Die Here het wonderwerke in Stefan de Lange se lewe gedoen. Maar sy moeilike reis na genesing het toe eers begin – eers sy siel en gees, en toe moes hy die hoë berg aandurf: die reis na ’n gesonder liggaam.
DEUR STEFAN DE LANGE
In Oktober 2017 was ek nege dae lank in ’n koma. Die rede? My liggaam kon nie meer sy eie gewig dra nie, en ek het aan hartversaking gely. Ek het meer as 235 kg geweeg.
Die dokter het aan my ma-hulle gesê hulle moet al my naasbestaandes laat weet dat dit nie goed gaan nie. En dat, indien hulle my nog sou wou sien, hulle spoedig sou moes kom.
My ma-hulle het almal laat weet. Lizé, my niggie van Uitenhage, het haar sussie se motor geleen en dadelik Johannesburg toe gery.
My geliefdes was biddend aan my sy, elke dag. ’n Groep vroue het kom bid en Esegiël 37 oor die “doodsbeendere” in my lewe gespreek.
Jy sien, ek het met ’n Christelike opvoeding grootgeword. Ek is as baba gedoop, ek het Sondagskool en kinderkrans bygewoon. Daar was godsdiensonderrig op skool. Dit was egter so ver soos dit gestrek het; daar was geen verhouding met God nie. Daar was wel tye, gewoonlik wanneer ek iets nodig gehad het, dat ek gebid het. Die res van die tyd het ek op my eie krag probeer staatmaak.
LEES OOK: ‘Die dokters het geen hoop vir Janri gehad nie; ons bly vashou aan die Woord’
Die wonderwerk
Op 16 Oktober het God ’n wonderwerk gedoen en my uit my koma gewek. Indien ek wel daardie dag gesterf het, was ek vir ewig verlore.
Ek was aan die ontvangkant van hierdie wonderwerk; die mense wat daar was, is die getuies. My tannie Bettie, wat saam met my ander geliefdes langs my bed kom bid het, vertel dat ons hemelse Pappa my uit die dood kom haal het.
Tannie Bettie beskryf haar ervaring in die hospitaal só: “Lizé was in ’n toestand! Om haar maatjie so te sien … Sy het net aanhou oorlog voer. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede in die lug. Dit was lig teen duisternis.
LEES OOK: ‘God wys vir my in ’n droom om vir kankerpasiënte, hongeres en bejaardes te begin sorg’
“’n Paar dae later het die wonderwerk voor ons oë plaasgevind. Lizé het gebid – en die volgende oomblik maak hy sy oë oop. En met sy hande uitgestrek roep hy uit: ‘Prys die Here!’”
Die saal sonder hoop
Ná die ontwaking uit die koma was ek so swak dat ek nie eens kon opstaan of self loop nie. Ek het weke daarna nog in daardie bed gelê. Daar, in Saal 17, waar hulle pasiënte heen verskuif vir wie daar regtig nie meer hoop is nie. Die langtermynprognose, selfs ná die wonderwerk, was dat ek die res van my lewe van aanvullende suurstof afhanklik sou wees. Met ’n lewensverwagting van slegs vyf jaar. Die diagnose was “permanente hartversaking”.
Ná ’n maande lange herstelproses het ek stadig maar seker weer op die been gekom. Ek kon begin motor bestuur en na ’n normale lewe terugkeer. Maar in die proses het ek diep gedink. Ek het begin stap, en ek het met God gepraat oor alles wat gebeur het. Ek het besef dat daar niks minder nie as ’n wonderwerk gebeur het. En dat ek daaroor moet praat, dat ek dit moet uitleef. Die Jesus waarmee ek grootgeword het – Jesus van die Kinderbybel en die Sondagskool – het ’n werklikheid geword. Daar het by my ’n verlange gegroei om Hom te ken.
Ek het wel besef dat ek dit nie alleen sou regkry nie. Ons is geskep met die oog op verhoudings, met God en met mekaar. Ek het na ’n geloofsgemeenskap begin soek. Ek het God gevra waar ek ’n plek sal vind waar ek kan tuiskom.
Ek het ’n paar kerke besoek. Toe het ek onthou dat my beste vriend op skool se ma altyd na die AGS in Ferndale, Randburg gegaan het. Dit sou later as die Mosaïek Gemeente bekend staan.
Daar sal tog nie plek wees vir iemand soos ek nie
My suster se oudste dogter het my vertel van die groep vir jong volwassenes by Mosaïek, en ek het besluit om te gaan ondersoek instel. Ek het ’n Sondagaanddiens bygewoon, iewers in 2018, en Jacques Bornman het gepreek. Die boodskap het my diep geraak. Die aanbidding was wonderlik. Die hele ervaring was baie spesiaal.
Ek het egter suutjies gedink: Dié plek is baie “fancy”; die mense hier weet wie en wat hulle is. Daar sal tog nie plek wees vir iemand soos ek nie. Min het ek geweet dat dit nié ’n geval sou wees van wat ék vir Mosaïek kon doen nie, maar wat Mosaïek vir mý sou doen.
