DEUR HELENÉ MEISSENHEIMER
Stan Potgieter van Pretoria se beste vriend is destyds voor sy oë doodgeskiet. Toe die weermaghelikopter later opdaag, moes die verwarde, bang 18-jarige soldaat hoor hy moet alleen agterbly, want hy “makeer mos niks” …
Eers sewe ure later is Stan opgepik en na die basiskamp geneem. Hier het die kapelaan met die peloton gesels en toe ’n gebed gedoen. Dit was al berading wat hy ontvang het. Die innerlike letsels wat hy oorgehou het, sou Stan, nou 56, sy lewe lank ry.
Die nuus wat hy vyf jaar gelede ontvang het dat sy soldaatmakker Hennie, wat ook die hinderlaag oorleef het, reeds op Kersdag 1995 sy eie lewe geneem het, het Stan laat wens hy kan iets doen om meer mense van posttraumatiese stressindroom (PTSD) bewus te maak. “Sodat mense kan verstaan ons mense wat daarvandaan (die grensoorlog) kom – ons pa’s, ons seuns – het probleme,” vertel Stan in ’n onlangse video-onderhoud.
LEES OOK: ‘Moenie vir kanker wag om God te leer ken nie,’ sê man ná kankerstryd
Sy blou oë onder sy netjiese, dik bos witgrys hare het ’n reguit kyk. ’n Mens kry die gevoel dat wat jy sien, is wat jy kry. Geen fieterjasies hier nie. Wanneer Stan begin praat oor hierdie saak wat hom so na aan die hart lê, kom jy gou agter dié is ’n man wat kán gesels. Die uurlange video-onderhoud is deur ’n string stemnotas gevolg.
Maar Stan is ook ’n doener. As hy besluit om iets te doen, soek hy ’n manier om dit te laat gebeur. Soos die 2 500 km lange fietsrit vanaf die Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument in Pretoria tot by Ondangwa aan Namibië se noordelike grens. Presies daar waar hy en drie van sy makkers 38 jaar gelede tydens ’n patrolliestap in ’n hinderlaag beland het.
‘Ek het gevoel dat ek nie alleen trap nie’
Liggaamlik gesproke was Stan nie die beste kandidaat om so ’n uitmergelende tog aan te pak nie. Hy het 31 jaar gelede sy rug die eerste keer erg beseer, en dit in Desember 2002 gebreek. Laas winter het hy elke dag vir die tog begin oefen.
Toe die groot dag vanjaar op 23 Mei aanbreek, het hy, tot sy verbasing, dit toe nie so veeleisend gevind om elke dag tussen 150 en 165 km op Merkava (“chariot of God”) te trap nie. Merkava is die naam wat hy vir sy spesiaal-omgeboude driewielfiets gegee het. Dié fiets weeg ’n allemintige 56 kg. Daarom is dit ook met ’n 750 watt 48 volt-motor toegerus, wat die trappery moontlik maak.
Stan is daarvan oortuig dis die Here wat hom die krag daarvoor gegee het, soos hy ook geen twyfel daaroor het dat God die idee vir hierdie fietsrit in sy hart geplant het nie. Hy vertel: “Ek het op daai trip gery en ek het gevoel, vele kere, dat ek nie alleen trap nie, want ek word nie moeg nie. Jy weet, vir ’n man van 56 wat 30 jaar nie fietsgery het nie … Iémand moes my gehelp het. En wie anders as my God?”
Daar was ook ander bevestiging van God se voorsiening. Baie mense wat vooraf beloftes van geldelike ondersteuning gemaak het, het dit nie nagekom nie. Toe hulle – hy op die fiets, en Pierre, sy broer se seun, in die begeleidende bakkie – uit die parkeerterrein by die Voortrekkermonument ry, het Stan slegs R46 in sy bankrekening gehad. Hulle het nie geweet waar hulle die aand gaan slaap nie; dit sou 124 km verder wees, op Rustenburg, hul eerste stilhouplek. Ook nie waar hulle die tweede aand, en daarna, sou tuisgaan nie. Maar vanaf daardie eerste dag tot aan die einde het vreemdelinge oral langs die pad na hulle uitgereik en hul huis vir hulle oopgemaak.
