Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Hy is ’n God van wonderwerke,’ sê 70-jarige vrou wat nie ouer as 16 sou word nie

As sewejarige dogtertjie was Eileen Smit van die Strand in die Wes-Kaap een van die jongste opehartoperasie-pasiënte van die wêreldbekende hartpionier, prof Chris Barnard. Volgens die hartspan sou sy nie ouer as 16 word nie. Maar sy het onlangs haar 70ste verjaardag gevier, en sy kan nie die Here genoeg prys vir sy goedheid en genade nie. 

“Omdat die dokters destyds nie veel hoop vir my gehad het nie,’ vertel Eileen vandag, “was dit ’n spesiale voorreg om pas my 70ste verjaardag saam met my twee broers en twee susters in ons ouerhuis en grootworddorp Montagu te vier.

“Ek beskou dit as ’n wonderwerk en is die Here só dankbaar. Ek het ‘n lang geloofspad aan ons Vader se hand gestap.”

’n Eerste operasie, en toe …

Eileen was ’n premature baba wat met ’n lekhart gebore is. Toe sy tydens voeding blou word in haar gesig, het haar pa, ’n mediese dokter, haar na ’n spesialis gehaas. Daar is vasgestel dat daar fout met haar hart is.

LEES OOK: ‘Prys die Here!’ roep man toe hy uit ’n koma ontwaak

Sy was ses weke oud toe ’n kardioloog in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad ’n noodoperasie op haar uitgevoer het. Maar Eileen se ontwikkeling daarna is deur haar toestand gestrem: Sy was bitter klein en baie maer. En haar spraak was traag.

Die gesin was boonop in ’n motorongeluk betrokke toe Eileen drie jaar oud was en sy het ligte breinbeserings opgedoen. Die ander deel van die brein het egter “oorgeneem” – en Eileen, wat regshandig was, was ná die ongeluk linkshandig.

Haar broer, Ernie Oosthuizen, wat steeds in hul ouerhuis op Montagu woon, vertel: “Op ses kon sy steeds nie kruip of loop nie. Sy het op haar boude oor die vloer beweeg.”

Toe kruis haar pad met dié van die bekende hartpionier, prof Chris Barnard. Hy en sy hartspan het aanvanklik navorsing gedoen waarin bobbejane gebruik is, en van die diere is op ’n plaas buite Montagu gekry en Kaap toe geneem.

Eileen vertel: “My pa het geweet hoe briljant prof Barnard is en ek is toe na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geneem. Nadat hy my ondersoek het, het hy aanbeveel dat my krag opgebou moes word omdat ek te swak en te klein vir so ’n operasie was.”

Die baanbrekende operasie is uiteindelik in 1960 uitgevoer. Eileen was sewe jaar oud. Sy was een van prof Barnard se jongste pasiënte.

“My ouers, wat uiteraard baie bekommerd was, het ’n baie goeie verhouding met prof Barnard opgebou. My pa het dikwels vir hom appels uit die Koo-vallei Kaap toe geneem. Hy was baie vriendelik, ’n dokter vol deernis.”

Tydens die operasie is Eileen se hart uit haar borskas gehaal, herstel en teruggeplaas. Terselfdertyd is ander hartdefekte herstel.

“Die operasie het etlike ure geduur. Na afloop daarvan het prof Barnard op die balkon uitgestap om asem te skep. Op daardie oomblik het my ma-hulle onder stilgehou, hy het hulle gesien en albei sy duime in die lug gehou om te wys dit was ’n sukses.”

Geen waarborge …

“Ek was baie lank in die hospitaal. Prof Barnard het oop kaarte gespeel en gesê dat ek nie lank sal lewe nie, hopelik darem tot op sestien. En dat ek in ’n rolstoel sal beland. Ek sou, volgens hom, geleidelik verswak.

“Al het hy, medies gesproke, alles gedoen wat hy kon, kon hy my nie ’n lang lewe waarborg nie. Juis omdat ek so klein was, en omdat die motorongeluk ’n bykomende terugslag was.”

Eileen vertel van die tasse vol speelgoed wat sy by wildvreemde mense gekry het nadat sy ontslaan is en verder by die huis moes gaan aansterk.

“En ons buurman in Montagu het my leer loop. Ek was agt jaar oud. Hy wou nie aanvaar dat ek nie kan loop nie en het my aangespoor – met ’n tiekie vir elke tree wat ek gee. Só het ek wel geleidelik begin loop.”

Ernie voeg by: “Ons hele gesin was baie beskermend teenoor Eileen. Ons het haar mooi opgepas; sy is eintlik bederf!”

Eileen beaam dit: “Ja, ek is bederf. Alles wat ek gevra het, het ek gekry. Ek is eers op agt skool toe. Baie kinders het my skeef aangekyk omdat ek so klein was. Hoewel ek aanvanklik ’n bietjie met die skoolwerk gesukkel het, het ek gelukkig gou genoeg ingehaal.”

Eileen het haar ten volle uitgeleef, gesien in die lig van prof Barnard se uitsprake oor haar beperkte lewensverwagting. Sy wou alles doen waarvan sy gehou het.

Nadat haar ouers oorlede is, het sy by Ernie in Montagu ingewoon. Sy het haar hoërskooljare by ’n huishoudkundeskool in Riebeek-Wes deurgebring.

Dankbaar vir genadetyd

Eileen het 16 jaar geword, en sy was gesond. Ernie het later vir haar ’n werk in Montagu gekry en sy het weer by hom kom woon. Later het sy by ’n losieshuis op die dorp ingetrek. Sy was 36 jaar oud toe sy met Pieter Smit getroud is. Hulle vier binnekort hul 34ste huweliksherdenking.

Eileen het prof Barnard jare later weer raakgeloop. Sy vertel: “Ek was met die bus op pad Kaap toe, en op Touwsrivier het ek hom en sy een seun by ’n winkel sien uitkom. Ek het na hom toe geloop en vir hom baie dankie gesê dat hy my lewe gered het.”

Oor haar geloofspad sê Eileen: “Ek het van kleintyd af in die Here geglo, maar nie regtig my geloof uitgeleef nie. Nadat ek getroud is, het ek opnuut besef hoeveel keer die Here my lewe gered het – die hartoperasies, die motorongeluk, ’n noodoperasie om my blindederm te verwyder, en ’n rugoperasie.

“Toe het my lewe radikaal verander. Ek het ál nader aan die Here gegroei. Ek het by ’n selgroep aangesluit en later ’n groepleier geword.

“Ek het na aan die Here geleef. Hy het my gewys vir wie ek moes bid; dit was telkens iemand wat met ’n probleem geworstel het. Op dié manier het my geloof gegroei.

“Ek wil ’n verskil aan ander mense se lewe maak. Ek het ook ’n groot begeerte om die Woord te verkondig en te versprei.

“Tans hou ek my besig deur boeke met Christelike teksboodskappe saam te stel en dit aan bejaarde mense te gee om hulle te bemoedig. Daar was ’n rede waarom die Here my nie op 16 kom haal het nie …

“Drie maande gelede was ek vir ’n ondersoek by ’n bekende kardioloog in Somerset-Wes. Toe ek hom vertel dat ek as kind ’n opehartoperasie ondergaan het, wou hy dit nie glo nie. Hy kon glad nie agterkom dat daar ’n operasie gedoen is nie; hy kon ook geen fout by my hart vind nie.

“Menslik gesproke moes ek jonk-jonk gesterf het, maar God het beter geweet. Hy het my sewentig jaar lank gespaar. Ek is springlewendig en gesond. Hy is ’n God van wonderwerke; ek is ’n klinkklare bewys daarvan.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.