Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek was bang God straf my oor my buite-egtelike kind, maar Hy was elke tree by ons’

My swangerskap was nie naastenby soos ek gedink het dit sou wees nie. Dit was glad nie soos die stories wat jy hoor of lees, of soos dit in TV-programme of flieks uitgebeeld word nie.

Ek en my verloofde Jonré het op 6 Oktober 2022 uitgevind dat ons ’n baba verwag. Hoewel geloof vir my baie belangrik is, het ek en my verloofde voorhuwelikse seks gehad.

Die nuus oor die swangerskap was ’n groot skok. Op daardie Donderdag het die weer gelyk soos ek gelyk het – bleek en moeg. Ek het ná werk reguit na ’n apteek gegaan en ’n swangerskaptoets gekoop. Ek het sommer die toets in die apteek se badkamer gaan doen. Sonder om na die apparaat te kyk, is ek terug kar toe – en toe val dit uit die pakkie. Dit het gevoel asof my hart wou gaan staan, want daar het die twee pienk strepies na my gekyk.

LEES MEER: ‘Dis ’n moeilike pad, maar dis elke traan werd,’ sê jong vrou wat ouerskap alleen aanpak

‘God se genade het oor ons geskyn’

Dit was vir my baie erg om my ma te bel en die nuus oor te dra. Maar sy het dadelik na my toe gery en my kom ondersteun. Die Here het geweet om haar daardie soort rustigheid te gee, want dit was wat ek nodig gehad het.

Die swangerskap was vir seker nie deel van my en Jonré se twee jaar-plan nie. Ons het wel geweet dat alles sou uitwerk soos dit moes.

Ek het elke denkbare swangerskap-simptoom beleef – krampe, hoofpyn, naarheid, braking, noem maar op. Van vroegoggend tot laataand. Ek het in dié tyd 10 kg verloor.

Tydens die groot twaalf weke-ondersoek het ek gehoor dat daar moontlik ’n probleem by die plasenta kon wees, en dat die ruimte op die NT-skandering nogal groot was. Ons sou genetiese berading moes kry, en ek sou verdere toetse moes ondergaan. Dit alles sou ons voorberei indien iets sou skeefloop.

Ons het uit die staanspoor geglo dat ons ’n dogtertjie gaan hê. Toe ons egter uitvind dat ons ’n seuntjie verwag, was my hart stukkend.

Maar die genetikatoetse se uitslae het teruggekom, en God se genade het oor ons geskyn: Al die uitslae was negatief. Ons baba was gesond. Al wat ek moes doen, was om bloedverdunningsmedikasie te gebruik.

Saterdag 27 Mei 2023, tien oor een daardie oggend, het die kontraksies begin. Net toe ek gedink het al die seer van die swangerskap is verby, al die vrees, het alles weer teruggekeer. My bloeddruk het skerp gedaal. Af en toe het ek selfs my bewussyn verloor.

My moed het my so byna-byna begewe. Daardie besef dat jy nie eens jou eie liggaam kan beheer nie, maak my tot vandag toe angstig.

‘Toe het Jonré my hand gevat …’

Daar was die dokter wat my bemoedig het, my liggaam wat nie meer kon nie, die suster wat my gehelp het om te druk wanneer die kontraksies kom – en dan my verloofde … Jonré het na my gekyk, en sy oë was vol trane, vol vrees. Dit was die vrees dat nie ek óf ons seuntjie dié traumatiese gebeure sou oorleef nie.

Ek kon nie meer nie. Ek wou nie meer nie. Toe het Jonré my hand gevat, my in my oë gekyk en vir my gesê: “Asseblief, my lief! Jy moet!”

Ek kan onthou hoe ek na Jesus geroep het, gevra het dat Hy my moes help. En toe, sommer so, was ons seuntjie daar.

Die naelstring moes gou-gou geknip word, want klein Jeanru het gesukkel om asem te kry. Jonré het sy kop langs myne gesit en vir my gesê om te bid. Ek kon nie bid nie, ek het nie die krag daarvoor gehad nie. Maar Jesus het vir my krag gegee om te sing: “There is power in the name of Jesus.”

Toe sê die dokter: “Hy haal asem!”

Tydens die swangerskap het ek soveel keer gevoel dat die Here my straf omdat ons ’n buite-egtelike kind verwag. Ek het gedink dat ons deur al hierdie dinge moes gaan omdat ons nie volgens sy wil lewe nie.

Maar dit was nie so nie; Hy was elke tree by ons.

‘Wie sou kon raai …?’

Ek en Jonré het nou ’n dieper liefde en groter waardering vir mekaar ontwikkel. Ons geloof dra daartoe by dat ons meer geduld met mekaar het. Ons kommunikeer beter, en ons gaan na die Here toe wanneer dinge moeilik raak.

Ons maak mekaar se beker vol wanneer een van ons se vertroue of geloof nie so sterk is nie.

Ná my teleurstelling oor die geslag van ons baba, was Jonré die eerste wat ’n verhouding met ons seun opgebou het. Toe ek sien hoe hy dit doen, het dit vir my deure oopgemaak om dieselfde te doen.

Wie sou kon raai dat so ’n klein seuntjie my hart so gou sou steel?

Die Here het nie een keer ons hande gelos nie. Hy het deur die teleurstellings heen nooit gesê ons moet self sien kom klaar nie. Hy het elke tree saam met ons gestap. Hy is die rede waarom ons seuntjie gesond is.

Nee, God het my nie gestraf nie. Hy is die rede vir die vreugde ná die storm.

  • Chanté (23) en haar verloofde Jonré woon in Brackenfell. Sy is ’n tuisbly-ma vir hul vyf maande oue seuntjie Jeanru. Jonré is ’n bestuurder by ’n meubelonderneming.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.