Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek moes eers álles verloor voor ek besef het ek het nét God nodig,’ vertel Alwyn Uys

In my woestynseisoen het ek Jesus leer ken soos nooit tevore nie. Ek moes eers alles verloor voordat ek kon besef Hy is alles wat ek nog ooit nodig gehad het. Dié openbaring was veel dieper as wat ek met my ongeluk self gehad het, skryf ALWYN UYS in sy boek Ongeskonde.

Hoewel ons nie letterlik vir 40 jaar deur ’n woestyn hoef te stap soos die Israeliete nie (dankie tog!), is die 21ste eeu se woestyn net so ’n onbewoonbare en dorre omgewing. In die woestyn leer God ons om vir ons daaglikse manna op Hom te vertrou; om op Hom alleen staat te maak vir ons volgende maaltyd – letterlik. In hierdie tyd het ek aan baie maniere gedink om geld te maak, om uit eie krag vir myself te sorg. Nie een van my planne het natuurlik uitgewerk nie. Hoe meer ek self probeer het, hoe minder het ek geslaag. Ek is toe eenvoudig gedwing om my rus in God alleen te vind. In die dorre en lewelose woestyn sal die Here altyd vir ons sorg.

“In my woestynseisoen het ek Jesus leer ken soos nooit tevore nie. Ek moes eers alles verloor voordat ek kon besef Hy is alles wat ek nog ooit nodig gehad het. Hierdie openbaring was veel dieper as wat ek met my ongeluk self gehad het,” vertel Alwyn Uys. Foto: Lux Verbi

Die eerste paar maande ná my afdanking kon ek nog van my spaargeld leef, maar dit het vinnig opgedroog en daar was geen vooruitsig van ’n vaste inkomste nie. Ek het onnodige items in die huis begin verkoop: horlosies, fietse, rekenaars, meubelstukke, enigiets wat ek nie meer gebruik het nie, net om kos op my tafel te sit. Party maande het dit so broekskeur gegaan dat ek net R100 in my beursie gehad het vir die volgende week. Ek het nagte lank met God baklei en gevra of ek die verkeerde besluit geneem het. Hy het my dan geroep om Hom te volg en nou kon ek skaars kos koop. In daardie stadium was ek ’n bekende gesig in die media as gevolg van die halfystermankompetisie en ander ekstreme fisieke uitdagings waaraan ek deelgeneem het, asook verskeie televisieverskynings, koerantberigte en tydskrifartikels. Maar ten spyte hiervan kon ek nie eens vir iemand ’n koppie koffie koop wanneer ons uitgegaan het nie. Dit was vir my baie erg.

BESTEL Alwyn se boek Ongeskonde hier.

Mense dink dikwels dat as iemand bekend is, hy of sy baie geld het. Dit was dus vernederend vir my om vir my vriende die waarheid te vertel – dat ek platsak is: “Ek kan ongelukkig nie hierdie naweek saam met julle kuier nie. Daar is eenvoudig nie meer geld nie.” Die Here moes eers die mure van trots in my lewe afbreek – daar waar ek gedink het dat ek alles self behaal het. Hy het my kom herinner dat Hy by my is, want uit eie krag sou ek nooit die roeping kon vervul wat Hy vir my beplan het nie.

‘God moes my aan die binnekant kom verander’

Wanneer ek as motiveringspreker by skole en konferensies opgetree het, het ek seker gemaak ek eet soveel as wat ek kan, want dit het my ’n maaltyd by die huis gespaar. Toe ek vir my pa gewerk het, het ek ’n goeie salaris verdien. My bankrekening was my sekuriteit. Nou, vir die eerste keer in my lewe, het ek nie sekuriteit gehad nie. Ek moes op God vertrou om vir my te voorsien – soos die manna in die woestyn. Sommige maande was ek gelukkig om ’n advertensie vir ’n maatskappy te doen. Die betaling was goed en ek kon vir ’n paar maande oorleef. Maar ek het geen idee gehad wanneer ek weer ’n advertensie of iets anders gaan doen wat geld sou inbring nie. Ek moes selfs my kar verkoop, want ek kon nie meer die paaiement bekostig nie.

LEES OOK: ‘My God is groter as mediese statistieke’

Toe ek en Kendall uitmekaar is, het ek gedink dit was my rock bottom, maar die gebrek aan geld was ’n nuwe laagtepunt wat ek nie geken het nie. As alles goed gaan in ons lewe, vergeet ons maklik van die Here. Ek was so gefokus op die lewe, op my drome en om my roeping na te jaag dat ek twee dinge vergeet het. Die eerste was dat Jesus my eers moes leer wie ek is voordat ek my roeping kon volg. Tweedens moes ek Hom beter leer ken. Ons fokus dikwels so op die identifisering van ons roeping en die doelwitte wat ons wil bereik dat ons die punt mis: Ons moet eers die Een leer ken wat ons in die eerste plek geroep het.

In my woestynseisoen het ek Jesus leer ken soos nooit tevore nie. Ek moes eers alles verloor voordat ek kon besef Hy is alles wat ek nog ooit nodig gehad het. Hierdie openbaring was veel dieper as wat ek met my ongeluk self gehad het. Met my ongeluk het ek baie van die gebruik van my liggaam verloor, en die Here moes aan my binnekant kom verander. Met hierdie woestyn waardeur ek nou moes gaan, moes die Here alles rondom my kom verander, alles wat ek as waardevol beskou het. Dit was nodig dat alles gestroop moes word tot net Jesus oor was. Dit is dieselfde proses wat goud deurgaan wanneer dit gesuiwer word – die loutering. Om die suiwerste goud te kry moet alle onsuiwerhede eers weggebrand word. Dit word gedoen deur die hitte te verhoog. Dit is presies wat God doen om die goud in ons te ontgin: Hy verhoog die hitte sodat alles wegbrand en net die goud in ons lewe oorbly.

In hierdie tyd het die Here my aan die hand geneem en ek het iets gesien wat ek nog nooit tevore gesien het nie: die hart van die Vader. Ek kan getuig dat hoewel ek nie baie gehad het nie, ek altyd genoeg gehad het; ek het nooit honger gaan slaap nie. Die Here het manna vir elke dag voorsien. Daarom kan ek heelhartig sê dat God altyd goed is. Ons kan Hom vertrou.

  • BESTEL Alwyn se boek Ongeskonde hier.
  • Dié getuienis is ’n uittreksel uit die boek Ongeskonde (Lux Verbi), met klein teksaanpassings. Dit word met die toestemming van die uitgewer gebruik.

 

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF