Die afgelope 14 jaar staan tannie Poppie met haar gevulde roosterkoeke langs die N1 in Laingsburg. Sy glo dat roosterkoek braai haar die geleentheid gee om moedeloses weer hoop te gee.
DEUR CONETTE LE ROUX
“Ek staan nie net hier vir roosterkoek braai nie. Ek is nie skaam om net hiér vir mense te bid nie.”
Tannie Poppie, met haar kenmerkende kappie, draai haar roosterkoeke behendig om terwyl sy haar storie vertel. Sy is een van Laingsburg se bekendste inwoners, en haar stalletjie lok toeriste en reisigers van oral.
LEES OOK: KYK: ‘Ek is uiteindelik vry om te wees,’ vertel vrou ná 40 jaar saam met ’n narsis
“God is nie skaam om my elke oggend wakker te maak nie. Hy is ook nie skaam om mense na my stalletjie te stuur nie. So, ek sal bíd.”
Die 66-jarige tannie Poppie, oftewel Rosaline van As, staan reeds die afgelope 14 jaar langs die N1 in Laingsburg. Skuins agter haar is die KFC en oorkant die straat die bekende Shell Ultra City.
“Jy kan haar selfs op Google Maps vind,” vertel ’n honger reisiger wat haar spesiaal kom opsoek op pad terug Potchefstroom toe.
Toe die man met sy vier roosterkoeke-en-kaas wegstap, vertel sy verder: “Ek gee brood vir die honger maag, maar ook lewende brood vir die siel. Soos die Gees my lei.”
“Ons maak ook grappies. En ons hou van ghaai,” sê tannie Poppie en wys na haar skoondogter, wat soos sommige van haar ses kinders en 18 kleinkinders dikwels by die stalletjie kom help.
’n Hartoperasie, ’n hartaanval én ’n dreigende egskeiding
Hulle kry ook met die klante se hartseer te doen. Tannie Poppie vertel van die vrou met die kleinseun wat ’n delikate hartoperasie moes ondergaan. “Ek het haar bemoedig terwyl ek haar bestelling voorberei het. Toe sy wegstap, het ek agter haar aan geroep en vir haar gebid.
“Sy het nou die dag kom vertel die operasie was genadiglik ’n sukses.
LEES OOK: ‘Ek was sonder hoop, maar God en my village het my kom optel,’ getuig vrou ná miskraam
“Net daarna kom twee vroue en ’n man by my aan. Hulle vertel hulle is ’n tydjie gelede as twee getroude paartjies, nogal twee broers en twee susters, hier verby. Maar die een broer is tydens hul vakansie aan ’n hartaanval oorlede. Ek het my onmiddellik in die weduwee se skoene geplaas en vir haar gebid.”
Dit was nog nie die einde van daardie dag se hartseer nie. ’n Man het nadergestaan en gevra of tannie Poppie vir die mense gebid het. Toe sy dit bevestig, vra die man of sy nie asseblief vir sy huwelik sal bid nie. “Ek merk toe die pragtige dogertjie wat in sy kar sit. En ek dink: Dis ons kinders wat swaarkry wanneer ’n man en ’n vrou mekaar verlaat.
“Ek het vir sy huwelik gebid. ’n Paar maande later het hy kom vertel die skeisaak het toe nooit die hof gehaal nie.”
Eie verdriet
Tannie Poppie ken ook hartseer en swaarkry aan eie lyf. Sy het sewe kinders gehad, maar een dogter is onlangs deur haar man doodgesteek.
Sy bekommer haar oor haar kinders wat sukkel om brood op die tafel te plaas. Want, sê tannie Poppie, hier is nie werk nie. En nog minder in Touwsrivier, waar die meeste van haar kinders bly. Hulle moet daarvandaan ryloop om by die roosterkoeke te kom hand bysit.
Die trane loop toe sy vertel dat haar geliefde man, Cornelius van As, twee jaar gelede aan longkanker oorlede is. Tannie Poppie is van haar eerste man geskei, met wie sy getroud is toe sy maar 15 was.
Daarna was sy 12 jaar lank alleen – “en ma én pa vir ’n klomp kinders”. Toe sy sonder inkomste was, het haar ouderling haar vertel van padwerk op die N1.
Sy lag as sy vertel: “Ek het baie hard gewerk en moes pik slaan sodat die gate in die pad reggemaak kon word. En Cornelius was toe my supervisor. Stréng.
“Later het ek en Cornelius op mekaar verlief geraak. Hy was ’n lam van ’n mens.”
‘Uithou. Aanhou. Moed hou. Vorentoe kyk’
Tannie Poppie vee weer trane af, werskaf by die roosterkoeke. En sy deel haar lewensleuse met my: “Uithou. Aanhou. Moed hou. Vorentoe kyk.”
Sy vertel hoe Covid-19 haar in ’n stadium moedeloos gehad het. Sy was lank sonder inkomste voordat sy weer na haar stalletjie kon terugkeer. Sy het self ook Covid-19 opgedoen en was baie siek.
Sake verloop nog nie so voorspoedig soos voor die inperking nie, vertel sy. “Voor die lockdown het ek 20 tot 30 kg meel geknie. Dis darem nou vakansietyd en dinge tel weer op. Ek het vanoggend 10 kg geknie.”
Tannie Poppie sê sy wil graag ander mense bemoedig. “Ons moet nooit hoop verloor nie. Wanneer ek wil hoop verloor, buig ek my knieë en roep tot my Meester.
“Iemand wat my getuienis gaan lees, het dalk reeds tou opgegooi. Onthou, jou probleme voel dikwels groot, maar daar is ander mense wat veel groter probleme as jy het.
“My raad is dat jy jou knieë voor God buig. Vra Hom wat jy nodig het. As ’n kind brood vra, gee ons dit vir hom. So sal God na jou luister as jy na Hom roep.”
‘Skryf tog vir mense sonder hoop …’
Met ’n vonkel in die oog vertel dié klein vroutjie van ’n droom wat sy koester: “My grootste begeerte is om dorpe te besoek met ’n voertuig en ’n woonwa, en dan roosterkoek vir sy inwoners of die besoekers te braai.
“En vanaand, wanneer ek my stalletjie afslaan, wil ek kerk hou. Of by die plaaslike kerk aansluit.”
Toe ek uitvra oor die paar roosterkoeke wat eenkant netjies in ’n plastieksakkie toegebind staan, vertel tannie Poppie: “Dis gister se roosterkoeke wat oorgestaan het. Dié gee ek weer vir iemand wat honger is.”
* Dis twee dae ná ons kuiertjie. Tannie Poppie bel uit Laingsburg: “Ek bel net om te hoor of u darem iets met my storie kan maak. Skryf tog daar dat mense nie moet moed opgee nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.