Na afloop van daardie diens het ek gaan koffie haal en dit gesit en drink terwyl ek God gevra het of dit die plek is waar Hy wou hê ek moes wees. Jacques, die prediker, loop toe reguit na my toe en verwelkom my. In my gedagtes het ek vir God gesê: “Ek weet ek het gevra, maar ek het nie gedink U sal sommer nou reeds die predikant stuur om dit te kom bevestig nie!”
Daardie Maandag het ek die kerk gebel om ’n afspraak te maak. Hulle het voorgestel dat ek sommer met die Alpha-kursus begin en by die gemeenskap inskakel.
Daar is wonderlike bronne vir geestelike groei by Mosaïek. Ek het nuwe geloofspraktyke aangeleer – Skrifgebed, herhaalgebed, refleksiegebed. Ek het ook verskeie kursusse gevolg en by ’n selgroep aangesluit. Só het 2019 ’n heerlike jaar vol geestelike groei geword, en die bou van ’n verhouding met die lewende God.
Op 10 Maart 2019 is ek gedoop. In daardie jaar het ek 40 geword. Vir die eerste keer in my lewe lê ek ’n Lydenstydreis af tydens die 40 dae voor Paasfees. Ek het besef dat die Here my, soos vir Israel, ná 40 jaar uit die woestyn na die beloofde land gelei het. Dis ’n lewe saam met Hom, en in diep afhanklikheid van Hom.
Ek gaan saam Hillbrow toe – die hele 235 kg
In daardie stadium begin die kerk met ’n nuwe Alpha-kursus in Hillbrow en ek word saamgenooi.
Ek gaan saam, die hele 235 kg. Die sitplekgordel in Venessa du Toit se kar is te kort vir my. Die trappe by die nagskuiling is baie, en ek klim ’n bietjie langer as die res om bo te kom. Maar daar ontmoet ek twee engele, Louis en Bernadette Botha. Hulle nooi my in, en ek vind gemeenskap, geborgenheid, aanvaarding en vriendskap.
Op 16 Oktober 2017 het die Here my op ’n hospitaalbed genees, maar die pad na heelwording is ’n reis wat nooit ophou nie. Dis ’n honger na méér. Meer van Hom, wat wel altyd daar is.
In daardie tyd was my slaapapnee, wat reeds op hoërskool gediagnoseer is, so erg dat ek amper niks geslaap het nie. Ek kon dit nie verstaan nie. “Hoekom, Here, kan ek nie rus nie?” het ek bly vra.
Dit het toe al twee dekades lank geduur. Ek het nie een enkele nag behoorlik uitgerus nie. Ek kon nie meer verder nie. Op 19 Februarie 2021, daardie oggend, het ek ’n noodkreet aan God gerig en gevra dat Hy my eerder moet kom haal. Ek kon nie een dag langer so voortgaan nie.
’n Tweede wonderwerk
Toe die Covid-19-inperking in 2020 aangekondig is, moes ek en my broer ons staalonderneming se deure sluit. Ons kon eers ná ses maande weer begin handel dryf. Intussen het my finansiële reserwes opgeraak, én my planne, en ek moes amper nege maande lank by my suster gaan bly.
En die eerste aand daar, op my sussie se sitkamervloer, doen God ’n tweede wonderwerk: Hy genees my van slaapapnee. Vir die eerste keer in twintig jaar slaap ek ’n hele nag lank. Tien ure, sonder om wakker te word. Daardie einste dag stuur my niggie Lizé, wie se naam so verweef is met my getuienis, aan my die besonderhede van ’n gesondheidstoepassing op my foon.
’n Nuwe reis na heling begin. Ek leer baie oor gesonde dieet, porsiegrootte en ’n gesonde leefwyse. As jy meer as 235 kg weeg, is daar nie ’n dieet wat jy kan volg om gewig te verloor nie. Glo my maar – ek sou dit gevind het as dit bestaan het …
Die waarheid is dat God die gereedskap voorsien, maar ons moet daarmee werk. Dit verg dissipline en toewyding, harde werk en opoffering, inspanning en vasbyt. Dit vra ’n ritme van een dag op ’n slag. God se genade en liefde is genoeg vir vandag.
Geestelike, emosionele en liggaamlike genesing
Ná die ernstige ingryping het daar ’n lang pad na heling voorgelê. In die daaropvolgende twee jaar het ek die pad na geestelike, emosionele en liggaamlike genesing aangedurf. Ons is mens – siel, liggaam en gees. Drie, maar een, onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die een beïnvloed die ander.
Daar was eers ’n genesing van siel en gees nodig voordat daar genoeg moed was om die fisieke berg te begin klim. Dis ’n enkelpad na heelwording, en dit sal altyd so wees. Solank ons in hierdie wêreld is, sal ons dié wedloop moet aflê.
Ek het tot dusver 108 kg verloor, en ek stap elke oggend 10 km. Onlangse toetse, onder meer ’n EKG, het uitgewys dat daar nie skade aan my hart is nie.
Ons prys wag in die hemel op ons. Intussen gaan die aardse wedloop voort. Elke dag soek ek allereers die koninkryk van God en sy geregtigheid.
Hou maar aan vra, soek en klop. Die Here antwoord op ’n buitengewone wyse, en Hy gebruik mense, plekke, omstandighede, gemeenskap en verhoudings om sy doel vir jou lewe te bereik. Gee jou oor aan Hom.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.