Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Ek wag al elf jaar op ’n skenker,’ vertel vrou met 3%-nierfunksie

DEUR CONETTE LE ROUX

“My niere is in hierdie stadium so groot soos rosyntjies. Ek beskik oor ongeveer 3% nierfunksie – wat eintlik maar geen funksie is nie. My niere het agt jaar laas urine geproduseer.”

Die 46-jarige Stella de Kock het op 35 uitgevind sy het eindstadium-nierversaking, ’n onomkeerbare toestand. Daar was, voor die diagnose, geen aanduiding dat daar dalk iets met haar niere skort nie. Stella vertel sy het wel op 16 April 2011 met ’n baie seer voet opgestaan. Sy is dokter toe. “Daar is bloed getrek, en ná ’n lang wagtyd het hulle my laat weet dat dit eindstadium-nierversaking is en dat ek na die hoësorgeenheid moet gaan.

“Ek het die volgende oggend daar ingestap en gehoop daar was fout met die bloedtoetse. Ek het tog geen ander simptome gehad nie. Die dokter het ’n sonar geneem en nog toetse gedoen – en die diagnose is bevestig.”

Stella ly aan geeneen van die toestande wat normaalweg met nierversaking geassosieer word nie – onder meer diabetes, hoë bloeddruk en vetsug. Die medici het haar situasie aan oorerwing toegeskryf. Stella vertel: “My pa is op 35 met nierversaking gediagnoseer, maar hulle kon nie die oorsaak daarvan vasstel nie. Hy is op 40 aan orgaanversaking oorlede. Omdat daar destyds nie ’n nadoodse ondersoek gedoen is nie, kon daar nie enige lig op sy toestand gewerp word nie.”

Teleurstellings, behandeling, beperkings

Stella, wat in Faerie Glen in Pretoria-Oos woon, wag reeds die afgelope 11 jaar op ’n moontlike skenker. “Ongelukkig is nie een van my familielede geskik om getoets te word nie: Hulle het óf nie die O-bloedgroep nie, óf het onderliggende mediese toestande wat hulle nie geskik maak om ’n nier te skenk nie.”

Drie van haar vriendinne het hulle ook reeds laat toets, maar ongelukkig was óf hul weefseltipe nie versoenbaar met Stella s’n nie, óf hul nierfunksie was nie na wense nie.

“Daar was ook ’n sogenaamde altruïstiese potensiële skenker, dit is ’n lewende skenker wie se identiteit nie verklap mag word nie. Maar ook haar nierfunksie was nie goed genoeg om ’n skenker te wees nie.”

Tans ondergaan Stella drie hemodialise-sessies per week, vier ure per sessie. Dit beteken 624 uur per jaar … Natuurlik is dit vir haar baie moeilik. “Dialise neem baie van jou tyd in beslag; jy moet byvoorbeeld vroeg opstaan. En al het jy tydens die behandeling ’n uiltjie geknip, is jy steeds moeg nadat alles afgehandel is.

“Die beperking op vloeistofinname is ook sleg. Alle vloeistof wat jy inneem, bly immers in jou lyf. Eintlik mag ek nie meer as 500 ml per dag inneem nie, en dit geld álle vloeistowwe – water, jogurt, koffie, noem maar op. Daar is ook streng beperkings op jou dieet. Sekere soorte vrugte is taboe, onder meer mango’s en avokadopere, vanweë hul hoë kaliuminhoud.”

Maar die bystand van haar man Nihan, haar ma en haar vriende gee Stella die moed om vas te byt. Sy is ook baie dankbaar vir die werk wat sy deur TELL doen. “Om steeds ’n bydrae te kan lewer, om ’n doel te hê waarmee ek soggens opstaan. Om te weet dat ek iets anders as dialise het wat vandag op my wag. Dis belangrik dat ’n mens jou kop besig hou.”

“Hulle moet weet wat jou wense is”

Stella is sedert 2019 die besturende direkteur van Transplant Education for Living Legacies (TELL). Dié nie-winsgewende organisasie lei bewusmakingsveldtogte en opvoedingsinisiatiewe rakende orgaan- en weefselskenking in Suid-Afrika.

