Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Ek speel weer viool saam met my dogtertjie,’ vertel 42-jarige vrou ná Covid-19, ’n beroerte en drie breinoperasies

DEUR ANNATJIE BOUWER

Ons was almal bang vir Covid-19, maar in ons familie het ons eers werklik van die komplikasies en die verskillende “gedaantes” van Covid-19 bewus geword toe my pa oorlede is. Ek het wel nooit gedink ek sou kort daarna ook Covid-19 opdoen en in die hospitaal opgeneem word weens ’n suurstoftekort nie.

“Die Here se genade met my herstelproses, en hoe hierdie gedeelte van my lewensverhaal verloop het, het my uitkyk op die lewe vir altyd verander. Ek sal niks ooit weer as vanselfsprekend aanvaar nie,” vertel Annatjie Bouwer van Bloemfontein. Foto: Leani Photography

Maar ná ’n week in die hospitaal was ek reg om ontslaan te word, al sou dit ook beteken dat ek steeds bykomende suurstofbehandeling moes ondergaan.

‘Maar …’

My “herstel” was egter van korte duur. ’n Hoofpyn, wat my laat voel het asof my kop gaan bars, het alles verander. ’n MRI-skandering het bevestig dat ek ’n beroerte-aanval gehad het. Dat die bloeding in my brein trouens beroertes op twee plekke veroorsaak het. Dit was ernstig, inderdaad lewensgevaarlik, maar die dokters kon nie dadelik opereer nie aangesien ek bloedverdunners gebruik het weens die gevaar van bloedklonte in my longe.

Maar nadat my toestand binne ’n paar uur drasties verswak het, het die chirurge ’n berekende risiko geneem en besluit om wel te opereer. Die vernaamste oorwegings was natuurlik om my lewe te red, maar ook om soveel moontlik van my liggaam se normale funksionering te behou. Ek is immers slegs 42 jaar oud en het twee klein kinders, onderskeidelik nege en vyf jaar oud.

Ná die operasie het ek ’n paar dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring, en ek het beleef hoe ek deur gebede van bekendes (en baie onbekendes!) gedra word. Daar was foto’s van my kinders langs my bed, saam met ’n houtkruis en dié woorde uit Romeine 5:11: “Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.”

LEES OOK: ‘My aanvaller se oë het soos die duiwel s’n gelyk’

Ek het baie nagmerries gehad, maar ek onthou ’n besonderse droom, ’n mooie: twee spierwit husky-honde wat om my speel, wat eintlik die plek van my voete ingeneem het. Dit het gevoel asof die Here my ’n teken gegee het dat ek weer normaal sou kon loop.

Die lang pad

Daar was in daardie stadium steeds baie Covid-19-gevalle in ons omgewing, en alhoewel besoeke in die hospitaal beperk is, was ek gelukkig genoeg om een keer per dag een besoeker te mag ontvang.

My man het pakkies by die hospitaal se ontvangstoonbank gelaat wanneer ek iets ekstra nodig gehad het. My familie het my ook via die hospitaalsaal se koordlose telefoon gebel, want ek kon nie my selfoon hanteer nie.

Annatjie Bouwer en haar gesin. Foto: Leani Photography

Ek het egter meestal aan die slaap geraak terwyl ons oor die foon gesels het. Wanneer ek probeer het om ’n boodskap te tik, het ek onherkenbare onsin geskryf, of die selfoon het uit my dom hande geval.

Ek is wel later na ’n gewone saal oorgeplaas, en ná ’n paar dae is ek ontslaan en na ’n rehabilitasiesentrum gestuur. In hierdie stadium kon ek glad nie sonder hulp regop sit nie, ek kon nie loop nie en ek kon ook nie my linkerarm gebruik nie. Kognitief gesproke was ek “stadig” en het byna soos ’n kind gefunksioneer en gereageer.

Ek kon op ’n manier praat, maar dit het glo byna ’n minuut geduur voordat ek ’n vraag kon beantwoord. Hiervan was ek totaal onbewus.

Die mense om my, en natuurlik my familielede, kon wel duidelik agterkom daar is fout wanneer ons deur middel van video-oproepe gekommunikeer het. Ek kon steeds nie self sulke oproepe maak nie en die terapeute het namens my gebel sodat ek met my familie en my kinders kon gesels.

“Daar was foto’s van my kinders langs my bed, saam met ’n houtkruis en dié woorde uit Romeine 5:11: \’Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het,\'” vertel Annatjie. Foto verskaf

Die rehabilitasiesentrum het, anders as die hospitaal, geen besoekers toegelaat nie. En al het ek geweet wat gebeur het, was dit asof ek nie die omvang van die situasie heeltemal kon begryp nie. Ek reken nou dit was omdat die Here my beskerm het, deurdat Hy my nie laat besef het wat ek werklik deurmaak nie.

Die moontlikheid dat ek nooit weer normaal sou kon loop nie, of motor bestuur, of my werk doen, of my kinders met albei arms ’n drukkie kon gee nie, het nooit eens in my gedagtes gekom nie. Ek kon byvoorbeeld nie verstaan waarom daar so geld gemors word op volwasse doeke vir my nie …

Ek dink nou dat as ek destyds besef het wat werklik aan ’t gebeur was, en wat die normale vooruitsigte op herstel ná ’n beroerte is, dit my depressief sou gemaak en my rehabilitasie erg geknou het. My enigste wens in daardie stadium was om weer vir my kinders ’n broodjie te kon smeer sonder om aan die slaap te raak.

