vier haar kinders was daar om haar in vrede, sonder vrees, te groet op die ouderdom van 81.”
Anneke glo dat die verlies van haar moeder vooruitgegaan is deur die verlies van aardse dinge tydens haar vakansie.
“Die Here het my voorberei op die grootste verlies tans in my lewe: my moeder. Ek kan haar nie met ’n tydelike dokument of ’n nuwe item vervang nie,” sê sy. “Ek moes fisiese goed wat vir my belangrik was, verloor en agterlaat om die dood van my moeder te kon hanteer.”
- Anneke Theron (56) woon op Stellenbosch. Sy en haar man, Jacques, het vier kinders – een seun en drie dogters. Anneke werk op verskillende maatskappye se sensoriese panele en Jacques is ’n prokureur.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.