“Sy is my ‘hero’. Ek dink dis die mees onbaatsugtige ding wat jy kán doen, want jy verwag niks terug nie.”
So sê Melinda Nel oor die persoon wat aan haar ’n hart geskenk het. Melinda en haar pa Tjaart vier vanjaar ’n gesamentlike 47 jaar van gesonde harte.
Tjaart se storie
Tjaart Steyn se lewe het op 21 onherroeplik verander. Hoewel sy borskaspyne reeds as tiener begin het, is dit nie destyds as ’n harttoestand gediagnoseer nie. Op sy vriendin se 21ste verjaardag het sy bors erg toegetrek. Hy is vir asma behandel en het nie veel daarvan gedink nie.
LEES OOK: ‘Hy is ’n God van wonderwerke,’ sê 70-jarige vrou wat nie ouer as 16 sou word nie
Kort daarna, tydens ’n vakansie op Mosselbaai, het sy hart egter heeltemal ingegee. Hy is op 24 Junie 1990 in die Groote Schuur-harteenheid opgeneem en daar moes hy hoor dat sy hart slegs vyf persent van sy optimale funksie haal. Dit was vir almal ’n groot skok. Wat nou?
Tjaart se naam is op die hartoorplantingslys geplaas, maar hy het besef dat die kanse skraal is dat ’n oorplanting betyds sou wees. Hy het maar 63 kilogram geweeg en was sonder energie of eetlus. “Ek kon eintlik glad nie eet of drink nie.”
Hy was egter baie gelukkig; sy naam was slegs ’n maand op die oorplantingslys toe ’n geskikte skenker gevind is. Tjaart beskryf dit as ’n wonderwerk. “Ek was voor die oorplanting feitlik bedlêend. Daar was nie meer gevoel in my arms nie en ek het my op die ergste voorberei.”
Op 15 September 1990 is die hartoorplanting uitgevoer. Dit was net betyds. Sy hart het gaan staan toe hy narkose vir die oorplanting ontvang het en die span spesialiste het hom summier aan ’n hart-long-masjien gekoppel.
Die oorplanting was ’n sukses en hy is skaars ’n week ná die operasie ontslaan. Hy was egter baie swak. “Maar dit het gevoel asof ek weer asem kry. Aanvanklik was ek maar skrikkerig, maar ek het gou besef ek is bevoorreg om te leef en dat ek elke geleentheid met albei hande moet aangryp.”
Die oorplanting het sy lewe verryk, sê hy vandag. Dit het hom geleer om elke dag voluit en met dankbaarheid te leef.
Tjaart lag lekker toe ek hom vra of hy vandag anders voel met ’n ander mens se hart wat in sy borskas klop. “Baie mense vra my daaroor! Maar nee, ek is nog steeds ek. Prof Chris Barnard het destyds gesê ’n hart is net ’n pomp.”
En sy nuwe hart klop nou al 33 jaar. Maar jy kan dit nie sonder jou geloof en jou familie doen nie, sê hy. Sy destydse vriendin Christel, wat later sy vrou geword het, was in dié tyd sy rots en anker.
Melinda se storie
Min het hulle egter geweet dat hulle jare later weer dieselfde pad sou moes loop. Die Steyn-egpaar het twee kinders, Frikkie en Melinda. Albei is baie aktief en sportief.
Melinda was baie lief vir dans. Sy was 12 jaar oud toe sy van ’n danskompetisie in Mauritius teruggekeer en daar rooi ligte begin flikker het. Sy vertel: “My hele bolyf het beweeg soos my hart geklop het. Ek het gedink dis nogal cool, maar my pa het dadelik die gevaartekens raakgesien.”
Tjaart het gesorg dat sy dogter onmiddellik ’n kardioloog besoek. Dié het medikasie voorgeskryf. Tjaart het egter onrustig gebly en hulle is oplaas na ’n pediatriese kardioloog in Bloemfontein om ’n tweede mening in te win. Daar is kardiomiopatie by haar gediagnoseer, presies Tjaart se vroeëre diagnose.
Eensklaps het die kind se lewe drasties verander. Sy is in die intensiewesorgeenheid opgeneem met hartversaking. Toetse het bevestig dat haar hart slegs 23 persent van sy optimale funksie haal.