Ek het die veiligheid en die omgee by die rehabilitasiesentrum hoog op prys gestel. Ek het ook ’n wonderlike vriendin daar ontmoet. Sy het byvoorbeeld gesorg dat ons twee elke aand, saam met die ander pasiënte in die kamer en die verpleegpersoneel aan diens, nagmaal vier.

‘Wees stil en weet …’

Ná die eerste operasie het die liedjie “Wees stil en weet, Ek is die Heer” in my kop bly draai. Een oggend in die rehabilitasiesentrum het een van die pasiënte in ons kamer gesê daar was in die nag ’n engel by haar bed. Die engel was in ’n helder lig en het gesing: “Be still and know that I am God”.

Daardie einste dag het my ma ’n veertjie gekry tussen die wasgoed wat ek huis toe gestuur het. Vere was vir ons nog altyd ’n teken van engele se teenwoordigheid.

Ek onthou ook iemand wat by my kom kuier het (onthou dat daar geen besoekers toegelaat is nie …) wat gesê het sy speel in ’n simfonieorkes en sy hoor ek en my dogtertjie speel viool. Sy wou hoor hoe dit gaan en het my bemoedig. Ek het almal gevra of hulle dalk so iemand gestuur het om my te bemoedig, maar niemand het nie. Ek weet tot vandag toe nie of dit ’n “werklike” besoeker was nie.

Ná ’n floute in die rehabilitasiesentrum se gimnasium het die medici vasgestel daar is ’n abses in my brein. Die gevolg was ’n tweede operasie – en weer die paadjie van intensiewesorgeenheid, gewone saal en die plan om na die rehabilitasiesentrum terug te keer.

Ek het natuurlik baie daarna uitgesien om weer tot by laasgenoemde te vorder en het allerhande planne gemaak. In daardie stadium kon ek al op ’n manier regop sit en met ’n loopraam oor die weg kom.

Ek kon nie wag om met die loopraam by die rehabilitasiesentrum in te stap en almal weer te sien nie. Maar die dag voordat ek uit die hospitaal ontslaan sou word, besluit die chirurg om weer te opereer aangesien ’n infeksie in die wond nie wou opklaar nie.

Dié teleurstelling het my moed gebreek. ’n Derde breinoperasie het gevolg, nog ’n paar dae in die intensiewesorgeenheid, en weer terug na die gewone saal toe. Maar daar was geen werklike vooruitsig dat ek spoedig na die rehabilitasiesentrum sou kon gaan nie, die plek waar ek so veilig gevoel het.

Dit was in dié tyd dat ek diep moes delf in my gemoed en my geloof, bloot om te kon wakker word elke dag, om te wil eet. Niks was meer vir my lekker nie. Die verlange na my familie, my huis en my kinders was oorweldigend. Ek was moeg daarvoor dat ander mense my was en aantrek.

Op ’n dag kon ek nie meer verder nie, en die Heilige Gees het my gelei om te besluit om alles in God se hande oor te gee. Alles – my lyf, my gesondheid, my tyd en my planne.

Dit was nie lank nie of my infeksietelling het drasties begin daal, ek het sonder die loopraam begin loop, my balans het verbeter. Uiteindelik was ek gereed om ontslaan te word.

En ek is reguit huis toe na my gesin. Dit was nie eens nodig om ’n draai by die rehabilitasiesentrum te maak nie.

Genade onbeskryflik groot

’n Mens kan nie help om te wonder waarom slegte dinge dan met ’n gelowige gebeur nie. Iemand wat my tuis besoek het, het gesê dis sodat die werke wat God doen, gesien kan word (vgl Joh 9:3).

En eintlik is dit presies wat gebeur het, want almal – familie, vriende, kennisse en vreemdelinge – sou na my verhaal verwys en erkenning gee aan die Here se genade en aan die wonderwerk wat in my plaasgevind het.

Ek wil graag hê almal moet weet dat wonderwerke vandag nog gebeur. Almal moet weet wat die krag van gebed is. Ek was nie bloot “gelukkig” nie. Ek het nie “lig” daarvan afgekom nie; dit was vanweë gelowiges se gebede en die Here se genade dat ek herstel het.

Ek was twee maande lank in die hospitaal, en ek het ’n maand nadat ek ontslaan is weer begin werk. Dit is báie gou, verseker die kenners my.

Ek woon in Bloemfontein en help om kliniese navorsing oor nuwe medisyne te monitor. Ongeveer twee weke voordat my pa oorlede is en ek Covid-19 opgedoen het, het ek in ’n nuwe pos in die maatskappy begin. My werkgewer het al die siekteverlof toegestaan wat ek nodig gehad het, met behoud van my volle salaris. Ek het kognitief gesproke nog nie ten volle herstel nadat ek ontslaan is nie en ek was dus besonder dankbaar dat my werkgewer ingestem het om my op soveel gebiede tegemoet te kom.

Die Here se genesing was so wonderbaarlik dat ek vandag weer kan motor bestuur – al is dit onder toesig in spitsverkeer totdat ek dit weer gewoond geraak het. My werkgewer laat my toe om halfdag te werk sodat ek die terapie kon hervat en verder kon herstel.

Die Here se genade met my herstelproses, en hoe hierdie gedeelte van my lewensverhaal verloop het, het my uitkyk op die lewe vir altyd verander. Ek sal niks ooit weer as vanselfsprekend aanvaar nie.

Ek en my dogtertjie kon ongeveer agt maande ná die beroerte weer saam begin viool oefen, en dit is een van die kosbaarste geskenke ooit.

  • Deel jóú getuienis met LiG. Stuur in sowat 800 tot ’n 1000 woorde jou verhaal van hoop na lig@tydskrifte.co.za. Onthou ook om sowat twee goeie foto’s saam te stuur.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.