Die belewenis van soveel gasvryheid was vir Stan van die hoogtepunte in hul tog; dit oorskadu trouens nou sy oorspronklike doel. Hy vertel: “Ek het gedink ek gaan Namibië toe om my hart rustig te kry oor wat gebeur het. En ja, Hy het my daarmee gehelp, ek hét rustigheid gekry. Maar die Here het my ook ander dinge gewys …”
‘Die ding moet aangaan’
Die trauma wat hy as tiener in die weermag en op die grens deurgemaak het, het in die jare daarna in woedebuie en aggressie gemanifesteer. Naweke het hy uitgegaan om te drink en te baklei; dit was sy manier om te probeer wegkom van alles wat hom gepla en gejaag het.
Stan vertel dat die keerpunt so agt jaar gelede gekom het toe hy na ’n radio-onderhoud met die oudkapelaan en tans pastorale teoloog, dr Roelf Schoeman, geluister het. Hy het besef hy het hulp nodig. Dit het ’n lang terapie-pad ingelui wat sy lewe verander het. Dít, en ’n Christelike mannegroep saam met wie hy een keer per week ontbyt eet, en bid. Só het hy ook weer by die Here uitgekom. Een van daardie mannegroeplede het die driewielfiets vir hom uit ’n gholfkarretjie omgebou.
Die pelgrimstog het geskied onder die vaandel van Wear it for the Wounded, sy organisasie sonder winsbejag.
Stan se belewenis van die mense in Namibië het hom laat besef dat een van die dinge wat dit moeiliker gemaak het vir grenssoldate soos hy om weer in die samelewing aan te pas, die feit is dat Suid-Afrikaners eintlik ver van die oorlog was. “Ons mense is heelwat anders as die Suidwesters, want daai mense het grootgeword in die oorlog. Hulle het al daai dinge deurgemaak, hulle het dit verstaan. Ons mense het dit glad nie verstaan nie, want hulle was heeltemal weg van die oorlog. Hulle het veilig in Suid-Afrika gebly terwyl ons op die grens geveg het. Hulle het ons ook nie verstaan toe ons teruggekom het nie.”
In sy eie lewe wou sy vrou teen Oktober verlede jaar, ná 29 jaar, opgee met die huwelik. “Want sy was moeg vir hierdie bakleiery, en vir die oorlog wat daar in die huis aan die gang was.” Maar hulle is steeds saam. Een van die dinge wat haar nou help, reken Stan, is dat sy ander vroue ontmoet wat almal getroud is met iemand wat ook aan PTSD ly.
Stan se epiese fietstog het tot dusver meer as R36 000 opgelewer. Hy skenk die opbrengs aan organisasies wat hulle bemoei met mense wat aan PTSD ly.
Stan glo vas dis God se droom dat Suid-Afrika se mense maniere vind om die land saam op te bou. Dit maak hom opgewonde as mense hom nooi om sy storie te kom vertel – sommer vir ’n gemaklike “skouer-skuur”, soos ’n potjie-aand of ’n braai waar die manne én vroue saam kan luister na wat die Here vir hom gedoen het. Waar almal die vrymoedigheid kan hê om hul eie stories te vertel.
Intussen maak hy planne om terug te gaan, al is dit net tot in Botswana, en saam met ander, “want dis my passie, ek voel dit, dat ek op daai pad weer kan kom waar my God my gekry het, en dat ek ander mense neem sodat hulle dit ook kan beleef.”
Hierdie kombuiskasmaker is nog nie klaar getrap of gery nie. Dis soos die sanger Phillip Moolman sing in die liedjie wat hy spesiaal vir Stan se pelgrimstog geskryf het: “Daar gaan Stan, hy ry vir man en vrou en kind
om genesing vir ander se wonde te vind …”
- Phillip Moolman is ook ambassadeur vir die Veterane Bystandsfonds.
- Mense wat met Stan Potgieter wil kontak maak, kan hom bel by 084 619 8222 en sy Facebookblad hier
- Klik hier vir ’n gratis aanlyn boek oor Stan se storie, sowel as wenke oor hoe om trauma te verwerk.
- Dr Roelf Schoeman het in 2014 die boek Weermagstories
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.