“Dis ’n nagmerrie waaruit ek nie wakker word nie. Ek wens iemand wil ’n emmer koue water oor my gooi en sê dit was alles net ’n droom.” Só sê Anneke Neethling van Worcester in die Wes-Kaap, ma van ’n sewejarige seuntjie by wie akute limfoblastiese leukemie (ALL) verlede maand gediagnoseer is.
DEUR ILETTE COETZER
Christiaan Neethling het vandeesweek sy tiende chemoterapiebehandeling ontvang. Dit voel steeds vir sy ma soos ’n droom. Hy was dan nie eens siek nie …
‘Ek het yskoud geword toe ek die nuus hoor’
Christiaan het in Maart vanjaar sy regterhand gekraak. Skaars twee weke later was dit sy elmboog. Sy ma Anneke vertel: “Hy was die hele tyd bleek, maar ek het aangeneem dis as gevolg van die pyn nadat hy sy hand en elmboog gekraak het.”
Tydens Paasnaweek het Christiaan op ’n keer reg agteroor geval en spiere in sy rug beseer. Daar is bloedtoetse gedoen – en ’n paar dae later, op 12 April 2023, is hy met ALL gediagnoseer. “Ek het yskoud geword toe ek die nuus hoor,” sê Anneke. “Ek het dadelik besef dat ek nou moet sterk staan. Daar is net een pad, en dit is vorentoe. Ek moet God een honderd persent met my gesin se toekoms vertrou.”
LEES OOK: ‘Jy is Jesus se skapie, Hy sal jou oppas,’ sê tienjarige kankerlyer aan ander kinderkankerpasiënte
Tans is dit ’n toekoms wat gevul is met vele doktersafsprake, chemoterapie-sessies, bloedtellings en fisioterapie-afsprake by Tygerberg-hospitaal. Anneke beskryf elke dag as ’n wipwa-rit. Behalwe lae rugpyn, is Christiaan op die oomblik baie moeg en hy kry gereeld hoofpyn.
Daarby is hy as ’n hoërisiko-pasiënt geïdentifiseer omdat die kankertelling nie vinnig genoeg afneem nie. Anneke sê sy telling het wel van 95 persent na 63 persent afgeneem. Hoewel hulle dankbaar oor die jongste uitslae is, reageer Christiaan se liggaam stadiger op die behandeling as wat die dokters gehoop het dit sal.
Hy ondergaan tans ekstra chemoterapiesessies met die middel daunorubicin, wat onder kankerlyers as “die rooi duiwel” bekend staan.
Slegte dae, vir die hele gesin
Anneke beskryf haar seunskind as ’n vegtertjie. “Hy hou my en my man Ryal positief. Christiaan baklei verbete teen die kanker. En as jy hom vra hoe dit gaan, is dit altyd ‘goed’ of ‘lekker’.
“Maar hy beleef ook soms slegte dae. Vandag is trouens weer een so ’n dag. Sy gemoed is nie goed nie en hy het gedurig pyn, veral in sy ligamente. Hy sal, byvoorbeeld, ’n paar treë loop, en dan moet hy eers weer rus om sy asem terug te kry.”
Vir Anneke en Ryal was die afgelope maand ook ’n groot aanpassing as egpaar. Hulle moet mekaar nou in ’n nuwe fase leer ken. Anneke vertel: “Ryal is ook my beste vriend. Ons vul mekaar aan. Hy maak saans kos, terwyl ek in beheer van die medikasie is. Ons het ’n baie oop verhouding. Ons gesels baie en probeer eerlik wees oor hoe ons voel. Ek weet nie wat ek in dié tyd sonder hom sou doen nie.”
Die ouerpaar sorg dat daar altyd een van hulle by Christiaan is wanneer hy behandeling ontvang. “Wat my betref,” sê Anneke, “is die kinders in die kankereenheid almal ‘walking angels’. Hulle is so moedig, en jy kan amper nie dink dat hulle kanker het nie.”
Dis egter nie slegs Anneke en Ryal wat saam met Christiaan swaarkry nie. Die Neethlings het ook ’n vyfjarige dogtertjie, Chenika. Sy gaan elke dag saam met haar pa en ma hospitaal toe, en sy weet dat haar boetie swaarkry. Anneke sê: “Soms is ek so gefokus op Christiaan se lewe dat ek vergeet om genoeg aandag aan Chenika te gee. Maar sy sal gou vir my sê: ‘Niemand het vandag na my geluister nie!’”
Sprakeloos oor almal wat help
Ryal en Anneke werk al twee voltyds in Worcester. Hulle het egter nou vir ’n onbepaalde tyd verlof geneem om Christiaan by te staan. “Christiaan ondergaan tans drie keer ’n week chemoterapie. Tussendeur word hy fyn dopgehou. Sodra sy temperatuur bo 38 grade is, moet hy dadelik opgeneem word.”
En dis onprakties om tussen behandelings deur terug te ry Worcester toe.
’n Wildvreemde vrou het onlangs tot hul redding gekom en vir hulle blyplek naby die hospitaal aangebied.
Anneke sê sy is verstom oor die hulp en ondersteuning wat hulle van die gemeenskap ontvang – vriende én vreemdelinge. Hul bure hou ’n oog oor hul huis in Worcester, terwyl ’n vriendin elke dag daarheen gaan en die honde versorg. “Die ondersteuning uit Worcester laat my sprakeloos,” sê Anneke. “Ek het dit nie verwag nie.”
Daar lê nog ’n lang pad voor. Christiaan het vanjaar met graad een begin en Anneke wil nie graag hê dat sy skoolwerk skade ly nie. Maar van terug skool toe is daar vir die volgende jaar geen sprake nie. Dié bulletjie sal spreekwoordelik in watte toegedraai moet word om infeksies te voorkom. Die dokter het tuisonderrig voorgestel – maar alles hang af van hoe Christiaan op die behandeling reageer.
Die volgende agt maande sal dus bepalend wees. Indien die kanker teen die einde van die jaar in remissie is, moet Christiaan weekliks by die spreekkamer aanmeld om sy kankertelling te monitor. Die dokters reken die hele proses sal ongeveer drie jaar duur.
* Die Neethling-gesin behoort nie aan ’n mediese fonds nie en is dus self verantwoordelik vir alle uitgawes. Kontak Anneke by 060 972 7356 indien jy wil help.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.