Die Steyn-egpaar was platgeslaan. Tjaart sê: “Ek kon nie glo dat my kind dieselfde pad as ek sou moes loop nie. Ek het geweet wat vir haar voorlê.”
Melinda het, soos haar pa destyds, haar eetlus verloor. Sy was later so swak dat haar ma haar moes help bad en aantrek. Sy het maar 38 kilogram geweeg en het klere vir nege- en tienjarige kinders gedra.
Haar gesondheid het so vinnig verswak dat haar naam dadelik op die oorplantingslys geplaas is. Dit was Januarie 2009. Slegs ’n maand later het hulle die oproep gekry: Daar was ’n moontlike skenker. Maar die dokter het hulle gewaarsku om nie te opgewonde te raak nie; daar moes eers ’n klómp toetse op die hart uitgevoer word.
Hulle moes ook dadelik in die Kaap kom. Die vlug is egter weens gure weer ’n uur lank vertraag, terwyl die hart ook later as beplan geoes is.
Hulle is van die lughawe af reguit hospitaal toe, waar Melinda onmiddellik teater toe is. Sy onthou: “Daar was ’n groot digitale horlosie teen die muur. Ek sal die tyd nooit vergeet nie – dit was 19:44. Ek het Psalm 23 begin opsê: “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie …”
Tjaart sê die dokters en maatskaplike werkers was wonderlik. Hulle het die ouerpaar deurentyd op hoogte van sake gehou en hulle bemoedig. Hy vertel dat daar destyds met sy hartoorplanting nie sprake van maatskaplike werkers in die span was nie. “Hulle teenwoordigheid maak ’n groot verskil.” Hulle het byvoorbeeld aanbeveel dat Melinda se broer Frikkie ook Kaap toe moes kom sodat hy deel van die proses kon wees. “Jou aandag is so gevestig op die kind wat jou nodig het dat jy amper vergeet jy het twee kinders.”
Melinda was twee dae onder verdowing voordat sy haar bewussyn herwin het. Op die tafel by haar bed was ’n bordjie met tunabroodjies in driehoeke gesny. Haar eerste gedagte was: “Ek is honger!”
Die pad na herstel het begin.
Maar daar was komplikasies. Die skenkerhart was kleiner as haar eie, en daar het vog om die nuwe hart gevorm wat afgetap moes word. Dis egter gou onder beheer gebring, en ná drie maande se angiogramme en opvolgbesoeke kon hulle teruggaan Vryburg toe.
Melinda sê as jy so na aan die dood was, besef jy dat die lewe ’n voorreg is. “Ek het ’n noue band met die Here,” sê sy. “Ek weet hoe dit voel om amper dood te wees.”
Sy sê sy sou nie enduit kon volhou as dit nie vir haar geloof was nie. Sy vertel: “Ek is ’n baie positiewe mens, en ek het geleer om al my bekommernisse vir die Here te gee. Hy dra jou deur elke krisis. Jy kan tog nie oor iets bid en dan steeds daaroor stres nie.”
Melinda is vandag gelukkig getroud met JP Nel. Sy sê sy sou graag die familie wou ontmoet van die mens wie se hart sy ontvang het. Sy wil vir hulle dankie sê dat sy steeds kan leef. “Ek sou ook graag wou weet watter soort mens die skenker was, en ek sou vir hulle wou wys dat hul kind se hart ná 14 jaar steeds voortleef in my. Sy is my ‘hero’. Ek dink dis die mees onbaatsugtige ding wat jy kán doen, want jy verwag niks terug nie.”
Die bestaande wetgewing is egter baie streng oor sulke kontak; albei partye moet na ’n koördineerder uitreik voordat hulle mekaar mag ontmoet.
Melinda hoop wel dat ander mense deur haar en haar pa se onderskeie verhale sal besef hoe belangrik dit is om as orgaanskenker te registreer. Uit die hartseer en pyn van ’n geliefde se dood kan daar steeds iets goeds kom. Jy kan ’n lewe red.
* Vir meer inligting: Kontak die Orgaanskenkingstigting van Suid-Afrika by 0800 22 66 11.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.