Stella wil LiG-lesers aanmoedig om ’n gesprek aangaande orgaan- en weefselskenking met hul familielede te voer. “In Suid-Afrika moet jou familie toestemming gee vir orgaan- en weefselskenking ná jou dood. Dus is dit baie belangrik dat jou naasbestaandes op hoogte van sake is. Hulle moet weet wat jou wense is. Jou testament word eers twee weke ná jou afsterwe gelees, en dan is dit te laat vir orgaanskenking.

“Daar is geen ouderdomsbeperking vir ’n potensiële orgaanskenker ná sy of haar afsterwe nie. En selfs mense met chroniese siektes kan orgaan- en weefselskenkers wees. Daar is geen koste daaraan verbonde nie, ook nie vir die familie van die skenker nie; die koste vir die verwydering van organe en weefsel word deur die hospitaal gedek en dan van die ontvanger(s) verhaal.”

  • Indien jy belangstel om ’n lewende nierskenker te wees, stuur ’n e-pos aan deKock@tell.org.za. ’n Lewende skenker sal eers mediese toetse moet ondergaan om seker te maak sy/hy is gesond genoeg om met een nier oor die weg te kom.

*Die agt goue reëls vir niergesondheid

  1. Bestudeer en beheer jou bloeddruk

Kweek die gewoonte aan om jou bloeddruk gereeld te meet. Hoë bloeddruk kan jou niere beskadig en lei tot chroniese nierversaking, met ’n latere moontlikheid van eindstadium-nierversaking.

  1. Kry jou bloedsuikervlakke onder beheer

Baie diabete ontwikkel eindstadium-nierversaking. Dis dus baie belangrik om gesonde bloedsuikervlakke te handhaaf en jou nierfunksie gereeld te laat toets.

  1. Handhaaf ’n aktiewe leefwyse

Die volgende is maar enkele voordele van ’n aktiewe leefwyse:

  • dit help jou om ’n ideale/gesonde liggaamsgewig te behou
  • dit verlaag jou bloeddruk
  • die verlaag die risiko van chroniese nierversaking
  1. Gesonde, gebalanseerde dieet en liggaamsgewig

Die voordele van ’n gesonde dieet is vanselfsprekend. Dit kan die volgende siektes voorkom: diabetes, hartsiektes, en ander chroniese siektes verwant aan eindstadium-nierversaking. Jy plaas minder stres op jou organe deur ‘n gesonde gewig te handhaaf. Verminder jou soutinname na 5-6 gram per dag (dit is ongeveer een teelepel). Geprosesseerde en verwerkte kosse bevat baie sout; die beste is om, sover moontlik, vars bestanddele in jou maaltye te gebruik.

  1. Drink genoeg water

Jou niere sal jou ewig dankbaar wees as jy na hulle omsien. Deur genoeg water te drink, help jy jou lyf om ontslae te raak van oortollige minerale. Laasgenoemde sluit natrium, kalium en fosfate in wat jou organe kan beskadig.

  1. Moenie begin rook nie. Of hou dadelik op

Rook het tot gevolg dat minder suurstofdraende bloed na jou niere en ander organe vloei, en dit beïnvloed die organe se funksionering. Wanneer jou niere nie optimaal funksioneer nie, kan dit nie ontslae raak van oortollige gifstowwe en minerale nie.

  1. Vermy die gebruik van oor-die-toonbank anti-inflammatoriese medikasie

Indien jy gereeld oor-die-toonbank, nie-steroïede, anti-inflammatoriese medikasie gebruik (byvoorbeeld ibuprofen) kan jou gesondheid benadeel word. Chroniese nierversaking word ’n moontlikheid.

  1. Laat toets jou nierfunksie gereeld indien jy jou in enige van dié hoërisiko-groepe bevind:
  • diabetes
  • hoë bloeddruk
  • ’n familiegeskiedenis van niersiektes
  • vetsug

* Bron: Stella de Kock is die besturende direkteur van Transplant Education for Living Legacies (TELL).

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.