DEUR MELANIE VAN WYK
Hierdie is mý lewe, maar dis God se storie:
Ek is getroud toe ek 30 was. Riaan Prinsloo was ’n wonderlike man. Ek het drie jaar lank vir hom gebid.
Ek was 32 toe ons dogtertjie gebore is. Ná haar geboorte het ek baie erge postnatale depressie opgedoen.
Vier jaar later is ons seuntjie Emmanuel gebore, en 18 maande ná hom klein Dawid. Dit was ’n baie moeilike tyd met drie kindertjies in die huis.
LEES OOK: ‘In ons swaarkry het ek God in al sy grootsheid ontmoet’
Dawid was slegs twee jaar oud – ek was 37 – toe ek ’n histerektomie moes ondergaan. Die operasie het goed afgeloop, maar twee weke later het daar komplikasies opgeduik en ek is weer in die hospitaal opgeneem.
Dit was baie erg, en ek het my begin verbeel ek sal nooit weer die hospitaal verlaat nie. Uiteindelik was ek net twee weke daar, en ek kon tuis gaan herstel.
‘Soms was daar slegs R50’
Ná hierdie trauma het ek vir my man gesê daar moet meer in die lewe wees as om bloot te werk om rekeninge te betaal, en dan te sterf. Ek het toe ophou werk as skoonheidsterapeut.
In daardie tyd het ons besluit om na Jeffreysbaai in die Oos-Kaap te verhuis. Ons droom was ’n rustiger lewe saam met ons kinders. Ons het in 2019 daar aangeland.
En toe gebeur iets wat ons nooit voorsien het nie: My man verloor sy werk. Dit was ons plan dat hy gereeld heen en weer tussen Jeffreysbaai en Gauteng sou pendel.
Daar sit ons toe – inkommers in ’n nuwe dorp, en sonder inkomste. Ek het geen ander keuse gehad as om by ’n salon te gaan werk nie. Dit was ’n moeilike tyd en sommige dae was daar slegs R50 in ons beursie wanneer ons by ’n winkel ingestap het. Daarmee moes ons vir ons kinders kos koop …
LEES OOK: Roggeveld-boervrou se ‘huis van gebed’ en hul droogte-wonderwerk
Agt maande lank het dit so gegaan. Maar ons het mekaar gehad.
En ons het God se genade beleef. Ons kinders het ons ook die moed gegee om aan te hou veg. Hulle het ons staande gehou.
‘Toe gebeur die ergste’
Maar die ondenkbare gebeur: In Maart 2020 tref die inperking ons. My man was steeds sonder werk, en ek toe ook.
God het elke dag voorsien. Ons het kos gehad, en ons hoef etlike maande ook nie huur te betaal het nie.
Op 17 Junie 2020 het die ergste gebeur: My 37-jarige man is in my arms oorlede – ’n hartaanval.
Daar sit ek toe, mamma-alleen met drie kinders en geen inkomste nie. Daar was nie eens ’n lewenspolis nie.
Die mat is onder my voete uitgeruk. Binne enkele oomblikke het my hele lewe soos handomkeer verander. Met pyn wat ek vir niemand kan beskryf nie, besluit ek toe om terug te trek Gauteng toe. Ek sou weer moes begin.
Om ’n geliefde aan die dood af te staan, is ’n seer wat ek nie my grootste vyand toewens nie. In die seerste tyd van my hele lewe kon ek nie anders as om by God se voete te gaan sit nie. En daar te bly.
Dis die plek wat ek gekies het om te gaan neerval, om Hom te loof en prys. Daar het ek gehuil, soms my voete gestamp, baie vrae gevra, en sommer net met Hom gepraat.
In dié tyd het ek geleer dat ons eintlik net aan mekaar geleen is, en dat mense oor jou pad kom om jou te help groei. Dat hulle jou dalk net bring by ’n plek waar jou volgende seisoen aanbreek.
Ongelukkig kom en gaan mense in jou lewe. Maar dis alles deel van God se plan vir jou lewe.
‘Hy het voorsien …’
Ná agt maande in Gauteng het my kinders gesê hulle wil teruggaan see toe. Ek was op ’n goeie plek in my lewe ná baie harde werk aan myself, en ek het besluit om terug te trek see toe. Ons wou graag daar gaan bly omdat dit so rustig is.
Deurentyd was ons Vader ons genadig. Hy het voorsien op maniere wat ek nie eens weet hoe om te beskryf nie.
En weer het my kinders my hoop gegee. Weer was hulle my dryfveer om nie moed op te gee nie.
In April 2021 is ons terug Jeffreysbaai toe. Die Vader het toe ernstig met my begin praat en gesê Hy wil vir my ’n man stuur, een wat my gaan liefhê en wat met die kinders sal help. Ek het natuurlik geweier, want ek het gevoel my man wag vir my in die hemel. En eendag, as ek ook huis toe gaan, sal ons weer verenig wees.
Maar Hy het met my hart gewerk en ek het begin sien wat Hy vir my beplan het. Ek moes leer gehoorsaam wees. Ek moes Hom toelaat om te voorsien soos Hy nog altyd voorsien het.
Ek moes leer dat Hy nie ophou voorsien nie. Dat Hy ons nooit los nie.
Hy het toe weer vir my ’n wonderlike man gestuur, my weer met liefde geseën. Ek is op Kersdag 2021 met Joey van Wyk getroud. Om vir ’n tweede keer liefde te vind … In my kop was dit onmoontlik.
‘Dankie, Vader!’
In dankbaarheid teenoor die Vader het ek gekies om my storie met ander te deel. My hoop is om ’n lig te wees vir diegene wat dalk ook ’n geliefde aan die dood afgestaan het.
Vandag kan ek sê dat my finansiële swaarkry my ’n les in geloof geleer het. En ek verruil my geloof vir niks. Ek het getuienis op getuienis van ons Vader se grootheid en goedheid in my lewe.
Ek sê elke dag: “Dankie, Vader, vir u genade en liefde. En vir elke dag se seën!”
- Melanie is op 6 Desember 1979 in Pretoria gebore. Sy het in dié stad skoolgegaan en later somatologie aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie studeer. Vandag bedryf sy weer haar eie skoonheidsalon in Jeffreysbaai. Sy noem dit Byooté (Hebreeus vir “prag” oftewel “beauty”) Women.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.